Hofsaak oor verhuisings kom

verhuis-trek-bokse-oorlaai

(Argieffoto: pixabay)

ʼn Verhuisingsmaatskappy sleep die ministers van onderskeidelik samewerkende regering en tradisionele sake, vervoer, asook handel en nywerheid hof toe in ʼn poging om verhuisings tydens die staat van landwye afsondering moontlik te maak.

Joppie Nienaber, uitvoerende hoof van Eezi Move Furniture Removals, sê die aansoek word na verwagting volgende week in die Noord-Gautengse hooggeregshof aangehoor.

Ingevolge die afsonderingsregulasies word enige verhuisings in dié tyd verbied.

“Talle van ons klante se besittings word by ons in stoorfasiliteite gehou. Baie daarvan is vooraf opgelaai, maar níks kan nou afgelewer word nie,” het Nienaber gesê.

“Ons het klante wat op die vloer slaap omdat hulle nie meubels by hulle het nie. Mense het nie wintersklere of komberse nie. Die regering sê mense moet van die huis af werk, maar hoe moet jy dit doen word as jy bykans niks van jou besittings by jou het nie?

“Daar gaan nie ʼn dag verby dat iemand nie ons kantore bel en droewig huil omdat hulle níks het nie.”

Nienaber sê Eezi Move behartig gewoonlik tussen ʼn duisend en 1 500 verhuisings per maand. Die afgelope ses weke het nie net hul onderneming tot stilstand gekom nie – maar ook die lewens van talle van hul klante.

Die onderneming vra die hof nie net om mense toe te laat om te verhuis nie, maar ook om verhuisingsmaatskappye as ʼn noodsaaklike diens te verklaar.

Nienaber sê om sonder jou basiese benodigdhede gestrand te wees veroorsaak geweldige trauma en die onderneming kon nie langer gelate toekyk hoe dit gebeur nie.

Maroela Media het voorheen berig ingevolge die afsonderingsregulasies moet verhuurders huurders tegemoet kom indien hul kontrakte verstryk, maar almal moet bly waar hulle is.

Die regering het ná die verlenging van die afsonderingstydperk wel ʼn vensterperiode afgekondig waartydens mense toegelaat word om vir byvoorbeeld werksdoeleindes tussen provinsies te reis. Hulle kan egter nie van ʼn verhuisingsmaatskappy gebruik maak hiervoor nie.

Die direkteur-generaal van vervoer, Alec Moemi, het vroeër volgens TimesLive die voorbeeld gebruik van iemand wat tydens die venstertydperk van Limpopo na Gauteng reis met ʼn matras agterop ʼn bakkie. In dié geval keer die persoon terug na sy woning in ʼn ander provinsie en word die reis toegelaat. Moemi het egter gesê dit beteken nie mense mag nou in dié tyd verhuis deur van bakkies gebruik te maak nie.

Nienaber sê in sommige gevalle het mense nuwe eiendomme gekoop wat nou reeds aan hulle oorgedra is en waarvoor hulle die paaiement moet behartig, maar hulle moet steeds huurgeld vir ʼn ander eiendom betaal omdat hulle nie mag verhuis nie. Dit plaas enorme finansiële druk op baie mense.

Nienaber sê hulle het verlede maand aan die minister van vervoer, Fikile Mbalula, geskryf en gevra vir duidelikheid rakende die talle onsekerhede oor verhuisings.

Hy sê die onderneming is intussen gereed om aan al die beroepsgesondheidsbepalings en ander veiligheidsmaatreëls te voldoen om te verseker die onderneming doen veilig sake.

Die departement van vervoer kon Dinsdag nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Ansie ·

Daar is beslis nie goed nagedink oor die afsonderingsregulasies nie.

Michael 1 ·

Wie ken jy wat al ooit in die anc n plan gehad het wat werk?

Michael 1 ·

Mense doen aan ander wat daardie mense hulle toelaat om te doen.

Marius ·

Jammer maar net die weermag mag nou trek . LOL Hulle het die mannekrag , voertuie en vuurwapens om dit te kan doen .

Christina ·

Hulle mag nie, my seun het eiendom gekoop, ander persoon, ook weermag het gaan aansoek doen vir permit, is af gewys. So my seun sê hy gaan nie eers aansoek doen nie.

Marius ·

Christina – Dit is nie wat op Facebook aangaan nie . Samel met huis meubels op wat dit vervoer . Dit lyk soos iemand wat trek met die weermag se hulp ?? Ek se maar net wat ek gesien het .

Jaco ·

Mag mens binne dieselfde woonbuurt trek? huise 3km van mekaar af.

Blue Butterfly ·

Ja, jy mag draf met jou meubels tussen 6vm tot 9vm LOL!

Oom Hennie Pennie ·

Dis veregaande dat mense hulle moet wend na die hof vir ondeurdagte besluite.

Gretchen ·

Ons wil net trek na n huis 2 strate af van waar ons nou bly, maar mag glad nie.

Anel ·

Hierdie hele inperking is nie behoorlik deur gedink nie. Die regering het die klok hoor lui maar weet nie waar die bel sit nie. Dis al wat ek kan sê.

Bosnimf ·

Wil ook graag ń eiertjie lê. My man het voor die inperking ń werksaanbod van ń ander mpy aanvaar. Toe gebeur die inperking en verlenging. Ons kan nie verhuis. Ons bly nog in die vorige mpy se behuising. Moet vir beide betaal en die kersie op die koek, dit alles in dieselfde provinsie. Maar trek kan ons nie trek.

Chris ·

Hoogtyd ek hoop hulle wen die hofsaak. Daai klomp da bo moet wakker word.

Cleopatra69 ·

Die verskil tussen level 5 & 4 is so minimal dat dit nie eintlik n verskil aan die ekonomie maak nie omdat plekke nie met 30% van hul personnel kan werk nie. Vanmore op ENCA kla Sars oor hul nie belasting geld kry nie. Laat die mense werk en sorg eerder dat ekonomie aangaan en dat sanitasie ens toegepas word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.