Hofsaak geskuif oor doodsdreigemente

hof-hamer

Argieffoto.

Konflik tussen strydende bendes het tot gevolg dat ʼn moordverhoor op ʼn geheime plek aangehoor sal word ter wille van die 14-jarige beskuldigde se veiligheid.

Die seun, wie se naam nie genoem mag word nie, het Dinsdag weer in die Bellville-streekhof verskyn. Hy word aangekla van moord, vier aanklagte van poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Die seun het nog nie op die aanklagte teen hom gepleit nie.

Die staat beweer die tiener is deur ʼn bende as ʼn sluipmoordenaar gebruik en het ʼn lid van ʼn mededingende bende doodgeskiet. Hy is ná sy eerste verskyning in die hof in die sorg van sy ouers vrygelaat – ʼn algemene praktyk met minderjarige beskuldigdes.

Die polisie het egter later ʼn wenk ontvang dat hy in besit van ʼn onwettige vuurwapen is. Toe vier polisiebeamptes hom genader het om ondersoek in te stel, het hy glo op hulle losgebrand, maar niemand raakgeskiet nie. Hierdie voorval is die gronde vir die vier aanklagte van poging tot moord wat teen hom aanhangig gemaak is.

Die seun se verhoor sou Dinsdag begin nadat die staat sy eerste getuie geroep het. Die getuie het egter saam met ʼn bendelid by die hof opgedaag. In die hofsaal het die bendelid ʼn lid van ʼn mededingende bende opgemerk wat by die hof was in verband met ander onverwante aanklagte.

Doodsdreigemente is heen en weer tussen die twee bendelede geslinger, waarvan sommige op die 14-jarige beskuldigde gemik was. Een van die bendelede het aan die beskuldigde en die ander bendelid gesê “vandag is die dag wat ek julle albei doodmaak”. Kort daarna het ʼn paar lede van die beskuldigde se bende by die hof opgedaag.

Die hof het besluit om vir veiligheidsredes die saak tot Januarie uit te stel wanneer dit by ʼn geheime plek met ʼn sterk polisieteenwoordigheid aangehoor sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

snoefie ·

ai hulle kon soveel geld gespaar het. moes die hofsaal ontruim en die strydendes in die saal toegesluit het. niemand om te sien hoe dapper hulle is nie twyfel ek of die dapperheid lank sou duur.

CHRISTA ·

MAGTAG!!! Gaan hy NOOIT sy les leer nie? Hy is ALREEDS in die hof hangende ‘n moord en poting tot moord aanklag en WAARAGTAG hy bekom WEER ‘n onwettige vuurwapen!!! As hy skuldig bevind word, moet hulle hom toesluit en die sleutel weggooi!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.