Hofsaak oor grond in Seepunt begin

Deur Madison Yauger, GroundUp

Die Reclaim the City aktiviste. (Foto: Ashraf Hendricks)

ʼn Vier dag lange hofsaak oor die lot van ʼn Tafelberg-eiendom, ʼn ongebruikte perseel in Seepunt, het Maandag in die Kaapse hooggeregshof begin. Die saak kan moontlik ʼn presedent skep vir wat gedoen kan word met staatsbeheerde grond in die middestad van die Stad Kaapstad.

Behuisingsaktiviste van die Reclaim the City-organisasie versoek dat die grond ontwikkel word vir laekostebehuising vir inwoners wat in Seepunt werk en ʼn klein inkomste verdien. Die provinsiale regering wil egter die eiendom verkoop vir die ontwikkeling van die Phyllis Jowell Jewish Day School, ʼn private skool in die omgewing.

Reclaim the City en die Ndifuna Ukwazi Law Centre het die saak by die hof ingedien om die transaksie tussen die plaaslike regering en die skool stop te sit. Die Wes-Kaapse regering en die Phyllis Jowell Jewish Day School is die respondente.

Die saak is al in 2017 die eerste keer geopper. Volgens The Cape Argus sou die eiendom vir R135 miljoen aan die skool verkoop word.

Byna 50 Reclaim the City-ondersteuners het Maandag die hof se galery gevul met helderrooi T-hemde met slagspreuke soos “Land for People, Not for Profit”.

Reclaim the City voer aan dat Tafelberg “ʼn uitstekende geleentheid bied om ruimtelike apartheid reg te stel deur die voorsiening van goed geleë grond vir maatskaplike behuising”.

In hofstukke beskryf die organisasie maatskaplike behuising as ʼn “kritiese instrument om nie net aandag te gee aan die voortdurende vraag na bekostigbare behuising in Kaapstad nie, maar ook om ons stede te herstruktureer”. Die organisasie word deur adv. Peter Hathorn verteenwoordig.

“Die Stad het 25 jaar gehad om ruimtelike onreg uit die weg te ruim. Tot dusver het die Kaapse regering absoluut niks gedoen om hierdie probleem op te los nie,” voer die organisasie in hofstukke aan.

Regter Patrick Gamble en regter Monde Samela hoor die saak aan.

Gamble het Hathorn gevra oor die beskikbaarheid van Distrik Ses-grond vir maatskaplike behuising, waarop Hathorn geantwoord het dat daar grond beskikbaar is, maar dat dit onderhewig is aan ʼn restitusie-eis.

Michael Clarke, Ndifuna Ukwazi se prokureur, spreek ondersteuners toe. (Foto: Madison Yauger/GroundUp)

Gamble het ook genoem dat grond wat goed geleë is in die middestad, baie duur is en dat dit byna onmoontlik is om grond teen markpryse te koop om maatskaplike behuising te voorsien. Hathorn het aangevoer die staat moet grond wat die stad en die provinsie reeds besit, oorneem en dit vir maatskaplike behuising gebruik.

Hy het verder opgemerk dat 200 000 mense elke dag na Kaapstad pendel, en dat eiendomme in die middestad van fundamentele belang vir die streek in geheel is.

Intussen het adv. Ismail Jamie, die nasionale departement van menslike nedersettings se regsverteenwoordiger, gesê dat sy departement ook die provinsiale regering se besluit om die Tafelberg-eiendom te verkoop, teenstaan.

Jamie sê “die provinsiale regering het nie sy grondwetlike verpligtinge nagekom om die nasionale regering in te lig oor sy voornemens omtrent die Tafelberg-eiendom nie”.

Verder sê hy dat die provinsie nie met die nasionale regering of sy agentskappe gekonsulteer of gekoördineer het nie.

Die saak duur Dinsdag voort. Argumente deur die nasionale departement van menslike nedersettings, die regulerende owerheid vir maatskaplike behuising, Equal Education (as ʼn vriend van die hof) en die Wes-Kaapse provinsiale regering sal ook in die saak gehoor word.

Die saak sal na verwagting tot Donderdag duur.

  • Die berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer. Lees die oorspronklike berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sanna ·

Laat die gewillige laekostebehuisingsontwikkelaar dan die R135 mil betaal.

Hanna Hoekom ·

En saam met die laekoste behuising kom die geweld en misdaad. Feite.

LANA ·

Jy slaan die spyker op sy kop, Hanna!
Verder – Kaapstad is sinoniem met Tafelberg en toerisme. Maatskaplike behuising (met alles wat daarmee gepaard gaan!!) in daardie gebied sal toerisme ‘n fatale knou toedien.

André-Chris ·

Ek was lanklaas in Kaapstad, maar hoe lyk die middestad daar, nie ook maar soos ander groot stede, Johannesburg, Pretoria, Bloemfontein en vele ander waar die besighede na die voorstede en verder weg uitgewyk het nie, die middestad het nou maar so onaantrekik geraak vir besighede dat hulle die wyk geneem het. Ook waar die geboue al oud geraak het, is dit nie geldelik beter om elders nuut en modern te gaan bou nie?

André-Chris ·

En natuurlik is die pad na die Kaapse middestad ‘n nagmerrrie, spoorvervoer, met die Kaap wat eintlik al oorbevolk is met al wat leef en beef wat soontoe trek.

Realisties ·

Hanna, ek stem 100% met jou saam. Ek sien daar is ‘n sarkastiese persoon wat vir jou vra, “regtig”. Seker weer ‘n “persoon” wat ondersteun dat die Kaap ook soos die res van die land in ‘n HOOL omskep word. Vullis, riool, siektes en afval wat in die strate ophoop. In Bloemfontein, waar ons woon, is ‘n mens te bang om in die stad te beweeg, want die vuil is oorweldigend. Daar is dreigemente dat ons munisipaliteit se krag vanaf 06h00 soggens tot saans 20h00 afgeskakel gaan word, want ons wonderlike ANC raadslede verduister al die geld wat deur ons betaal word en betaal nie vir Eskom nie ????????????????????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.