Hofaansoek teen ANC-konferensie ‘misluk’

Die lokaal nadat geweld uitgebreek het. Foto: Verskaf

ʼn Hofaansoek deur ontevrede ANC-lede in die Oos-Kaap om die uitslag van die afgelope naweek se provinsiale konferensie in Oos-Londen te betwis het in wese misluk, het die party se provinsiale sekretaris gesê.

Die uitspraak vir die aansoek, wat Sondag aangehoor is, is tot Maandag voorbehou.

Lulama Ngcukaitobi, die ANC se provinsiale sekretaris, het Sondag gesê die uitspraak sal slegs “ʼn akademiese oefening” wees aangesien die konferensie afgehandel is. “Die sleutelprobleem is dat die aansoeker ʼn interdik wou kry om die konferensie te verhoed en die konferensie kom vandag [Sondag] tot ʼn einde. Daarom, aangesien die uitspraak tot Maandag voorbehou is, het die aansoeker reeds die saak verloor,” het hy gesê.

Die aansoek is deur die Oos-Kaapse prokureur, Mvuzo Notyesi, ingedien. Ngcukaitobi en die nuutverkose provinsiale voorsitter van die ANC, Oscar Mabuyane, het gesê Notyesi “is berug daarvoor dat hy sake teen die ANC indien”.

“Hy het al 14 hofaansoeke teen ons ingedien, maar hy het almal verloor,” het Ngcukaitobi gesê. Mabuyane het gesê hy is al “weke lank bewus” van Notyesi se plan om ʼn interdik teen die konferensie aan te vra.

Een van die beseerdes nadat ‘n bakleiery by die konferensie uitgebreek het. Foto: ANA

Maroela Media het vroeër berig die konferensie by die Oos-Londen Internasionale Konvensiesentrum was gekenmerk deur lang vertragings van verifikasie van afgevaardigdes en voorvalle van geweld. Die konferensie het Saterdagaand in totale chaos ontaard toe ANC-lede begin het om stoele en ander voorwerpe na mekaar te slinger weens meningsverskille oor die leierskapstryd in die provinsie.

Minstens agt afgevaardigdes is beseer en moes na ʼn hospitaal geneem word.

Mabuyane, voormalige sekretaris in die provinsie, is tot provinsiale voorsitter verkies in ʼn oorwinning van 931 stemme teen 7 stemme vir Phumulo Masualle, die huidige uittredende voorsitter. Mlungisi Mvoko is tot adjunkvoorsitter vir die provinsie verkies met 935 stemme.

Ngcukaitobi is tot provinsiale sekretaris verkies met Helen Sauls-August as adjunksekretaris. Babalo Madikizela is tot die provinsiale tesourier verkies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jaco ·

waarom split die ANC nie net nie? Daars ‘n wye keuse vir die wegbrekers: COPE, die EFF, Agang die IVP en selfs die DA.

Boet Fasie ·

Hulle wil almal eerste klas ry op die soustrein , sien nie kans vir tweede en derdeklas nie , pay is te min .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.