Hofsaak oor regulasies: LFN verheug, sê NDZ se appèl ‘bloot akademies’

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die Liberty Fighters Network (LFN) is verheug oor Dinsdag se uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria waarin regter Norman Davis sy vroeëre bevinding bekragtig het dat sekere regulasies onder die Rampbestuurwet “ongetwyfeld ʼn duidelike oortreding van die Grondwet is”.

Die betrokke regulasies sluit in die beperkings wat op ondernemings geplaas is, asook dié op godsdienstige en ander byeenkomste. Die verbod om op die strand óf in openbare parke te stap asook die beperkte tye waarop geoefen mag word, is terselfdertyd ook van die tafel gevee.

Regter Davis het bevind dat hierdie regulasies inbreuk maak op die vryheid van beweging wat deur die Grondwet gewaarborg word. Hy was uitdruklik in sy bevinding dat die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, nié teen hierdie deel van die oorspronklike uitspraak mag appèl aanteken nie en tien dae het om daarvan ontslae te raak. Die tydperk is egter slegs van akademiese belang en kan nie die hof se beslissing dat die regulasies ongeldig is, omverwerp nie.

Die LFN se president, Reyno de Beer, sê die regter het daarmee ʼn einde gebring aan die streng afsonderingstydperk van meer as drie maande.

In sy jongste stap reik die LFN nou ook permitte uit aan mense wat by die netwerk aansluit. Daarvolgens is die draer van die permit nie onderworpe aan die regulasies wat ongrondwetlik verklaar is nie. Die regulasies wat steeds van krag is en handel oor die verbod op uitsettings, plekke en persele wat vir die publiek gesluit is en die sluiting van grense, is nie by die permit ingesluit nie.

Adv. Hendrik P van Staden van die nasionale balieraad sê dis korrek om te sê dat regter Davis se uitspraak die streng afsonderingstydperk tot ʼn einde gebring het. Hy sê die regter het in die uitspraak van 2 Junie bevind dat dit ʼn rasionele besluit was om ʼn nasionale ramptoestand te verklaar, maar dat die gepaardgaande regulasies, wat ten doel gehad het om die opwaartse kurwe van koronavirusinfeksies gelyk te maak, nié rasioneel is nie.

“Die uitspraak verwys na verskeie van die vlak 3- en vlak 4-regulasies wat teenstrydig is met artikel 36 van die Grondwet en dus nie regverdigbaar is in ʼn oop demokratiese samelewing wat op menswaardigheid, gelykheid en vryheid gegrond is nie,” aldus Van Staden.

Adv. John Welch van die Gautengse vereniging van advokate sê die doelstellings van artikel 27 van die Rampbestuurwet is om die publiek te beskerm, uitkoms of hulp aan hulle te verleen, eiendom te beskerm, wanorde te voorkom en te beveg en om die vernietigende uitwerking van ʼn ramptoestand te hanteer.

Hy sê regter Davis sê in die oorspronklike uitspraak die uitgangspunt (met die opstel van die regulasies) was nie “hoe kan ons as regering die grondwetlike regte op die mins moontlike manier beperk terwyl ons die inwoners van Suid-Afrika steeds beskerm nie”, maar eerder “ons wil ons doel bereik wat ook al die middel en ongeag die koste, en ons sal bepaal, al is dit toenemend, watter grondwetlike regte die mense van Suid-Afrika mag uitoefen”.

“Indien ʼn mens na die doelstellings van die magtigende wet kyk en in gedagte hou dat die Grondwet nie deur hierdie wet opgehef of beperk word nie, dan is dit duidelik dat die regering uitgegaan het van die standpunt “ons sal jul bewegings en jul doen en late reguleer, ongeag jul grondwetlike regte”.

Die LFN was verras dat regter Davis ook regulasie 48 (2) uitgesluit het van die minister se aansoek om appèl wat beteken dat ʼn oortreding van die inperkingregulasies nie meer ʼn strafregtelike klag tot gevolg kan hê nie. “Die dra van maskers is byvoorbeeld steeds verpligtend, maar nie iets wat tot inhegtenisneming en strafregtelike vervolging kan lei nie.”

Ander regulasie wat hierby ingesluit is, het betrekking op die hou van begrafnisse (regulasie 35), inisiasie (regulasie 38), toegang tot alle byeenkomste (regulasie 39), drankverbruik op die perseel (regulasie 44), en die verkoop van tabak (regulasie 45).

“Ons glo dat hoewel die verkoop van tabak steeds tegnies verbied is ingevolge regulasie 45, die hof nou beveel het dat die verkoop van tabak nie meer strafregtelik vervolg kan word nie,” sê die LFN se Reyno de Beer. “Die regering se enigste manier om dit nou af te dwing is deur middel van ʼn siviele proses. Die polisie en ander wetstoepassers mag die wettige verkoop van tabak volgens die uitspraak nie afdwing nie.”

In ʼn vroeëre artikel wat deur die regskenner, prof. Richard Calland van die Universiteit van Kaapstad, geskryf en op die webwerf, The Conversation Africa, geplaas is, sê hy dat die uitspraak van 2 Junie verreikend is. Dit plaas verdere onwelkome druk op die regering wat reeds oorweldig is met ʼn komplekse, heeltemal onbekende en voortdurend veranderende terrein van besluitneming.

“Maar die uitspraak beteken dat dit nie moontlik sal wees vir die regering om terug te keer na die ou vlak 4-regulasies sonder ʼn wesenlike herskryf daarvan nie,” aldus Calland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Dit is nou die regter voor wie en my saak voor gehoor wil word……Regter Norman Davis. Hy ken sy reg, en hy is billik teenoor almal, en alle sake. As jou saak voor Hoofregter Dunstan Mlambo, of Jody Kollapen verskyn dan kan jy maar net jou vingers kruis!

Jaco ·

ek wonder nog steeds oor Dr. Dlamini-Zuma se wit regsverteenwoordiger. Dit lyk seker mooi “non-racial”, wat ‘n woord is wat die ANC baie gebruik, maar ons weet tog almal hoe lyk die ANC in praktyk en in harde werklikheid: hulle hamer gedurig op meer regstellende aksie, meer BEE, wegdoen van wit mense in die ekonomie en “transformasie” van die regstelsel.
In die lig van al hierdie dinge, is dit dus baie vreemd dat Dr Dlamini-Zuma ‘n wit regsverteenwoordiger het. Is hier dalk dubbele standaarde ter sprake?

JohanR ·

Jaco – vir ‘n wit asdvokaat, eintlik enige vel kleur advokaat, is die belastingbetaler se geld wat van ‘n ANC hofsaak kom sommer maklike geld. Of jy nou wen of verloor word die belastingbetaler se geld sommer gou in jou bakrekening inbetaal. Geen wagtyd met belastingbetalers se geld! Kan jy onthou in debat in skool moes een teen aborsie praat vir drie minute, en een teen aborsie praat, al was daai ou VIR aborsie. Jy moes maar die beste in drie minute maak van ‘n saak wat jy eintlik in die teen oorgestelde geglo het. Soe is dit met ‘n advokaat, en hy of sy word in algeval betaal, maar belastingbetaler se geld is gou geld!

Jaco ·

steeds vreemd dat ‘n politieke party wat wit mense min of meer openlik haat, ‘n wit regsverteenwoordiger gebruik. wat dan van regstellende aksie en BEE?

Nell ·

Dalk maar net window dressing om goed te lyk in die oë van die wereld.

marius ·

Daar is goeie advokate , briljante advokate en dan manne soos Adv J Welch .

johanf ·

Nou raak ek dom, hoe raak al die besluite ons, moet dit nou eers weer deur die kabinet bespreek word, dan in die Staatskoerant adverteer word, voor dit implimenteer word….??
Ek voel regtig dom.

Jaco ·

MM ek is nogaal beïndruk dat jul hierdie goeie nuus geplaas het want al die ander nuus blaaie asook die tv media is doodstil hieroor. Wys jou net, MM is van min nuusblaaie nog nie gekaap is deur ons regering nie.

Stephanus ·

Ek weet nie wat ene R Calland met “onwelkome druk” bedoel nie. As die magsbeheptes met sg doktersgrade nie die mense soos diere behandel het nie, meer insette oor n wyer spektrum van akademici ingewin en sinvolle oorweging aan lg insette geskenk het, sou hulle nie nou soveel teenkanting ervaar nie. Dit help nie om met mooi woordjies soos “fellow South Africans” te kom as daar mense is wat honger of bekommerd oor hul besighede is nie of soos een swartman genoem het dat sy pa wat oorlede is, “soos n hond begrawe is” nie. Hulle moet op een of ander stadium leer en besef dat hulle nie godjies is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.