Hofsaak oor kleuterskole dan aangehoor

(Foto: Maroela Media)

Kleuterskole – en ouers – wat op hete kole wag vir nuus oor die heropening van kleuterskole, sal hopelik ná Woensdag meer duidelikheid oor die kwessie hê.

Die saak van die Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) teen die departement van maatskaplike ontwikkeling oor die heropening van kleuterskole word dan in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Die twee organisasies het hulle tot die hof gewend omdat die departement steeds geen duidelikheid gegee het oor wanneer private kleuterskole en dagsorgsentrums mag heropen nie. Kleuterskole wat by die departement van onderwys geregistreer is, mag vanaf volgende Maandag (6 Julie) weer leerlinge ontvang.

“Kinders in private kleuterskole se skolastiese vordering gaan nou deur hierdie teenstrydighede van die departement van maatskaplike ontwikkeling en die departement van basiese onderwys negatief beïnvloed word. Deur dié saak wil ons verhoed dat sulke agterstande veroorsaak word,” het Marisa Engelbrecht, sektorhoof by Solidariteit se Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers, gesê.

“Die departement moet ook besef dat hierdie kleuterskole en dagsorgsentrums, waarvan die kinders nou ontneem word, vir baie van hulle ʼn veilige hawe is, ʼn plek waar hulle kos kry en ʼn plek waar ouers hulle met ʼn geruste hart kan laat wanneer hulle terugkeer werk toe.”

Die beroepsgilde en die SOS is van mening dat kleuterskole en dagsorgsentrums ook veilig en gesond kan werk.

Onderwysers moes almal aanlyn kursusse in Covid-19-gesondheidsprotokol volg en het al die nodige praktiese veranderings aangebring en maatreëls ingestel soos wat die regulasies van skole vereis.

Verskeie navorsers het ook reeds gesê die kans dat kinders die virus sal oordra, is gering. Die organisasies sê daar is dus geen rede waarom hierdie instellings nie kan heropen nie.

Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit, sê die dringendheid van die saak kan nie genoeg beklemtoon word nie. “Personeel is terug by die werk, maar steeds is daar geen sprake van datums waarop kinders mag terugkeer nie. Hierdie onderwysers verloor inkomste omdat hulle verhoed word om diens te lewer. Ons is gereed om hierdie sinnelose optrede van die departement ten volle teen te staan tydens Woensdag se hofsitting,” het hy gesê.

Die saak sou verlede Dinsdag aangehoor word, maar die regter het beveel dit moet oorstaan sodat ander relevante uitsprake in verband met die heropening van skole tydens die Covid-19-pandemie in ag geneem kan word.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het verlede week toestemming gegee dat personeel van sentrums vir vroeëkinderontwikkeling wat tans onder die Kinderwet val, mag terugkeer werk toe, maar hy het geen aanduiding gegee van wanneer kinders weer ingeneem sal mag word nie.

Maroela Media het vroeër ook berig navorsers aan die Universiteit Stellenbosch het bevind die voortgesette verbod op onderrig benadeel miljoene Suid-Afrikaanse kinders se onderrig en geestelike welstand en kan nie meer geregverdig word nie.

Luidens die navorsing bly nagenoeg een miljoen kinders jonger as ses jaar oud in dié stadium alleen tuis omdat hul ouers of versorgers teruggekeer het werk toe, hoewel kleuterskole steeds gesluit bly. Indien almal terugkeer werk toe, styg dié getal tot twee miljoen kinders tussen 0 en 15 jaar oud wat alleen sal moet tuisbly sonder enige volwasse toesig of ʼn ander kind ouer as 15 om na hulle om te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Genis ·

Dis op alle vlakke baie moeilik… Ek is bly ek het nie klein kindertjies nie, dit sal moeilik wees om te hanteer… Sterkte aan al die ouers daar buite..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.