Hofaksie oor Unisa wil wegdoen met Afrikaans

Unisa-kampus. Foto: Izelle Jacobs / Unisa

Unisa-kampus. Foto: Izelle Jacobs / Unisa

Die burgerregte-organisasie AfriForum sal Dinsdag ’n dringende aansoek by die Pretoriase hooggeregshof indien om die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) te verhoed om ʼn nuwe taalbeleid, wat met Afrikaans as onderrigmedium wegdoen, in te stel.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die nuwe taalbeleid bepaal dat Engels van 2017 af die enigste taal van onderrig sal wees.

“Unisa is die enigste opsie vir talle Afrikaanssprekendes om hulle kwalifikasies te verbeter. Die universiteit het ʼn unieke studentekorps. Daar is baie ingeskrewe studente wat eers later in hulle lewe in moeilike persoonlike en finansiële omstandighede begin studeer,” verduidelik sy. “Van hulle woon in landelike omgewings of selfs buite Suid-Afrika en werk voltyds. Die ander universiteite in die land bied dus geen moontlikhede vir hulle om te studeer nie. Juis daarom is dit noodsaaklik om hulle taalregte te beskerm.”

AfriForum se teenkanting teen Unisa se nuwe taalbeleid volg enkele dae nadat die organisasie se vorige regsaksie teen die senaats- en raadsbesluit oor die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat (UV) geslaag het. Nadat AfriForum hom tot die Vrystaatse hooggeregshof gewend het, het die hof Donderdag beslis dat die UV se besluit oor sy nuwe taalbeleid ter syde gestel word. Die universiteit het egter Vrydag aangedui dat hy teen die hofuitspraak sal appelleer.

Volgens Bailey onderstreep die Kovsies-hofuitspraak dat ʼn universiteit ʼn grondwetlike plig het om onderrig in die taal van studente se keuse aan te bied waar dit prakties uitvoerbaar is, asook dat dit praktiese uitvoerbaarheid bewys indien onderrig reeds aan die betrokke instelling in Afrikaans aangebied word.

“In 2015 het meer as 30 000 Unisa-studente aangedui dat hulle moedertaal Afrikaans is. ʼn Verdere 7 000 studente het genoem dat hulle Afrikaans én Engels by die huis praat. Nagenoeg 24 000 studente ontvang tans onderrig in Afrikaans aan Unisa,” het sy gesê.

Afgesien van AfriForum se besware dat die universiteit Afrikaanse studente se taalregte skend, voer die organisasie ook aan dat Unisa gebrekkige prosedures gevolg het in die aanvaarding van die nuwe taalbeleid. Geen openbare raadpleging is onder meer gevolg nie, hoewel die beleidsverandering Afrikaanssprekende studente ingrypend raak.

AfriForum sal ook die universiteitsenaat en -raad se besluite oor die taalbeleid self met regsaksie probeer omkeer, soos wat in die geval van die UV gebeur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Tiaan ·

Dit lyk my al meer SA wil hê Afrikaanse burgers moet nou regtig onafhanklikheid iewers win en afskei van SA, hulle is net te skaam om dit direk vir ons te sê. Ons betaal seker nie genoeg belasting nie of beskadig te veel infrastruktuur met brandstigting.

Pops ·

Ja-nee regtig hoor!!! Mense studeer deeltyds by Unisa, so wat het Afrikaans of Engels met die hele situasie te doen. Dit is nie asof iemand ‘n klas/lesing moet gee in meer as een taal nie. Dit is net handboeke en studie-gidse wat gedruk moet word. Maar so moet al die leerinstansies maar aangaan, al hoe meer Afrikaanse Universiteit gaan gestig word, en dan sit al hierdie slimmes met hulle vingers in hulle ore. Want niemand gaan meer by hulle Universiteite of instellings wil studeer nie. Kom ons wag en kyk maar.

Kobus ·

Ek moes al in 2013 al my vakke in Engels skryf want ek het agter gekom dat jy makliker eksamen slaag asjy in Engels skryf.Dit het ek vermoed is omdat die klomp wat jou Eksamen merk nie Afrikaans kan lees of skryf. As doesente met jou kommunikeer was dit ook meestal in Engels .Sommige handboeke was ook net in Engels biskikbaar en daar was nie tyd om die vertaling spelletjie te speel.

Koos ·

Totale aanslag teen Afrikaans solidariteit/Afriforum doen uitstekende werk maar moet miskien begin om eie instansies op te bou al wen hulle die taal kwessie wat maak hulle oor die standaarde wat net meer agteruitgaan wat help dit jy sit oor dertig jaar met ‘n klomp dom Afrikaners met goeie kwalifikasies.

Berhalet Beukes ·

Doen dan sommer met alle tale weg dan praat ons almal vingertaal!

Loeis ·

‘n Familielid van my het so paar jaar terug by UNISA vir ‘n graad gaan inkryf. Die persoon agter die registrasietoonbank het na sy matrieksertifikaat (in Afrikaans) gekyk en hom meegedeel dat hy ‘n vertaling moet kry want sy sertifikaat is in ‘n “foreign language”. Na ‘n stryd het iemand anders haar ingelig dat die taal Afrikaans is, en dat dit ‘n amptelike landstaal is.

Wat kan mens se?

Theresa ·

Hoop ‘n gesaghebbende van UNISA lees die kommentare. Hoe op aarde wil jul minstens 24 000 studente se voorreg om in Afrikaans te mag studeer nou kortwiek? Hoop werklik jul is groter in verstand as dit, want dis bloot ‘n modegier en baie gemeen. Jul sal bloot wen deur om die onderrigmedium te behou. Waarom so dwars? Belaglik as jy my vra.

Wern ·

Kom ons onttrek en sit al ons aandag op Akademia, laat unisa net nog n piesang skooltjie word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.