Hofbevel nodig om hospitaalverslag te kry

Izak van Zyl (52) voor die operasie.

ʼn Man van Middelburg se gesin moes hulle eers tot die hooggeregshof wend voordat die Steve Biko Akademiese- hospitaal (SBAH) in Pretoria eindelik die verslag oor sy angiogram aan ʼn private hospitaal in die stad beskikbaar gestel het.

Izak van Zyl (52), stigter van die Boerelegioen, kon Maandagoggend eindelik ʼn viervat-hartomleiding ondergaan nadat hy die afgelope paar weke verskeie hartaanvalle gehad het, het sy vrou, Marinda, gesê.

Dokters by die private hospitaal het die verslag nodig gehad om vas te stel presies waar Van Zyl se hart beskadig is. Volgens Marinda kon daar nie so gou ná die eerste angiogram weer ʼn soortgelyke toets gedoen word nie, en moes die verslag dus by die staatshospitaal gekry word.

Daar is hulle egter van bakboord na stuurboord gestuur.

Marinda het gesê Izak het op 29 April ʼn hartaanval gehad en is daarna na SBAH waar hulle bevind het hy moet ʼn drievoudige hartomleiding ondergaan. Hy sou op 22 Junie geopereer word, maar weens die Covid-19-pandemie is alles behalwe noodprosedures by die hospitaal gestaak, het Marina gesê.

“My man het gevra of is ʼn driedubbele hartomleiding nie ʼn noodgeval nie, nadat ʼn dokter vir hom gesê het hy is ʼn tikkende tydbom.”

Van Zyl is op 23 Junie ontslaan, maar het al hoe meer verswak. Hy is intussen weer na sy huisdokter wat aanbeveel het dat die operasie so gou moontlik gedoen word.

Izak van Zyl en sy vrou, Marinda.

Marinda sê sy het in hierdie stadium begin geld insamel om Izak in ʼn private hospitaal te laat opneem. Mense het hul harte oopgemaak en geld geskenk, maar dokters by die Unitas-hospitaal het egter steeds dringend die angiogram-verslag benodig.

Marinda sê SBAH het aanvanklik betaling van R450 vereis om die verslag beskikbaar te stel. Van Zyl se dogter, Martie, het van Rustenburg gery om dit op te laai, maar sy kon ook nie hond haaraf maak nie. Amptenare het daarna gesê Martie moet ʼn aansoek indien om die verslag te bekom. Daarna het hulle gesê Van Zyl moet sélf aanmeld om die verslag te kry.

“Hy het in daardie stadium in die hoësorgeenheid aan masjiene gekoppel gelê, maar hulle het gesê dit is protokol,” het Marinda Maandag vertel.

Martie is daarna na ʼn ander afdeling verwys, waar sy volgens Marinda beveel is om nou R750 vir die verslag te betaal. Later is sy egter meegedeel dat die verslag staatseiendom is en nie uitgegee kan word nie, het Marinda gesê.

Donderdag het Marinda haar uit desperaatheid tot die Pretoriase hooggeregshof gewend en in ʼn dringende aansoek teen die LUR vir gesondheid in Gauteng en die uitvoerende hoof van die SBAH gevra dat die hospitaal die verslag beskikbaar stel.

Die hof het die aansoek toegestaan en Marinda kon die verslag ten einde laas die afgelope naweek bekom.

“Die dokter [by Unitas] het my man gisteraand gebel en gesê hy het die verslag deeglik bestudeer en die drievoudige hartomleiding wat SBAH wou doen, sou nie voldoende gewees het nie. Hy het ʼn viervat-hartomleiding nodig,” het Marinda gesê.

“Hy is op die oomblik in die teater.”

Marinda sê benewens die geweldige onkoste wat hulle moes aangaan om Izak veel langer in die hospitaal te hou terwyl daar geskarrel is om die verslag te kry, was die gebeure geweldig traumaties.

“Dit kos ons geld wat ons nie het nie, maar dit is nie die punt nie. Dit is ʼn mens se lewe wat hulle daar in hulle hande het. Ons wil nie eens oor hierdie verskriklike week praat nie,” het sy gesê.

Sy het gesê weldoeners het onder meer die deposito vir die private hospitaal voorgeskiet, maar die koste vir die prosedure kan eindelik meer as R600 000 beloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Trotse Boervrou

Skande! Skande! Skande! Belaglik! Ek is lus en haal ‘n woordeboek uit en skryf elke liewe negatiewe woord daarin neer. Ek besef egter dat geen woordeboek genoeg woorde het om die Suid-Afrikaanse Regering te beskryf nie.

Ons bid vir julle gesin Marinda maar veral vir Izak. Sterkte met jul pad vorentoe.

JohanR

Dankie tog die man is nie by Steve Biko geopereer nie! Steve Biko is ons almal se voorland as die ANC se NGV beleid word. Maar dit was in ‘n tydperk ‘n wonderlike hospitaal, maar toe was die naam H F Verwoerd Hospitaal. My 90 jarige Ma wat nie medies het nie, is vrek bang om daar te moet oornag. Sy se jy kom nie weer lewend daar uit nie!

Jackie

Ek hoop van harte dat sy operasie suksesvol is en hy goed herstel. Sy omstandighede is weereens n bewys hoe noodsaaklik n mediesefonds is, al is dit dan net n hospitaalplan

Pieter

Gemors staat en enige iets Anc gebonde.

Misky

Ek is bevrees dis ons almal se voorland en as die gespuis hulle sin kry en NGV ingestel gaan word. Die blankes se leers en belangrike toetse gaan net so stil-stil wegraak en ons gaan vergete daar le en wag vir die nodige mediese hulp