Hofsaak diep dekade se hartseer op

Dries Venter treur steeds oor sy geliefde dogter Andrea [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

Meer as tien jaar ná Andrea Venter (25) se moord, vra haar pa steeds waarom só iets gruweliks met sy “prinses” moes gebeur het.

Die moordsaak, wat nou al sowat ʼn dekade sloer, is onlangs weer in die Palm Ridge-landdroshof in Johannesburg hervat en krap nou weer ou wonde oop. Die saak is nou, hopelik vir die laaste keer, tot 16 Mei uitgestel.

Andrea was Dries (71) en haar oorlede ma, Annetjie Venter (63), se wonderwerkbaba. Sy was die heel eerste proefbuisbaba om in Rustenburg, Noordwes, gebore te word en toe dié sprankelende blondekop op 14 Augustus 1985 gebore is, het haar ouers gedink hul lewens is volmaak. Hulle het 12 jaar lank gesukkel om swanger te word.

Hul tyd saam met Andrea was egter van korte duur toe sy op 2 Mei 2011 gewelddadig van hulle weggeneem is. Haar gewese kêrel, Gerhard Jansen van Vuuren (40), word van haar moord aangekla.

“Haar lewe het skaars begin. Sy het Februarie daardie jaar as opgeleide rekenmeester by ’n ouditeursfirma in Fourways, Gauteng, begin werk,” vertel Dries aan Maroela Media.

Soos trane in sy oë opdam, kyk hy na ’n geraamde foto van Andrea en haar ma wat bo-op ’n kas in die sitkamer van sy huis in Rustenburg uitgestal word. Annetjie is in 2016, vyf dae nadat sy 63 jaar oud geword het, dood. Volgens Dries het sy haar dood getreur.

Dié twee se as is saam in ’n nis by die Hervormde Kerk in Rustenburg geplaas.

“Andrea en haar ma was onafskeidbaar.”

Op ’n ou snoekertafel lê klomp uitknipsels van koerantberigte oor Andrea se moord [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

Op ’n ou snoekertafel in dieselfde vertrek lê ʼn klomp uitknipsels van koerantberigte oor sy geliefde dogter se moord en Jansen van Vuuren se hofsaak.

Hy wys na ’n foto van Jansen van Vuuren wat op die tafel lê en prewel woedend: “Jou dag sal kom.”

Beeldmateriaal van die kringtelevisiestelsel in die veiligheidskompleks in Lonehill, Johannesburg, waar Andrea gewoon het, wys hoe Andrea op die dag van haar moord uit die kompleks na die hek probeer vlug en dan van agter deur ’n persoon met ’n mes aangeval word. Jansen van Vuuren is as die man in die video geïdentifiseer.

Jansen van Vuuren het Andrea na bewering 12 keer met ʼn mes in die rug gesteek, twee keer in die skouer en kuit en ook een keer in die nek. Jansen van Vuuren het ook die mes in sy eie nek gesteek in ’n poging om selfmoord te pleeg.

’n Jong Andrea [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

“Ek onthou die oggend van 2 Mei asof dit gister was. My telefoon het omtrent 05:30 gelui. Dit was die polisie wat vir my gesê het Andrea is vermoor. Ek was geskok,” vertel Dries.

“Ek en my vrou het in my kar gespring en Johannesburg toe gejaag. Ek het by Andrea se woonstelkompleks gestop, maar die toneel was reeds skoongewas. ’n Kolonel het na my toe aangestap gekom en gesê ons moet polisiestasie toe gaan, die trauma-eenheid wag vir ons daar.

By die staatslykshuis in Mayfair, Johannesburg, moes Dries sy dogter uitken. “Haar blonde hare was rooi van die bloed.”

Jansen van Vuuren het Andrea glo die naweek voor haar dood aangehou, aangerand en vermoedelik verkrag. Hy het die hele naweek met Andrea tussen haar en sy woonstel in Randburg met haar wit Volkswagen Polo gereis.

‘Wolf in skaapsklere’

Andrea en haar ma Annetjie was onafskeidbaar [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

Jansen van Vuuren het Andrea na bewering tydens hul sewe jaar lange verhouding fisiek mishandel. Sy het dit vir ’n ruk lank eers vir haar ouers weggesteek.

“Haar ma het eendag blou kolle op haar arm en been opgemerk en toe kom sy met die hele sak patats vorendag. Ons het toe besluit om ’n bewaringsbevel teen Jansen van Vuuren te kry.”

Volgens die bewaringsbevel mag Jansen van Vuuren nie nader as 50 m aan Andrea gekom het nie. Volgens Dries het hy dit egter verontagsaam en haar steeds geteister.

Dries vertel Jansen van Vuuren het aanvanklik as ’n “aangename seun” voorgekom, maar sy ware kleure het mettertyd te voorskyn gekom.

Moeilik om te vergewe

Klomp foto’s van Andrea hang in die Venters se huis se gang [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

Dries meen die regstelsel laat hulle in die steek. “Die saak word onnodig vertraag. Elke keer krap dit ou wonde en hartseer oop.”

Hy sê die dag as die regter Jansen van Vuuren se vonnis oplê, sal hy tot ’n mate vrede ervaar.

Dries het ’n brief vir Jansen van Vuuren geskryf en laat lamineer wat hy nog in die hof vir hom wil gee.

Hy het geen gevoel teenoor Jansen van Vuuren nie en ook nie simpatie met hom nie.

“Hy het my lewe verwoes. Die dag toe Andrea dood is, het iets binne my ook doodgegaan. Daai gemors het my vrou en dogter se lewens gesteel. Hulle sê ek moet vergewe, maar wat gaan dit help? Dit gaan nie vir Andrea terugbring nie.”

Dries het onlangs weer ’n ontmoeting met Jansen van Vuuren se ma, Thea Pretorius (62), gehad. Hy sê daar is geen kwade gevoelens tussen hulle nie.

“Ons kom goed oor die weg. Ek is nie kwaad vir haar nie, maar vir haar seun. Sy het namens hom om verskoning gevra vir wat hy aan ons gesin gedoen het.

ʼn Klomp foto’s van Andrea hang in die Venters se huis se gang. Daar is ’n paar van haar in haar balletdrag. Dries wys trots na die foto en vertel van haar dae as opgeleide balletonderwyseres.

“Sy kon omtrent dans.”

Dries vryf die trane uit sy oë weg soos hy vertel van Andrea se liefde en goedhartigheid. “Sy sal altyd ’n geldjie vir die ou op die straat gegee het. Nou is my prinses vir altyd weg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nico ·

Dit is uiters swak en onaanvaardaar dat dit ondersoekspan 10 jaar geneem het om die saak weer oop te krap om sodoende die familie weer in die rou en hartseer te dompel, sterkte vir die familie. Die skuldige persoon sal betaal vir sy dade, God slaap nie, Hy weet presies waardeer die familie moes gaan.

Henk ·

Aai oom Dries, dit is verskriklik. Ons bid vir oom. Vergifnis word met kwytskelding verwar. Daar kan geen vergifnis wees voordat daar nie geregtigheid is nie. Ons mag nie persone wat sulke dade pleeg eenvoudig net hulle verantwoortbaarheid kwytskeld nie. Ons mag vergewe, dit mag ons ja, maar ons mag nie die persoon weer onder ons mense laat wandel nie. Dit sou beteken dat ons, ons verpligting teenoor ons mense nie nakom nie. Want dan laat ons die booswig tussen die skape in en die verwoesting wat hy dan saai is op ons skouers, want ons het geweet wat hy is en wat hy doen en nogtans hom vry laat begaan.

Retha ·

Voel baie jammer vir Dries, maar jammerte kan nie sy vrou of kind terugbring nie. Die howe is uiters swak om die saak so lank te laat snoer. Ek bid vir vertroosting

ES ·

Ek dink ek sal dit net so moeilik vind om iemand soos dit te vergewe. Wat dit egter nog moeiliker maak is dat die vent nog gaan wegkruip het in ‘n ander land vir amper 10 jaar. Dit beteken hy wil nie en gaan waarskynlik nie berou toon vir sy dade nie. Net lafaards kruip weg.

Sterkte Oom Dries, ek glo geregtigheid sal geskied.

Waarnemer ·

Dries,sterkte vir jou Jansen van Vuuren sal sy dag kry.Ons Hemelse Vader slaap nie en SY gebod ” Jy mag nie doodslaan nie” bestaan nog al het die regerende party dit afgewater na net nog n misdaad…n oog vir n oog en n tand vir n tand .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.