Hofsaak dreig tussen voormalige DA-kollegas oor Mashaba

Herman Mashaba, oudburgemeester van Johannesburg en nou ook leier van The People’s Dialogue. (Foto: Twitter)

ʼn Hofgeding soos min dreig tussen twee politieke diere wat jare lank saam in die loopgrawe vir die DA geveg het, maar wie se paaie geskei het toe die voormalige burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, die DA verlaat het.

Aan die een kant staan Michael Beaumont, jare lange verkiesingsbestuurder van die DA in KwaZulu-Natal en Gauteng, voormalige stafhoof van Mashaba se administrasie in Johannesburg, en tans die bestuurshoof van Mashaba se politieke projek, The People’s Dialogue, wat in Augustus tot die stigting van ʼn nuwe politieke party gaan lei.

Aan die ander kant staan Geordin Hill-Lewis, jong maar senior en algemeen gerespekteerde DA-parlementslid, tans die amptelike opposisie se woordvoerder oor finansies én DA-kiesafdelingshoof vir die groot dorp George in die Wes-Kaap, asook vurige ondersteuner en gewoonlik hegte vertroueling van die voorsitter van die DA se federale dagbestuur.

Ter sake is ʼn bewering in Beaumont se boek, The Accidental Mayor: Herman Mashaba and the battle for Johannesburg, pas uitgegee deur Penguin Uitgewers.

Die boek vertel die verhaal van Mashaba se burgemeesterskap uit die oogpunt van iemand wat bepaald geen geheim maak van sy bewondering vir Mashaba nie.

Op bladsy 179 van die boek vertel Beaumont ʼn storie oor wat Mashaba aan hom vertel het. Volgens Mashaba het ʼn bekende vrouejoernalis hom in Desember verlede jaar gebel, in die tyd toe hy en die voormalige DA-leier Mmusi Maimane nog polities heg saamgewerk het.

Luidens Mashaba se vertelling aan Beaumont het die joernalis hom meegedeel dat Hill-Lewis haar gebel het met hoogs skadelike bewerings oor Maimane se persoonlike lewe, maar dat sy vir hom gesê het sy skryf nie daardie soort skindernuus nie.

Hill-Lewis het oor die naweek die vertelling as ʼn blatante leuen bestempel en sy regsverteenwoordiger opdrag gegee om stappe teen Beaumont te doen omdat hy die beweerde leuen gepubliseer het.

Mashaba het oor die naweek laat blyk hy bly by sy standpunt, en Hill-Lewis uitgedaag om hom te dagvaar.

Maandag het Beaumont by navraag aan Maroela Media gesê hy het nog geen korrespondensie van Hill-Lewis se regsverteenwoordiger ontvang nie, en dat daar ʼn groot verskil is tussen regstappe en die dreigement van regstappe.

Hill-Lewis het in reaksie aan Maroela Media gesê hy wag op die konsep-dokumentasie van sy regsverteenwoordigers.

“Wanneer ek dit ontvang, sal ek dit redigeer en afteken. Dit sal dan aan Michael en sy uitgewer gestuur word,” het Hill-Lewis by navraag aan Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.