Hofklap vir gewese Eskom-hoof wat kerm oor twiet

Matshela Koko, voormalige hoof van Eskom, het sy rieme met die hofsaak styf geloop. (Argieffoto: ANA)

Tania Broughton/GroundUp

Die 72-jarige hoof van ʼn Gautengse kleuterskool het suksesvol ʼn eis vir skadevergoeding deur die voormalige uitvoerende hoof van Eskom afgeweer, nadat dié haar hof toe gesleep het oor ʼn twiet wat sy geplaas het.

Moses Koko het R500 000 in skadevergoeding van Barbara Tanton geëis, asook ʼn verskoning, ʼn beperking en ʼn interdik teen haar.

Tanton se regspan het egter aangevoer die regstappe is niks meer as ʼn sogenaamde SLAPP-saak, oftewel ʼn Strategic Lawsuit Against Public Participation nie. Die sake word bestempel as gewoonlik sonder meriete en met die doel om mense of groepe te ontmoedig, te sensor of te intimideer om nie ʼn saak verder te voer nie.

Regter Adele de Wet het saamgestem, die aansoek van die hand gewys en Koko beveel om bestraffende koste te betaal.

Die regter het bevind Koko se motief was nie om enige ongeregtigheid reg te stel nie, maar om Tanton te straf.

“Sulke gedrag is kwaadwillig,” het De Wet bevind.

Die twiet

Sy het opgemerk dat Koko reeds sedert Mei 2017 met spesiale verlof is, hangende die uitslag van ʼn ondersoek na bewerings dat hy sy fidusiêre pligte versaak het. City Press het in Oktober verlede jaar ʼn berig gepubliseer waarin Koko genoem word as dat hy geweier het om 27 kontrakte met onafhanklike kragvoorsieners af te teken wat reeds met die regering onderhandel is.

Koko het homself op Twitter verdedig en gesê Eskom kan krag teen 42c per eenheid koop, maar word verplig om dit teen R2,13 van onafhanklike kragvoorsieners te koop.

Tanton het op Twitter geantwoord: “You stole so much I am sick of your innocent ramblings” (sic).

Koko het die volgende maand ʼn brief aan Tanton gestuur, geëis dat sy die twiet onvoorwaardelik terugtrek en verskoning daarvoor vra, dat sy ophou om enige verdere lasterlike stellings te maak en dat sy hom sommer ook ʼn halfmiljoen rand betaal.

Tanton het die twiet vroeg in Januarie vanjaar verwyder en haar Twitter-rekening gesluit. Koko het dieselfde maand met regstappe begin.

Die hofsaak

In Februarie het Tanton se regsverteenwoordiger voorgestel dat sy haar Twitter-rekening heropen, die twiet terugtrek en verskoning vra. Die prokureur het uitgewys dat eise vir skadevergoeding nie deur mosieverrigtinge gedoen kan word nie en dat daar materiële dispute van die feite was wat net in die hof beslis sou kon word.

Koko het die vredesgebaar geïgnoreer en Tanton is gedwing om ʼn opponerende verklaring in te dien. Sy het onder meer aangevoer dit is ʼn SLAPP-saak en dat die twiet “billike kommentaar”, waar en in die openbare belang was.

Koko het nie enige verdere hofstukke ingedien nie en Tanton se regspan het die saak op die hofrol laat plaas.

Die saak is aangehoor en Koko het aan die regter gesê hy wil net ʼn bevel hê dat Tanton sy regskoste betaal omdat sy, deur die twiet te verwyder, “toegegee” het.

Tanton se regspan het egter aangevoer Koko het “bybedoelings” en dat sy saak teen haar ontmasker is toe hy, kort nadat hy die aansoek gebring het, in ʼn radio-onderhoud gesê het Tanton “kort ʼn groot klap sodat ander kan sien die tyd van straffeloosheid is verby”.

Die regter het bevind Koko het in sy aanvanklike verklaring groot moeite gedoen om die aanstoot wat hy geneem het oor die manier waarop Tanton hom beswadder het, te verduidelik.

“Dit is teen hierdie bewyse dat sy gedrag onverklaarbaar is. Hy het nie volgehou met sy eis dat sy ʼn onvoorwaardelike, openbare terugtrekking doen en verskoning aanteken nie en hy soek nie meer ʼn interdik teen haar vir die publikasie van soortgelyke lasterlike stellings nie.

“Dit het ook aan die lig gekom dat hy haar aanbod [om die twiet terug te trek en verskoning te vra] van die hand gewys het,” het regter De Wet bevind.

Tanton is gedwing om die aansoek teen te staan en beduidende opponerende hofstukke in te dien.

Haar advokaat het aangevoer dat Koko, die onderwerp van verskeie minder-as-vleiende twiets oor etlike jare, sy kliënt noukeurig uitgesoek het as ʼn strategiese teiken vir SLAPP. Hy het geweet Tanton het nie dieselfde vermoëns as hy om die saak te beveg nie.

Die advokaat het voorts aangevoer die drieledige doel van SLAPP is bereik: Tanton is stilgemaak, gestraf met buitensporige regskoste wat sy kwalik kan bekostig, en ander mense is skrikgemaak.

Die uitspraak

Die regter het bevind Koko se gedrag het daarop gedui dat hy nie sy goeie naam in ere wou herstel nie, maar Tanton wou straf en só verdere openbare kommentaar oor sy gedrag wou verhoed.

Sy het bevind die aansoek was ʼn “misbruik van die hof”.  De Wet het ook gesê Koko se eis vir regskoste teen Tanton is op die laaste minuut geopper nadat hy besef het sy staan rotsvas in haar besluit om die saak te beveg.

Tanton se prokureur, Rupert Candy, sê sy kliënt was uiters verlig oor die uitspraak.

“Sy was uit die staanspoor ʼn onwillige deelnemer aan hierdie SLAPP-verrigtinge. Sy sien daarna uit om die saak agter haar te laat en haar koste in te vorder.”

  • Hierdie artikel is oorspronklik op GroundUp gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Vir my net te wonderlik dat hierdie ouens dink hulle is onaantasbaar en vêr bo die reg verhewe nes sekere politici waarvan ek weet. Abraham Lincoln het gesê die meeste van ons kan swaarkry hanteer maar niemand kan mag hanteer nie. Meeste Afrika leiers en hulle in magsposisies is sprekende voorbeelde hiervan.

melaney ·

Het mense nie beter dinge om met hul tyd te spandeer nie? Klink vir my na ‘n spul nonsens.

Cherokee ·

Eintlik is jy bàie reg melaney, maar dit doen geensins afbreuk aan my genietinge met die lees van die berig :-)

sanette ·

Koko het sy tyd en geld gaan mors, maar Tanton moes haarself verdedig. Sou sy dit nie doen nie, sou die hof in Koko se guns besluit het en sy sou R500,000 kwyt gewees het.

madels ·

Mense moet alewig hul kommentare in die publiek lewer met baie nagevolge.. stem saam bly weg van Twitter en fb

Nie Verbaas ·

Gewone burger 1, Koko 0. Kry vir jou meneer arrogant.

Niklaas ·

Ek wonder wat sê Koko nou?? Hy skreeu dalks dis Rassisme. Vele van “our people” is mos maar swak verloorders

Martie Smartie ·

Ek is bevrees, ek dink hierdie regter het gefouteer. Ongeag wat die eiser se motiewe was en hoe hy gevoel het oor die respondent, sy het ‘n openbare uitlating gemaak sonder bewyse en redelike gronde. Sy eintlike motief was dalk wraak, maar die respondent het defintief sy naam beswadder. Hy het goeie gronde vir ‘n appél. En dalk moes die hofrol so opgestel gewees het dat ‘n vroue-regter nie die saak aangehoor het nie.

sanette ·

Natuurlik speel motief vir ‘n hofsaak ‘n rol en syne was nie naamskending nie. Die hof hou nie daarvan as mense hulle tyd mors nie. Koko het bedank agv druk van die president en voordat Eskom kon aangaan met die 2e disipliner teen hom. (waar hy heel waarskynlik skuldig bevind sou word.) Sy nepotistiese R800m tender wat hy vir sy skoondogter gereel het maak hom nie ‘n engel uit nie. Die vrou het reg tot vrye spraak. Jou seksistiese aanmerking omtrent die vroueregter is snert en ongegrond.

MakersMark ·

Vraag is wanneer die bandiete wat Eskom kaal geplunder het voor stok gekry word om die biljoene terug te betaal. So arrogant is hul om te probeer om nog geld uit ‘n uitgesproke pensioenaris te wurg. Wonder hoe korrek die tweet was….?

Leonard ·

Hoë bome vang dié meeste wind, SÓÓS die spreekwoord lui

Jack ·

Goed van jou Me Stanton. Jy stel n voorbeeld aan die A span. Dankie.

Ian ·

Wat ek nie verstaan nie is dat die ou nie strafregtelik aangekla was daai tyd toe hy betrokke was by al die korrupsie nie. Hy is net in die pad gesteek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.