Hofstryd ná oupa se misbruik: ‘Ons moet kan sê ons het álles gedoen’

‘n Ma kyk na ‘n foto van haar gesin op haar selfoon terwyl sy vertel van die opdraande hofstryd om geregtigheid vir haar oudste dogter te laat seëvier. (Foto: Christel Cornelissen)

“Ek wil eendag my kind in die oë kyk en ek wil vir haar kan sê ons het alles moontlik gedoen om haar te beskerm.”

Só het ʼn ma van Delmas die afgelope week vertel oor die uitgerekte stryd om haar skoonpa, wat aan onder meer die verkragting van haar negejarige dogtertjie skuldig bevind is, aan die pen te laat ry – én hul lewens te probeer herbou.

Om dit ʼn opdraande stryd te noem, is vir dié gesin eintlik te min gesê. Twee jaar lank al veg hulle verbete in die hof – maar ook op die plaas waar hulle woon en werk én in die gemeenskap waarvan hulle deel is – vir geregtigheid vir hul oudste dogter.

Die vrou sê hulle het sowat twee jaar gelede agtergekom iets is nie pluis nie met hulle middelkind, toe sewe jaar oud. Haar gedrag het handomkeer verander en sy was huilerig en opstandig.

Die vrou, haar man en hulle drie kinders woon saam met haar skoonouers op ʼn plaas in Mpumalanga waar hulle ʼn familieboerdery bedryf. Waar die dogtertjie voorheen baie geheg aan haar oupa was, wou sy skielik niks meer met hom te doen hê nie en het sy hom ten alle koste begin vermy.

Die vrou vertel sy het besef daar is groot fout, maar nie die kliniese sielkundige óf spelterapeut na wie hulle die kind aanvanklik geneem het, kon die probleem identifiseer nie.

(Foto: pixabay)

In Februarie 2018, vir haar sewende verjaardag, het die klein meisie ʼn dagboek as geskenk gekry. Sy het haar ma gevra om dit nié te lees nie, maar tog die kode vir die boekie verskaf. “Dalk was dit ʼn hulpkreet,” vertel haar ma.

Weens haar groeiende onrus het die vrou besluit om wél deur die boekie te blaai – en daarin het sy afgekom op eksplisiete tekeninge wat die dogtertjie gemaak het.

Sy het vermoed haar skoonpa is die persoon in die tekeninge en sy het dadelik haar man én skoonma van haar vermoede oor seksuele misbruik ingelig.

“Ek het net gewéét. Dit was 26 Februarie 2018 en ek sal daardie dag nooit vergeet nie.

“Jy dínk iets het dalk gebeur, maar ʼn mens sukkel steeds om dit te gló,” sê sy.

Die vrou het daardie dag haar kinders by die skool gaan oplaai en by haar tuiskoms het haar skoonma haar na ʼn dam op die plaas ontbied waar haar skoonpa met haar wou gesels. Daar aangekom het die oupa, ʼn gesiene boer in die omgewing, gebieg dat hy die dogtertjie gemolesteer het. Hy het ook om verskoning vir sy dade gevra.

Later sou dit uitkom daar was meer as een voorval, en dat sy optrede op verkragting eerder as molestering neerkom.

(Foto: Volodymyr Hryshchenko)

“Wat doen jy? Ek kon nie ʼn woord uitkry nie,” sê sy oor haar verslaentheid daardie dag.

Haar man het haar later vertel dat sy pa kort tevore gedreig het om homself te skiet en gebieg het dat hy die dogtertjie misbruik het.

Dit was ook nie lank nie of bykans die hele gemeenskap het geweet van die gebeure.

“Baie mense het ons dadelik gebel en gesê ons moet versoen en vergewe en vergeet,” vertel die ma.

Dit was veral ouer inwoners van die gemeenskap wat die gesin aangeraai het om die te vergeet en met hul lewens aan te gaan.

Vir dié ma en pa was dit egter nie ʼn opsie nie. Hulle het hul dogtertjie ʼn paar dae later eenkant geneem en vir haar gesê hulle weet wat met haar gebeur het. Ook dat sy nou veilig is. Hoewel sy geen besonderhede oor die misbruik aan hulle wou verklap nie, het die dogtertjie haar pa huilend vasgeklou. Hulle sal haar beskerm, het hulle onderneem. En hulle het haar oneindig lief, het hulle gesê.

Maar dit was net die begin van die pad.

In dié stadium het hulle egter nog geen klagte by die polisie ingedien nie.

“Niemand gee vir jou ʼn tienpuntplan as só iets gebeur nie. Ons het nie geweet wát om te doen nie.”

Haar skoonouers is vir ʼn paar weke na hul huis by die see terwyl die gesin op die plaas agtergebly het om die gebeure te probeer verwerk. By hul terugkeer het haar skoonpa volgens die vrou gesê hy het God gevind en dat hulle voortaan in liefde moet saamleef. Dit was volgens hom ook wat God van hulle verwag.

(Foto: pixabay)

Die dogtertjie se ouers het intussen regsadvies ingewin en ʼn prokureur het hulle aangeraai om die beweerde misbruik aan te meld, omdat dit ingevolge wetgewing van hulle vereis word. Hulle het dié raad gevolg en ʼn saak aanhangig gemaak.

Haar skoonpa is kort daarna in hegtenis geneem en is later op borgtog van R50 000 vrygelaat.

Die vrou sê hulle het in September 2018 uit desperaatheid Wes-Kaap toe verhuis, waar haar man ʼn nuwe boerderyvertakking sou begin. Sy pa het egter geweier om finansiering vir die nuwe boerdery-afdeling te verskaf en die gesin het geen ander keuse gehad as om terug te keer na die plaas in Mpumalanga nie.

Haar dogtertjie is steeds vreesbevange dat sy haar oupa êrens op die plaas gaan raakloop en hoewel hy nie naby hul huis mag kom nie, is die plaas ook net só groot. “Dit is ondraaglik om elke dag op die plaas te ry en bang te wees hy kom van voor af,” sê sy.

Dis ook uiters moeilik vir die dogtertjie se pa om elke dag steeds noodgedwonge saam met haar verkragter te werk.

Die meisie ondergaan steeds intensiewe terapie en hoewel sy bogemiddeld intelligent is, sukkel sy op skool. Sy praat steeds glad nie met haar ouers oor die gebeure nie, maar het wel in besonderhede aan ʼn forensiese maatskaplike werker vertel wat gebeur het.

Haar skoonma, wat bankvas by haar man staan, het die kind se ma ook gewaarsku dat haar dogtertjie haar moontlik eendag gaan verkwalik omdat sy nie die hofsaak wil laat vaar nie.

“Ek hou vir haar ʼn joernaal en ek hoop wanneer sy eendag groter is, sal sy verstaan,” verduidelik die vrou haar besluit.

“Die gif moet uitkom, ons moet almal gesond word. Ons moet kan sê ons het alles moontlik gedoen om te verseker geregtigheid het geskied,” sê sy vasbeslote oor die hofsaak wat die familie in twee geskeur het.

“Hy kan alles van ons wegvat, maar nie die liefde is ons huis nie,” vertel die ma waar sy vir die soveelste keer op die trappe voor die landdroshofgebou in Secunda wag vir die verhoor om voort te gaan.

Secunda hof landdroshof

Die saak teen die oupa is vandeesweek in die Secunda-landdroshof uitgestel. (Foto: Maroela Media)

“Hy gaan ons nie breek nie, en ons dogtertjie ook nie. ʼn Mens moenie bang wees vir wat jy dalk kan verloor nie, maar as jy gesond wil word, moet dit wat in die duisternis was, in die lig gebring word.”

Die ma vertel hulle het die afgelope paar jaar geweldige druk uit die gemeenskap gehad om die saak te laat vaar. Hulle is selfs gedreig. Sy sê egter vir hul dogter se onthalwe – en ook vir dié van ander slagoffers wat deur soortgelyke misbruik gegaan het – sal hulle die saak enduit sien. Hoe hartverskeurend dit ook mag wees.

Die meisie se 11-jarige boetie het, nadat die gebeure op die lappe gekom het, nog tyd saam met sy oupa deurgebring, maar wou dit later ook nie meer doen nie. “Hy beskerm sy sussietjie baie,” vertel hulle ma.

En waar sy sussie voorheen sorgvry as ʼn plaaskind oral buite gespeel het, is die dogtertjie steeds vreesbevange om dit te ver van die huis te waag. “Haar vryheid word ingeperk, maar hý kan maak net wat hy wil….”

Die egpaar het ook ʼn vyfjarige dogtertjie. Die ma vertel hoewel die hofsaak ʼn geweldige tol van die gesin eis, hulle dit verduur om eindelik genesing te vind. Hulle het ook ʼn ongelooflike ondersteuningsnetwerk – van familie tot vriende – wat hulle deur die gebeure staande hou.

“Hier by die hof veg ons vir haar, maar by die huis fokus ons op mekaar – en op die toekoms.”

(Foto: Maroela Media)

Hofsaak

Die 66-jarige oupa het in Mei verlede jaar skuldig gepleit op ʼn aanklag van verkragting, seksuele aanranding en die dwing van ʼn kind om na seksuele dade te kyk. Hy is skuldig bevind en getuienis ter strafverswaring en strafversagting is vandeesweek voor landdros Graham Cupido aangehoor.

Die saak is Dinsdag egter weer uitgestel – dié keer weens vrese oor die moontlike verspreiding van Covid-19. Die verhoor word in Junie voortgesit.

Die ma het na afloop van die hofverrigtinge gesê hulle is platgeslaan deur nóg ʼn uitstel.

“Ons is stukkend. Stukkend. Die regstelsel faal ons dogtertjie.”

Van opgee is daar vir hulle egter geen sprake nie.

ʼn Strafregkenner sê:

Dr. Llewellyn Curlewis, ʼn strafregkenner, sê ingevolge die nuwe Wet op Seksuele Misdrywe het enigeen in ʼn gesagsposisie (in loco parentis) ʼn verpligting om ʼn verdagte handeling teenoor minderjariges, en in die geval waar seksuele misbruik vermoed word veral diegene jonger as 16 jaar oud, aan te meld.

Curlewis sê indien daar versuim word om onder sulke omstandighede pro-aktief op te tree, kan die betrokkenes sélf van ʼn misdryf aangekla word. Die hof, as oppervoog van alle kinders, kan boonop beslis dat ʼn ouer se bevoegdheid van hom of haar weggeneem word, sou daar bevind word daar was ʼn versuim om daadwerklik op te tree.

“ʼn Wet word geskryf vir die breër gemeenskap en publiek en daar kan nie uitsonderings gemaak word nie. In die praktyk is dit egter nie altyd uitvoerbaar nie en dit is moeilik om te monitor,” sê hy.

Anders as die meeste ander misdade, verjaar klagtes van seksuele misbruik boonop nooit.  ʼn Volwassene wat as kind aan misbruik onderwerp is, kan dus steeds later ʼn klagte aanhangig maak.

Curlewis sê in so ʼn geval kan die hof weer eens vra waarom, as die ouers of diegene in ʼn gesagsposisie van die beweerde misbruik geweet het, hulle nie betyds opgetree het nie. Hulle kan dan vir hul gebrek aan optrede vervolg word.

(Foto: Markus Spiske/Unsplash)

Maatskaplike werker gee raad

Yolandi Singleton, ʼn ervare maatskaplike werker, spelterapeut en hoof van Helpende Hand se Ons Sentrum in die noorde van Pretoria, stem saam dat hoewel dit nie altyd maklik is nie, wetgewing van ouers vereis om beslissend op te tree.

“Soms moet jy ongewilde besluite neem, maar dit is in die belang van ʼn kind. Waar ʼn misdaad gepleeg word, is dit boonop ʼn kwessie van móét en nie of jy wíl nie,” sê Singleton.

Sy sê veral jong kinders het nie die emosionele en intellektuele kapasiteit óf volwassenheid om besluite oor kwessies soos die aanmeld van ʼn misdaad te neem nie. “Dit is belangrik dat ʼn ouer vir die kind se onthalwe intree.”

ʼn Kind kan sy of haar ouers moontlik later eerder verkwalik omdat hulle nié opgetree het nie. “Jy wil nie ʼn kind grootmaak wat dink haar liggaamlike grense mag oorskry word nie,” sê Singleton.

Volgens haar kan terapie ook ʼn baie belangrike rol speel om verhoudings te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Belinda ·

Ek is ongelooflik trots op die Ma en Pa van hierdie dogtertjie, dit is ware ouers en ek stem saam,sy sal alles kan verwerk en jul ewig dankbaar wees. Julle veg sowaar ‘n stryd vir haar. Beter ouers kon sy nie vra nie. Aan die Ouma, jy moet jou kop laat lees, ek sal eerder gaan vloere skrop as om saam met my kleinkind se verkragter te woon. Aan die Oupa, mag jy nooit ophou dink aan wat jy aan ‘n pragtige jong dogterjite jou eie bloed gedoen het nie, mag jy elke dag in vrees lewe “Wanneer gaan ek tronk toe en wat gaan van my daar word, dit is wat sy nou moet deurgaan” Aan die Pa van hierdie dogtertjie, wens ek het die lotto gewen, dan kon ek vir jou gesin ‘n toekoms geskep het, jy is werklik ‘n voorbeeld van ‘n goeie ouer, so jammer jou Pa het jul bubble so lelik gebars.

Johanncb ·

Die kind se lewe en toekoms is op die spel! Alles moontlik moet vir haar gedoen word! Die bewyse om die oortreder te vervolg blyk voldoende te wees! Help asseblief die kind!

ameli ·

Jul moes nie terug gegaan het nie, vind n manier al is dit vir minder salaris, maar sy moet daar wegkom en gesond kom die plek gaan haar heeltyd daaraan herinner. Sy moet nou heeltemal eerste kom.

Anel ·

Kom ons vergelyk bietjie. Twee dogtertjies van dieselfde ouderdom word verkrag deur twee verskillende mans. Die een word dadelik gearesteer, borg word geweier en hy is sommer dieselfde dag deur gemeenskap “gevonnis”.
In die ander geval kry die verkragter borg, sien elke dag die slagoffertjie en hier wil die gemeensksap die slagoffer kruisig wat die selferkende beskuldigde is ‘n gesiene man in die gemeenskap. So, verstaan ek reg, as jy gesiene is kan jy maak wat jy wil en as ras betrokke is, is jy dadelik skuldig. Verstaan mooi, in altwee gevalle is klein dogtertjies betrokke. Behandel die slagoffertjies dieselfde, maar behandel die skuldiges ook dieselfde. Maak nie saak wie jy is nie, as jy misdaad pleeg moet jy dienooreenkomstig gestraf word. Sterkte aan hierdie en alle ander families en slagoffers wat deur veral hierdie tipe misdaad getref word, maak nie saak wie julle is nie. En laat geregtigheid in alle gevalle geskied.

Santjie ·

Ek is trots op julle as ouers. Ouma & Oupa probeer nou op julle gevoel speel. Staan jul kind by soos julle dit doen

Michael ·

Dit is nou regtig hartseer in n tyd wat ons onderdruk en geterroriseer word in die land wat ons huis noem gebeur dit met n onskuldige kind deur n persoon wat sy lief was voor en vertrou het,ek hoop sy kan vergewe en voortgaan met haar lewe,die oupa moet maar sy kanse gaan vat in n oorvol tronk waar niemand hom gaan beskerm nie.

Oujongvrou ·

Hopenlik sal die oupa in Junie tronk toe gestuur word tot in ewigheid. Ouma het haar kleinkind gefaal, so ook al daai mense in die gemeenskap wat die stomme mense nou dreig. Pleks julle laer getrek het om die kindjie en haar ouers. Toemaar mamma en pappa, een van die dae is julle alleen op die plaas. Jammer julle kon nie wegtrek.

Jaco ·

Die strafregkenner en die maatskaplike werker vergeet albei een GROOT feit: beide die misdadiger en die slagoffer is wit. Soos wat ek ons regstelsel ken, sal nie veel gebeur nie. “dis mos maar net wit mense”. Die straf behoort hoogstens ‘n boete en/of opgeskorte tronkstraf te wees.

Niné ·

Hou ons op hoogte Maroela. Ek wil sien of geld en aansien sy straf ligter gaan maak. Aan die ouers wil ek net se ek kan my nie indink om julle kind se verkragter daagliks te sien moet erg wees, hoeveel te meer nie die kind nie. Ouma en oupa het geen berou of skaamte nie.

Maritha ·

O aarde! Hoe kry mens dit reg om daardie vieslike ou man nie met jou kaal hande te vermoor nie.

Amanda ·

Ai dit is verskriklik. Ek sou nie my dogter op dieselfde plaas as die Oupa wou he nie, en ek dink sy lewe heeltyd in vrees dat sy hom gaan raakloop. Ek is jammer maar hy het haar lewe verwoes, sy het hom vertrou met haar onskuldige kind onskuld en hy het dit misbruik. Hy is n vark!

SomeOne ·

sterkte aan almal in die geval
dis darem baie snaaks dat 1 wat molesteer op borgtog van r50,000 vrygelaat word en ‘n ander so min as r500, waar is geregtigheid ?

Toy ·

Baie bly dat die ma en pa hulle dogtertjie so bystaan, sy gaan eendag vir julle dankie se daarvoor en die ouma jy moet maar jou man vergewe as jy wil, maar jou man iets het hom gepla wat ‘n kind se lewe kan verwoes en dit jou kleinkind.

Tokkel ·

Dit is maklik om te sê vergewe, maar hoe vergewe mens wat ‘n kind se lewe verwoes het. As jy ‘n gesiene boer in die gemeenskap is gedra jou soos een. Ouers ek is baie bly julle gaan voort met die hofsaak. Dit is nog vir my sleg dat die ouma ook nog by haar man se aaklige dade staan..”Money talks nê!”

Madeleine ·

My hart is in stukke vir dié dogtertjie en haar gesin! En dít ‘n eie oupa wat hulle lewens só verwoes! Die ou lummel het presies geweet wat hy doen..hoekom sal enigiemand hom wil beskerm???? Wat is fout met die samelewing?! En skaam jou ouma! Glo ‘n “gesiene” figuur in die omgewing! Ag asb!!! Is dit omdat hy geld het? Hy hoort in die tronk waar hy hy ook maar verniel kan word!

Pappa en mamma , julle doen die regte ding om dié monster aan die pen te laat ry!

Ek gee julle my woord dat ek aanhoudend vir julle sal bid.

Mariska ·

Ai ai. Sou lekker wees as mens net kan sê ‘ek’s jammer, vergewe my asseblief, maar kom ons leef nou in vrede saam’. Daar is ongelukkig altyd gevolge vir mens se dade, en ongeag of hy nou skielik dreig met selfmoord, sal hy die gevolge moet dra.

Wondermaarnet ·

Hoe siek is die mense wat raad gee en sê vergeet daarvan en gaan aan met jul lewens. ‘n Onskuldige kind is geskend. Diegene wat sulke raad gee staan seker self agter die deur en is nou bang hul skandes kom uit, want duidelik stel hulle kinders nie eerste nie.

Stofbakkies ·

My hart huil vir ‘n pragtige kind se lewe wat deur ‘n ou lustige man verwoes is. ‘n Oupa wat sy kleinkind moes koester het haar verwoes. Goed gedaan mamma en pappa moenie swig voor ouma, oupa en die gemeenskap se versoeke om die saak te laat gaan nie. Gesiene boer in die gemeenskap – daarom moet hy anders behandel word!!! Twak maak ‘n voorbeeld van die gemors, sluit hom toe en gee daai kindjie weer haar vryheid op die plaas terug. My gebede is met julle. Sterk staan en mag hy gou uit julle lewens verwyder word. Die ouma wat die walglike ou man so bystaan – uit ‘n Christelike oogpunt is dit seker bewonderings waardig, maar uit ‘n menslike oogpunt – SIES!!! Wees liewer daar vir daai klein mensie as vir die ou stuk walglike ding.

Danny ·

Ek het geen woorde nie. Skokkend verby. Ek het wel gebede, en dit sal ek aan julle en julle gesin opdra.

Pim ·

Hierdie is verskriklik. Die ma en pa moet nooit ophou veg vir hulle kind nie. Well Done!

Daai ouma moet haar kop in skaamte laat sak. Sy weet wat haar man gedoen het en dit is vir my so skokkend dat dit ok is met haar en dat almal maar net moet vergewe en vergeet. Die gemeenskap wat hierdie ouers dreig moet ook bykom. Maak nie saak hoe gesiene boer hy dink hy is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.