Hofdatum bekend vir Oscar-appèl

Oscar Pistorius tydens sy moordverhoor. Foto: Alon Skuy/Times Media Group/Pool

Die staat se appèl teen Oscar Pistorius se vonnis vir moord sal op 3 November aangehoor word.

Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media gesê die appèlsaak sal deur adv. Andrea Johnson hanteer word.

Adv. Gerrie Nel was voorheen die hoofstaatsaanklaer in die saak, met Johnson en adv. David Broughton wat saam met hom aan die saak gewerk het. Johnson het intussen as hoofstaatsaanklaer in die saak oorgeneem, nadat Nel by die NVG bedank het. Nel het hom in Februarie vanjaar by die burgerregte-organisasie AfriForum aangesluit as hoof van die organisasie se private vervolgingseenheid.

Die NVG het in September verlede jaar ʼn aansoek by die appèlhof in Bloemfontein ingedien om teen Pistorius se vonnis van ses jaar tronkstraf te appelleer, nadat regter Thokozile Masipa in Augustus 2016 die staat se aansoek om verlof tot appèl in die hooggeregshof, met koste, van die hand gewys het.

Die staat versoek ʼn swaarder vonnis vir die voormalige Paralimpiese atleet vir die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag 2013 in sy huis in Silver Lakes, Pretoria. Pistorius is aanvanklik skuldig bevind aan strafbare manslag, maar die skuldigbevinding is later na moord verander.

Masipa het Pistorius in Julie verlede jaar tot ses jaar tronkstraf gevonnis vir moord. Sy het tydens die vonnisoplegging gesê lang tronkstraf sal nie geregtigheid tot gevolg hê in Pistorius se geval nie en dit is onwaarskynlik dat hy weer ʼn oortreding sal begaan.

Die staat het tydens die appèl-aansoek aangevoer die hof het fouteer deur te bevind lang tronkstraf sal nie geregtigheid tot gevolg hê in Pistorius se geval nie. Nel het destyds gesê die hof moes meer klem geplaas het op die voorsienbare gevolge van Pistorius se dade en die dolus eventualis-aspek van die saak.

Adv. Barry Roux, Pistorius se regsverteenwoordiger, het in antwoord op Nel se betoog gesê die staat is bevooroordeeld teenoor Pistorius. “Deur te sê die beskuldigde het ʼn ‘mate van spyt’ oor sy optrede, terwyl Pistorius erg [in die hof] gehuil het en duidelik gebroke was, wys net die staat se vooroordeel,” het hy gesê.

Lees alle vorige berigte oor Oscar Pistorius op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Hanna ·

Hoop die saak kom nou tot n einde. Hy het mos nou sy straf uitgedien. Waarom aanhou daarmee.

Alida ·

Ek stem saam. Ek hoop tog nie ons gaan nou weer ELKE dag nuus oor Oscar lees nie. Genoeg is genoeg. Berig eerder oor die spul gevangenisse wat daagliks ontsnap. Daar is baie ander nuus.

Gerd Lourens ·

Sluit die veroordeelde moordenaar toe vir tenminste 25 jaar!

Lcom ·

New Hanna,ses jaar is nie straf vir moord nie. Kan by dink as dit iemand na aan jou is wat vir moor was. Ek glo jy sou aangedring het op geregtigheid met n swaar straf.

Rynoster ·

Het hy sy straf uitgedien? Rerig?
Hy het iemand koelbloedig vermoor, iemand se kind wat haar hele lewe voor haar gehad het.
As dit jou kind was, sou 4 jaar vir jou kind se moordenaar genoeg gewees het? of 6 jaar soos wat hy huidiglik gekry het?

Cherokee ·

Die staat behoort ook appèl aan te teken teen verordeeldes wat vrygelaat is wees nagemaakte siektes en dronk regters wat vir jare geskors word met volle salaris.

MM ·

Wens die NVG wil so baie moeite doen met die PLAAS MOORDE ASOOK ZUMA SE KORRUPSIE – soos wat hulle doen met Oscar se saak – Hoop hulle verloor die saak ook – net jammer ons belasting betaler se geld word op so n manier gemors.

Afrikaanse Knaap ·

Ek dink die staat doen dit aspris om aandag af te lei van al die korrupsie.
Almal het mos nou al ‘n kans gehad om hul sê te sê en hul saak te stel.

Melanie ·

Wat van plaasmoordenaars wat binne 4jr parool kry, wanneer word daar meer aandag gegee aan korrupsie en Guptas!

se maar net ·

Geld mors ja ons geld Hy sit mos nou in die tronk genoeg is mos nou genoeg

Adam ·

Onthou julle wie die appel geinisieer en geliasseer het- Gerrie Nel.

Ander Annie ·

Ek sê ook genoeg is genoeg. Die NPA behoort nou te fokus op die buite beheer korrupsie. Plaasmoorde is totaal ontstellend en brutaal. Hoeveel geld wil die Staat nog spandeer op die Oscar saak. Hy sit mos in die tronk en vir die res van sy lewe gaan hy moet saam leef met wat hy gedoen het. Dit is ‘n lewenslange straf.

LMF ·

Regtig die staat ly aan klein mannetjie sindroom genugtig hy het n gewete wat hy die res van sy lewe met hom moet saamdra kyk na ander moordenaars soos plaasmoorde en Henri van Breda hul het geen gewete nie ASB Los Oscar uit genoeg is nou genoeg jul kyk net hoe kan julle die staat leegsuig en daar is geen sap meer in daai lemoen nie

susan ·

Mense die “Gedagte vir die dag” is so pragtig en voed jou siel. Jou gedagtes en denke word net deur negatiewe dinge besoedel. Leef en laat Leef.

Pieta ·

Net jammer Oscar het besluit om iemand se lewe te neem en nie te laat leef nie. Begin maar daar met jou sedeprekie.

msp ·

Hanna, stem saam met jou en ja, skenk eerder aandag aan wat belangrik is soos plaasmoorde en dit waarvan Cherokee melding maak.

koos ·

Die NVG sal moontlik die saak wen aa hulle oscar dwing om te erken hy was kwaad vir reeva omdat sy 2 dae voor die moord n koffie date met n ex-boyfriend gehad het en toe nog die audacity gehad het om vir oscar daarvan te sê. Dis die ou argument van hy wat sê “jy verneuk my” en sy wat antwoord met “ons is net ‘vriende’ en ‘niks’ het gebeur nie”. Eks self deur sulke argumente in 2 verhoudings. Bly maar eerder single. Oscar was jaloers en besitlik en toe hy kwaad word, het hy totaal ge-oorreeageer. Maar nou ja, niemand anders was by nie, so niemand sal ooit weet wat regtig gebeur het nie. Sit egter die dinge vd koffiedate waarvan die jaloers oacar geweet het alles bymekaar en die motief vir die moord word duidelik.

Belaglik ·

Dit is belaglik dat hul die saak heel bloots en gaar wil ry. Terwyl daar duisende kinders en vroue elke dag in gevaar is, verkrag word en vermoor word en hul word so min geag dat hul sake nie ondersoek word en ag dit is ok, dit is mos net ‘n township girl of die aanvaller is mos net ‘n township criminal, nee SA Regstelsel en NVG dit moet 100% presies dieselfde hanteer word. Elke vrou is belangrik – elke misdadiger moet dieselfde vervolg en gestraf word. Dan sal daar minder verkragtings en moorde wees. Ek stem ook saam dat plaasmoorde en roofmoorde ook baie beter ondersoek en vervolg moet word.

Big Blue ·

Ai tog sal so salig wees as die uitgerekte saga tot n einde kom, Oscar is klaar agter tralies en word steeds geboelie deur die staat en internet kommentators….Daar is Inge Lotz se moordenaar/s nog steeds vry…en hope ander..pleks die staat hulle reserwes en energie gebruik om onopgeloste sake te ondersoek, nou rem hulle al een sening.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.