Hofoorwinning vir inwoners oor munisipaliteit se onwettige invorderings

geld-spaar-finansies-berekeninge

(Foto: Jarmoluk/Pixabay)

Die hooggeregshof in Mahikeng het die Kgetlengrivier-plaaslike munisipaliteit in Noordwes se onwettige invordering van munisipale heffings, belasting en betaling vir riool- en vullisverwydering verbied. Die munisipaliteit is deel van die Bojanala Platinum-distriksmunisipaliteit en bedien onder meer inwoners van Derby, Koster en Swartruggens.

Die organisasie Sakeliga het die tussentydse interdik namens die inwoners en die sakegemeenskap bekom. Die munisipaliteit het vroeër besluit dat inwoners hul uitstaande skuld in die bankrekening van ʼn eksterne diensverskaffer moet inbetaal, eerder as in die munisipaliteit se amptelike bankrekening.

Die hof het dié besluit tersyde gestel.

“Met hierdie aanvanklike hofbevel is groot skade vir plaaslike ondernemings en die gemeenskap voorkom. Ek is bly dat Sakeliga ʼn plaaslike sakegemeenskap op hierdie wyse kon bystaan deur aan hulle ʼn nasionale ondersteuningstruktuur, wat vinnig en doeltreffend kan optree, te bied,” het Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, gesê.

“Munisipaliteite met goed georganiseerde sakegemeenskappe gaan ongetwyfeld veel beter vaar gedurende die volgende paar jaar in Suid-Afrika as dié wat dit nie het nie.”

Sakeliga en die sakegemeenskap het die aansoek ingedien nadat dit aan die lig gekom het dat die munisipaliteit ʼn onwettige kontrak met ʼn derdeparty aangegaan het om beheer van die owerheid se invorderings oor te neem.

Sakeliga het gesê dit was veral kommerwekkend dat die munisipale bestuurder inwoners beveel het om die geld in die diensverskaffer se rekening in te betaal, terwyl die Wet op Finansiële Munisipale Bestuur dit verbied.

Die organisasie het gesê binne dié alternatiewe stelsel van inkomsteverhaling het die munisipaliteit die reg van inwoners om dispute oor hul munisipale rekeninge te verklaar misken en nagelaat om behoorlike fakture aan inwoners te verskaf. Die alternatiewe stelsel het volgens Sakeliga boonop growwe wyse inbreuk gemaak op die gemeenskap se staande dispuut met die munisipaliteit oor eiendomsheffings wat onwettiglik vanaf 2010 tot 2014 gehef is, nieteenstaande ʼn hofoorwinning deur die plaaslike belastingbetalersvereniging verlede jaar.

Die hof het die munisipaliteit Donderdag beveel om die gemeenskap dadelik in kennis te stel dat betaling vir munisipale dienste, uitgesonder voorafbetaalde elektrisiteit, slegs in die rekening van die munisipaliteit gedoen mag word en nie in die rekening van ʼn derdeparty nie.

Die munisipaliteit moet ook sy opdrag aan die kontrakteur, om die geld namens hom in te samel, herroep, het die hof beslis. Die betaling van voorafbetaalde elektrisiteit word uitgesluit.

“Hoewel hierdie toegewing oor voorafbetaalde elektrisiteit in ooreenstemming is met Sakeliga se bede aan die hof, is die munisipaliteit se gebruik van derdeparty-diensverskaffers die onderwerp van voortgesette ondersoek deur Sakeliga se regspan,” het Armand Greyling, ʼn regspraktisyn by Sakeliga, gesê.

“Ons verwelkom inligting deur lede van die publiek met kennis van soortgelyke onwettige kontrakte vir die invordering van munisipale heffings, belastings en elektrisiteitsbetalings in enige munisipaliteit in Suid-Afrika.”

Die hof het die Kgetlengrivier-plaaslike munisipaliteit ook beveel om betaling vir munisipale dienste, heffings en belasting slégs in te vorder nadat kliënte van ʼn rekening voorsien is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris Ws ·

Nou moet die munisipale bestuurder strafregtelik angekla en vervolg word.Dis nonsens dat bestuurders van munisipaliteite wegkom met “moord”.

Piet ·

Mboweni het melding gemaak van vet salarisse van staatsamptenare.
Ek wonder net hoeveel Miljoeners is daar in bankrot munisipaliteite?

Feite ·

Mooi sakeliga, nou begin julle my taal praat deur te kan sien waar daar skade gaan kom en om dit te verhoed. Opposisiepartye maak hulself te veel daaraan skuldig om te lank te wag en dan te laat te reageer nadat onherstelbare skade reeds aangerig is. Ek hoop van harte dat die DA en VF die boodskap hard en duidelik sal kry dat “prevention is better than cure”. Hier het sakeliga nou die voorbeeld gestel van hoe om ANC kaders te verhoed om korrup te wees. So moet die ANC ook in sy spore gestuit word en skade verhoed word met alle ANC transformasie doelwitte wat enige ander groep of individu bedreig en of benadeel. Orals waar die ANC reeds n voet in die deur gekry het, moet daardie voet uit die deur verwyder word en geen voet in die deur geleenthede moet ooit weer aan die ANC gegun word nie. Die ANC was reeds te veel kere toegelaat om eers skade aan te rig, voordat daar opgetree is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.