Hofsaak oor entstowwe dán aangehoor

(Argieffoto ter illustrasie: Ted S. Warren/AP)

Die burgerregteorganisasie AfriForum en Solidariteit sal op 2 Maart in die hof wees vir sy saak teen dr. Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering, oor die regering se inwerkingstellingsplan vir die Covid-19-entstowwe. Hierdie organisasies wil deur dié hofsaak die regering se planne stuit om die entstofproses te sentraliseer.

AfriForum en Solidariteit gaan die hof vra om die regering se verspreidingsplan vir entstowwe ongrondwetlik te verklaar, asook om uitsluitsel te gee dat enige instelling buite die raamwerk van die regering die reg het om entstowwe te verkry en toe te dien.

Die organisasies voer in hofstukke aan dat die regering die privaat sektor doelbewus uitsluit deur dié sektor nie toe te laat om self entstowwe te koop, versprei of toe te dien nie.

“Die feit dat die regering weier om duidelikheid aan AfriForum en Solidariteit te gee oor sy planne om die aankope en verspreiding van entstof te monopoliseer, bewys dat hy dit belangriker ag om sy mag te konsolideer eerder as om lewens te red,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Ons het duidelik hier te make met ʼn regering wat min waarde aan deursigtigheid heg en wie se beloftes om dialoog met mense te voer en hul kommentaar te oorweeg, slegs lippetaal is.”

AfriForum en Solidariteit meen daar is ʼn dringende behoefte aan entstowwe, maar die verspreidingsproses daarvan word deur die staat se sentralisering van entstowwe vertraag.

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die antwoord vir vinnige en doeltreffende verspreiding van die entstof lê nie in die nasionalisering daarvan nie omdat mense reeds nie die regering vertrou nie. Hy sê die privaat sektor moet in staat gestel word om by die aankoop en verspreiding van entstowwe betrokke te raak.

“Ná herhaaldelike mislukkings is vertrouensvlakke in die regering uiteraard laag. Dieselfde regering wat geld uit noodfondse tydens ʼn pandemie gesteel het, gaan nie vertrou word om die entstofproses goed te bestuur nie. As ons vir die regering gaan wag om entstowwe alleen te verskaf, gaan ons jare wag; iets wat ons as privaat burgers bloot nie kan bekostig nie,” sê Mulder.

Mulder sê die regering moet vanselfsprekend ʼn rol speel in die aankoop van entstowwe, maar sy rol moet beperk word tot dié van een van vele rolspelers in die verkryging en verspreiding van entstowwe.

“Sonder die privaat sektor wat ook entstowwe aankoop, is die teelaarde vir korrupsie en ondoeltreffendheid ryp. Die regering tree buite sy magte op. Ons kan nie toelaat dat hy ʼn monopolie verklaar wat die regte van ander instellings en liggame wat hulle in staat stel om self entstowwe te bekom, ontken nie.

“Die regering kan nie vertrou word nie. Daar is ʼn geskiedenis van mislukking en korrupsie waar die regering se planne en strategieë ter sprake is. Waar menselewens op die spel is, behoort die regering die privaat sektor in staat te stel om na vore te tree en die probleem te takel, eerder as wat hy dit in sy onvermoë probeer beheer.”

Intussen gaan AfriForum hom ook tot die hof wend teen die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) en Mkhize om te verseker dat ivermektien wat vir menslike gebruik ontwikkel is, beskikbaar sal wees sodat dokters dit vir die behandeling van Covid-19 kan voorskryf.

Maroela Media het vroeër berig dat AfriForum selfs ná Sahpra se aankondiging – naamlik dat ivermektien op “beheerde wyse” vir menslike gebruik vir die behandeling van Covid-19 toegelaat word – steeds die hofsaak wil voortsit. Dié organisasie voel die aankondiging is ʼn stap in die regte rigting, maar die wettige gebruik van die middel is steeds uiters beperk.

Die hofsaak vind op 2 Februarie plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anoniem ·

Ons ken al die verloop van sulke sake. Hofaansoek, appelleer en daarna is dit stil.

Samuel ·

Liewe Solidariteit en Afriforum, julle wil so graag in die kollig wees, maar julle weet mos die regering staan onverskillig teenoor die howe en hul uitsprake.

Hennie J ·

Hoe is dit moontlik dat die saak eers op 2 Maart aangehoor gaan word? Dit is mos van dringende belang.Tyd dat die hoofregter ophou bid vir entstowwe en liefs bid dat sy regbank hulself in rat kry en die mense van die land dien met vinnige en doeltreffende aksie, soos wat van hulle verwag word in die grondwet. Hulle is nie belangrik nie! dit wat hulle moet doen is wel belangrik!

KB ·

Dit gaan effe mosterd na die maal wees. Dan is die water lankal onder die brug deur. Wat is Solidariteit/Afriforum se doel hiermee nou regtig?

Heinrich ·

Dankie ouens, gee hulle gas. Die regering kan met niks vertrou word nie, punt.

quartus ·

Teen die tyd dat die saak voor die hof dien sal die inenting al ver gevorderd wees. so wat sal die nut wees ?

JohanR ·

2 Maart….by daai tyd is die virus miskien al verby. Seker as dit KopDoek was wat ‘n eringste saak gehad het was dit 2 Febuarie. Die hofe was ook maar vrot in die tyd van Covid-19. Waaneer gaan Kopdoek tronk toe vir ses maande? Ek will by die tronk se ingang wees as sy in gaan om haar ‘n slegte tyd binnekant toe te wys.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.