Hofsaak begin vir ouditverslae in 154 munisipaliteite

geld-spaar-finansies-berekeninge

(Foto: Jarmoluk/Pixabay)

Sakeliga het vandag ʼn hofsaak teen die ouditeur-generaal van Suid-Afrika (OG) van stapel gestuur om vir die eerste keer die OG se ongeopenbaarde bestuursverslae van 154 probleemmunisipaliteite openbaar te maak.

Indien die verslae beskikbaar gestel word, kan dit ʼn nuwe tydvak vir aanspreeklikheid van staatsamptenare, rekenskap van belastinggeld en munisipale litigasie inlui.

Alhoewel die OG ʼn grondwetlike plig het om hierdie bestuursverslae openbaar te maak, is dit nog nooit tevore gedoen nie. Die bestuursverslae verskil van die opsommende ouditverslae wat jaarliks bekendgemaak word, deurdat dit spesifieke inligting bevat oor spesifieke gevalle van korrupsie, wanbesteding, bestuursgebreke, belastingverkwisting en ander onreëlmatighede, soos opgemerk deur die ouditspanne.

Daarenteen is die oorhoofse jaarlikse ouditverslae van die OG, wat algemeen beskikbaar is vir die publiek, grootliks opsommend. Tot dusver is slegs die opsommende ouditverslae openbaar gemaak, terwyl die gevorderde bestuursverslae vir die munisipale en ander staatsowerhede self gereserveer is.

“As deel van ons litigasie oor munisipale verval in Noordwes het Sakeliga verlede jaar van die bestaan van die verslae bewus geword. In Januarie 2022 het Sakeliga kragtens die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) die bestuursverslae vir vyf jaar elk van 154 probleemmunisipaliteite landwyd aangevra , waar daar ernstige probleme met dienslewering en finansiële administrasie is,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Die OG het die versoek geweier. Sakeliga het daarom vandag hofstukke by die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria ingedien vir ʼn bevel om die OG te verplig om die bestuursverslae aan Sakeliga te lewer.

“Sakeliga wil hierdie verslae ontleed en aan sakekamers, burgerlike organisasies en die algemene publiek beskikbaar stel, ten einde hulle by te staan in die hantering van staatsverval en die bevordering van groter plaaslike ekonomiese selfstandigheid. Vanweë die detail en omvang daarvan kan die bestuursverslae vir sakelui en die algemene burgerlike samelewing bepalend wees by regstappe en ander ingrepe wat hulle wil doen om plaaslike verval om te keer.”

Sakeliga spreek intussen erkenning uit vir die deeglike werk wat die OG doen om verval, wanbestuur en korrupsie by munisipaliteite in jaarlikse bestuursverslae uiteen te sit. “Ons standpunt is egter dat die OG se deeglike verslae min voordeel vir die publiek inhou indien dit nie geopenbaar word nie. Dit is immers instellings van die burgerlike samelewing wat telkens aan verval in munisipaliteite aandag gee en hulle kan dit slegs doen met behoorlike inligting.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Piet Snot ·

“Daar’s ‘n grondwetlike plig om te…”, en telkens weier (voeg naam van owerheidsinstansie hier in) om te voldoen.
Ek kan eenvoudig nie die mentaliteit verstaan nie.

Christine ·

Tyd dat ons belastingbetalers begin om georganiseerd te raak en ons geld by ‘n betroubare organisasie in te betaal, ons eie publieke werknemers aan te stel en self die munisipale pligte oor te neem. Sonder geld, neem ons alle korrupsie uit hul hande en sal hulle self hul kantore ontruim.

Yvonne ·

Ek bid vir al die instansies wat die ANC opponeer ons hou julle hande omhoog…laat die wiele rol…Bravo

Tracey ·

Liewer laat as nooit…. Hopenlik gaan hulle dit deurvoer tot op die einde.

Eden ·

Goeie idee. Jaar na jaar is daar honderde gekwalifiseerde state, maar dis die einde van die storie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.