Hofsaak oor SAL-salarisse Maandag aangehoor

(Foto: Maroela Media)

ʼn Dringende hofaansoek oor personeel van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se salarisse word Maandag in die arbeidshof in Johannesburg aangehoor.

Die nasionale metaalwerkersunie (Numsa) en die Suid-Afrikaanse vereniging vir kajuitpersoneel het ʼn dringende aansoek gebring om SAL te verplig om drie maande se salaris aan sy lede te betaal. Die saak sou Donderdag aangehoor word, maar is tot Maandag uitgestel.

“Ons wil hê die arbeidshof moet ʼn besluit deur die sakereddingspraktisyns om nié ons lede se salarisse te betaal nie tensy hulle ʼn onregverdige ooreenkoms aanvaar, onwettig verklaar. Ons wil ook hê die hof moet SAL beveel om ons lede se salarisse binne sewe dae te betaal,” het Phakamile Hlubi-Majola, nasionale woordvoerder van Numsa Sondag gesê.

SAL is in Desember 2019 in sakeredding geplaas en het in Desember verlede jaar ʼn ooreenkoms met werkers bereik om drie maande se salarisse te betaal. Maroela Media het berig die departement van openbare werke is simpatiek teenoor werknemers in SAL wat al maande lank nie salarisse ontvang het nie terwyl geld vir die herstrukturering van die lugdiens verkry is. Die departement beskou egter die ooreenkoms wat op 4 Desember met van die vakbonde bereik is vir die betaling van drie maande se salarisse as billik.

“Sekere vakbonde ondermyn doelbewus die proses en dit lyk asof hulle in ’n alliansie is met opposisiepartye om die sakereddingsproses te ondermyn,” het Richard Mantu, woordvoerder van die departement, gesê. “Die hersiene posisie van sommige vakbonde wat die volle vereffening van uitstaande salarisse vereis, kan nie toegelaat word nie.”

Die saak sal Maandag 13:30 via Zoom aangehoor word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stefan ·

Die GELD IS OP, dis klaar, daar is nie meer nie.
Watter deel verstaan julle nie.
En dis as gevolg van die sieklike kombinasie van korrupsie, wanbestuur, en vakbonde se belaglike looneise en stakings.
Geen besigheid kan onder die omstandighede oorleef nie.

Die Wolf ·

Hoeveel geld is daar in die vakbonde se koffers. Gebruik daarvan om julle lede te betaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.