Hofstryd oor De Lille-‘bewyse’ eers later aangehoor

Kaapstad-burgemeester Patricia de Lille Foto: Phando Jikelo/African News Agency

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, se hofaansoek in ʼn poging om die DA te dwing om die bewyse aan haar te oorhandig waarop die verdoemende interne ondersoek na haar leierskap gebaseer was, sal eers op 1 November aangehoor word.

De Lille het Donderdag buite die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê die saak is binne die regter se kamers uitgestel.

“Die rede vir die uitstel is omdat die hofdatum vasgestel is vir vandag, die 28ste. Die DA is tyd gegee tot 18 Junie om hul beantwoordende verklaring in te dien, maar hulle het versuim om dit te doen. Hulle het eers gistermiddag, die 27ste, hierdie verklaring ingedien – 24 uur voordat die hof vanoggend moes begin,” het sy gesê.

“Vanselfsprekend moes my prokureurs nog daarop reageer en ons moes dit vir die regter bring sodat die regter dit voor vanoggend se hofverrigtinge kon lees. Die regter was nie gelukkig hiermee nie, so die saak is nou tot 1 November uitgestel.”

De Lille het die hof in Februarie genader om te versoek dat die Steenhuisen-verslag ter syde gestel word. Dié verslag is vernoem na die DA se hoofsweep, John Steenhuisen, wat die ondersoek na haar gelei het.

De Lille wil die bevindinge van die verslag betwis en voer daarom aan dat sy die bewyse nodig het wat in die Steenhuisen-verslag gebruik is en daartoe gelei het dat die DA haar van wangedrag aangekla het.

Die dokumente wat De Lille eis is ʼn brief van JP Smith, die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, asook ʼn SMS wat sy na bewering gestuur het oor die prestasietelling van die voormalige stadsbestuurder, Achmat Ebrahim, toe hy destyds vir die pos aansoek gedoen het.

Daar word beweer dat De Lille daarop aangedring het dat ʼn goeie prestasietelling aan Ebrahim gegee moes word omdat sy wou gehad het hy moet die pos kry. Sy ontken hierdie bewering. Ebrahim het bedank ná die bewering aan die lig gekom het en hy ʼn moontlike skorsing in die gesig gestaar het.

De Lille het Woensdag haar regsgeding teen die DA gewen. Die hof het bevind die party het sy eie grondwet en reëls oortree toe haar lidmaatskap beëindig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann du Toit ·

Wag nou maar om te sien of 1 November gaan realiseer. Intussen kom die verkiesing al hoe nader.

Koos de Meyer. ·

Die Da slaan hulle naam met ‘n plank. Hoekom los hulle nie maar die hele affêre nie. Tyd mors en onnodige geld vermorsing. Pateties.

Koos ·

Die DA gaan nog lank met Antie Pat sit. Julle wou mos algar oornooi om by die tafel aan te sit nadat julle tradisionele kiesers julle getrou ondersteun het. Mossiemaarman met sy skreemanier van praat probeer Juliaaas na-aap, foeitog. Lesers wat wakker is onthou nog hoe die DA selfs blou barette begin uitdeel het om sekere kiesers mee te lok, whahahahaha!

John ·

Die DA moes dadelik met die sak patats vorendag gekom het en klaargekry het. Soos Zuma het De Lille haar linies opgestel en haarself martelaar ~ wat mos eiehandig Kaapstad opgebou en gedra het ~ verklaar… met behulp van haar kerklikes en al die anties met ambisie en… en… sekerlik sal baaaie daarvan kan getuig. Iets in die hofsaak herinner baie aan Zuma se destydse Maritzburg-saak. Wat sou dit wees? Maar miskien is hierdie ‘n regstelling in die hoogheilige DA-hoofdominee se vrome politieke doopvond wat nou ook lekplekke begin toon met die uiters skaars voggies wat begin wegdros so voor die komende ‘dalk’ verkiesing.

Theo ·

Dit sal miskien beter wees as die DA die verslag na die Steenhuisie van klei verander, want van soveel tyd ,geld en energie is al gemors met hierdie saak en wil dit voorkom of die DA huisie nou heeltemal uit mekaar uit kraak en een van die dae gaan intuimel. Totsiens DA. It was nice knowing you, but the winds of change have swept through your Steenhuisie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.