Hofsaak vreet aan Senekal-sakeman

André Pienaar buite die hof op Senekal. (Foto: Maroela Media)

“Die ding vreet aan my. Ek gaan eerder dood as om tronk toe te gaan.”

Só sê André Pienaar (52), ’n sakeman van Senekal wat verlede jaar in hegtenis geneem is ná ʼn oproer tydens die verskyning van twee mans in verband met die moord op Brendin Horner.

Pienaar word deur ses aanklagte in die gesig gestaar, waaronder brandstigting, openbare geweld, poging tot moord, beskadiging van staatseiendom en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die klag van terrorisme teen Pienaar is teruggetrek.

Honderde mense het op 6 Oktober na die hooggeregshof op Senekal in die Vrystaat opgeruk waar Sekwetje Mahlamba (32) en Sekola Matlaletsa (44) vir die eerste keer in verband met Horner (21) se moord verskyn het.

Gemoedere het hoog geloop toe die skare nie die beskuldigdes te siene kon kry nie en ʼn polisievangwa is tydens die kabaal omgestoot en het aan die brand geraak. Skade is ook aan die hofgebou aangerig.

Pienaar is sedertdien op borgtog vrygelaat, maar die moontlikheid van tronkstraf hang soos ʼn swaard oor sy kop.

Pienaar het Louis Pienaar, ’n prokureur van Bloemfontein, as sy nuwe regsverteenwoordiger aangestel en glo tog die saak sal ’n goeie uitkoms hê. Hy verskyn weer op 10 Desember in die hof.

“Ek glo Louis sal vir my fight. Dit gaan egter nie net oor my nie, maar oor al die boere in die land. Ek voel as ek die saak verloor, verloor die boere. Dan sal boere nooit vir hulself kan opstaan nie,” het Pienaar aan Maroela Media gesê.

Volgens Pienaar het hy die dag op die ingewing van die oomblik besluit om ’n draai by die optog te maak. Hy sê hy was nooit van plan om na die optog te gaan nie omdat sy gesin daardie week van die plaas na die dorp getrek het.

“Terwyl ek besig was om ons gasgeiser te koppel, bel skoolseuns my en vra hulle soek ’n saamrygeleentheid na die optog. Toe help ek hulle.

By die optog gekom, het hy besluit om ʼn bietjie rond te loop en te kyk wat aangaan. “Daar was baie boere voor die hof. Ek wou weer ry toe boere my voorkeer en met my begin praat. Hulle het my later gevra om iets te sê.

“Ek is nie iemand wat graag voor mense wil praat nie, maar besluit toe op daardie oomblik om my misnoeë oor plaasaanvalle en -moorde te deel. ’n Mens se emosies bou op tot kookpunt en dan borrel dit skielik uit.”

ʼn Sondebok

Pienaar sê hy is nog heeltemal in die duister waarom hy al die aanklagte teen hom het. Hy sê hy was nie betrokke by die beskadiging van die hofgebou of die polisievangwa nie.

“Ek dink hulle wil dalk ’n voorbeeld van my maak. Ek weet regtig nie.”

Pienaar is ’n pa van twee dogters, onderskeidelik 14 en 17 jaar oud, en is ook die broodwinner van die huis. Hy sê dit is ondenkbaar om te dink dat hy dalk sy gesin in die steek moet laat en tronk toe gaan.

“Die gedagte dat ek dalk tronk toe moet gaan, bly my heeltyd bly. Die tronk is hel op aarde, en ek verkies om eerder dood te gaan as om in die tronk te sit.”

Pienaar sê hy voel asof hy die afgelope jaar die pad alleen stap, hoewel honderde mense daardie dag aan die optog deelgeneem het.

“Dit is in hierdie tyd wat ʼn mens veral ondersteuning kort.”

Die gesin is ook finansieel afhanklik van donasies om Pienaar se regskoste te dek.

Maroela Media het vroeër berig die staat het Donderdag erken dat hy nié Matlaletsa en Mahlamba aan Horner se moord kan verbind nie.

Matlaletsa (45) en Mahlamba (33) sal nou slegs van die diefstal van twee skape aangekla word. Uitspraak word na verwagting reeds Vrydag gelewer.

Enigiemand wat ’n bydrae wil maak tot Pienaar se regskoste kan ’n e-pos na [email protected] stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Dries ·

Dit is vreeslik tragies. Ons bid vir jou Andrė. Geregtigheid sal uiteindelik seevier.

Alma ·

Dis so onregverdig, mens voel of jou hand net afgekap is… Ek het nog van geen een gehoor wat tronk toe gestuur is oor “ander kere” wat daar oproere was nie, en dan was van die land se hoogste politikuste daarby betrokke. Hoekom draai die wiel net vir party mense…?

Jan Nel ·

Mnr Pienaar, ek gaan ‘n bydrae maak in die vorm van gratis advies. Moenie met die media praat oor die saak nie en veral nie as jy goed sê soos “jy sterf eerder voor jy tronk toe gaan” nie.

Die staat kan óók, op grond van nuwe feite, aansoek doen vir kansellasie van jou borgtog en enigiets wat op ‘n moontlikheid dui (of jy nou ernstig was of nie) dat jy ‘n gevaar vir jouself is, of geregtigheid wil vermy, kan as geldige grond gesien word vir intrekking van jou borg.

Alex ·

As die EFF dit doen, word niks verder gedoen of iemand in hegtenis geneem nie. Die selfde EFF wat soms miljoene Rande se dkade doen, maar Andre word sielkundig afgetakel

Elize ·

Hoe hartseer dat hierdie man moet tronk toe maar die treurige polisie het nog nie eens die moordenaars wat dalk onder hulle eie geledere is platgetrek nie. Net ‘n bewys dat jy in hierdie land nie kan opstaan vir jou regte nie.

Estelle ·

Hy “moet” nog nie tronk toe nie….. die saak moet nog voorkom.

Magda ·

Wat van EFF SE TERRORISTE wat so veel skade asook aanhitsing van geweld in di openbaar doen maar niemand word daar gearresteer ni.

Agge nee ·

Nou wat het geword van al die voorbokke van die strooptogte in KZN rn Gauteng. Daar is biljoene rande se skade en almal wyg. Kan ons nie geld insamel en die verbrande, lees simpel polisiebakkie vervang nie, aangesien dit nou staatseiendom is wat beskadig is. Die biljoene wat van Sasria af ge-eis word, is ook die staat se skade, want Sasria is die staat. Praat van dubbele standaarde.

Madz ·

Here…. dinge ruk heeltemal handuit. Wat reg is is verkeerd en wat verkeerd is is reg! Ons almal weet hierdie man is onskuldig maar Liewe Vader ons kan hierdie gemene, politieke magsstryd nie alleen fight nie. HELP HERE – GRYP asseblief in want dinge kan nie so aangaan nie! Moordenaars loop vry los – onskuldige mense word vermoor en vertrap en verneder in die naam van “apartheid”! Ons het U Almagtige Hand oor ons en in ons land so bitter nodig! Seblief hoor ons gebede!

MakersMark ·

Dis maklik om die tronk te vermy moet nie soos ‘n krimineel optree nie.

Lockdownfountain ·

Maar ander mag miljoene rande se skade aanrig wat besighede laat toemaak het en mense gesterf het ,maar een man word nou hier as n politieke speelding gebreek .Pateties isn mooi woord ,die land brand en hulle worry oor n bledie vangwa wat omgegooi is .Ek hoop die arme man kry eendag ook herkening as n vryheids vegter in die toekomstige Nuwe Suid Afrika .Liewe hel maar nou raak dit darm te erg .

Toetsie ·

Waar is ons Afrikaner bewegings wat hierdie man moet help??!!

Delia ·

Afriforum, solidatiteit, Kan julle nie help.
Solidariteit het n regsfonds waartoe mense maandeliks bydra. Mense bedoelende ons publiek.

ES ·

Wanneer gaan hulle al die diegene wat hul vroeg die jaar skuldig gemaak het aan massa betogongs en brand van eiendomme vervolg? Wat van MALema wat heeltyd oproerig is?

Hierdie is net ‘n heksejag omdat sy vel wit is…

DIABLO ·

Siestog regering. Regtig???? Wat van AL die vorige siele wat al skade aangerig het tydens betogings???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.