Hofoorwinning vir dokters wat oorsee opleiding ontvang

Deur James Stent en Kimberly Mutandiro, GroundUp

(Argieffoto: Unsplash)

Suid-Afrikaanse dokters wat oorsee opleiding ontvang, sal nou toegelaat word om plaaslike toelatingseksamens af te lê voor hulle ʼn jaar se plaaslike kliniese opleiding afgehandel het.

Twee onlangse afsonderlike hofuitsprake het die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) en die Raad vir Mediese en Tandheelkundige Beroepe beveel om meer as 100 dokters toe te laat om die kliniese en teoretiese eksamens af te lê.

In Junie vanjaar het regter Margaret Victor in die Johannesburgse hooggereghof die RGB se beleid oor die vereistes vir dokters of tandartse wat in die buiteland kwalifiseer en nou in Suid-Afrika wil werk, ter syde gestel.

Dr. Hoosain Vawda, ʼn Suid-Afrikaner wat by die Anna Medical College in Mauritius gekwalifiseer het, het die saak aanhangig gemaak. Vawda het tydens sy opleiding reeds ekstensiewe kliniese ervaring opgedoen. In Maart verlede jaar het hy aansoek gedoen om sy praktiese mediese eksamen af te lê, maar die raad het sy aansoek ingevolge die nuwe beleid afgekeur.

Die beleid genaamd Pathway for Registration of South African Citizens Who Hold Qualifications Not Prescribed for Registration to Be Registered as Medical Practitioners, het in Junie verlede jaar in werking getree. Dit het van dokters wat in die buiteland kwalifiseer vereis om die jaar lange plaaslike kliniese opleiding te voltooi, voor hulle toegelaat word om die pre-internskap‑ kliniese eksamen af te lê.

Die RGB reguleer die onderrig, opleiding en registrasie van gesondheidswerkers ingevolge die Wet op Gesondheidsberoepe. Altesame 12 liggame val onder die RGB, waaronder die Raad vir Mediese en Tandheelkundige Beroepe.

Die regter het in haar uitspraak die beleid skerp gekritiseer.

“In die tyd dat die besluit geneem is [om die nuwe beleid in werking te stel], het geen Suid-Afrikaanse universiteit enige programme gereed gehad wat kliniese blootstelling kan gee aan opgeleide mediese studente wat in die buiteland opgelei is nie.

“Daar kan nie van universiteite verwag word om ʼn program vir kliniese opleiding sonder behoorlike beplanning in werking te stel nie.”

Ten spyte van die hofuitspraak het die RGB steeds nie enige dokters wat in die buiteland opgelei is, in die finale eksamens toegelaat nie. Dit het ingesluit ʼn groep van sowat 100 medici – almal Suid-Afrikaners – wat in lande soos Roemenië, China, Mauritius, Maleisië en die Oekraïne opgelei is. Hulle het na Suid-Afrika teruggekeer nadat hulle hul grade voltooi het met die hoop om hier te praktiseer.

In Augustus vanjaar het die dokters wat nie toegelaat is om die eksamen af te lê nie, teruggekeer na die hof en gevra vir ʼn minagtingsbevel teen die Raad op Mediese en Tandheelkundige Beroepe, sowel as die RGB, vir hul versuim om aan die uitspraak gehoor te gee. Die aansoek was onbestrede en op 9 November is die bevel toegestaan.

Later die maand is 70 dokters wat in die buiteland opleiding ontvang het, toegelaat om die Desember-eksamen af te lê.

Rene Govender, verbonde aan die organisasie South African Internationally Trained Health Professionals Association, sê ʼn gemiddelde slaagsyfer van 80% word behaal.

“Ons gaan voort om te baklei vir die regte van ons jong dokters wat oorsee opgelei is om toegelaat te word om op tuisbodem te praktiseer. Dit is nie maklik vir ouers om miljoene rande te spandeer vir hul kinders om oorsee te gaan studeer, net vir hulle om met hul terugkeer by die huis te sit nie.”

Oorwinning vir belowende dokters

Dr. Geremie Nayager van Phoenix in Durban was een van die aansoekers in die saak. Hy het sy studies in 2019 aan die Anhui Medical University in China voltooi. Hy het ook in Kerala in Indië gestudeer en het met sy terugkeer die organisasie Gift of the Givers met hul Covid-19-sentrum in Durban gehelp.

“Ek het nie beplan om oorsee te gaan studeer nie. Dit was ʼn besluit wat ek op die nippertjie geneem het om my droom na te volg,” sê Nayager.

“My aansoek by die RGB het maande lank geen reaksie gekry nie; nie eens ʼn verwysingsnommer nie. Die skuld vir administratiewe vertragings is toe op die pandemie gepak. Maande later is ek ingelig dat ek nie in aanmerking kom vir die raadeksamen nie omdat die raad eers my universiteit se leerplan moes hersien.

“Wat die RGB vir my gesê het, is dat my jarelange studies verniet was.”

Nayager het eindelik sy teoretiese eksamen met vlieënde vaandels geslaag. Ná die Augustus-hofoorwinning is hy ook genooi om sy praktiese eksamen af te lê. Hy het dit ook geslaag en begin op 1 Januarie met ʼn internskap by die Prince Mshiyeni-gedenkhospitaal in Umlazi.

Die RGB se woordvoerder, Christopher Tsatsawane, sê die Raad op Mediese en Tandheelkundige Beroepe en die RGB het die Vawda-uitspraak aanvaar.

“Kandidate wat hul eksamen wil aflê, sal dieselfde hanteer word as in die verlede. Indien hul voorleggings voldoen aan die vereiste, sal hulle genooi word om ʼn aanvanklike teoretiese eksamen af te lê. Indien hulle slaag, sal hulle ʼn praktiese eksamen aflê voor hulle as intern geregistreer kan word.”

Tsatsawane sê die getal aansoeke wat goedgekeur word, word bepaal deur die getal aansoeke wat die universiteit wat die eksamen hanteer, kan akkommodeer.

  • Hierdie berig het oorspronklik op GroundUp verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Shakespeare

Nie vir my nie dankie “dokters”

Nie Verbaas

Intellektuele tekortkoming

Andries

Weereens ‘n bewys dat die oningeligtes alles probeer beheer sonder dat hul enige ondervinding het.

Frederik C

Laat die kinders in Kuba gaan swot. Medies, armyingenieurswese, wateringenieurswese, noem maar op. SA sal alle kwalifikasies aanvaar

Tanniepetoors

Klink of hul slaagsyfer beter is as van dié waarmee die regering die staatshospitale wil bedryf.