Hofstryd oor tenders vir spoorveiligheid duur voort

(Argieffoto: Ashraf Hendricks)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Vier jaar nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof voorwaardes aan Prasa gestel het om behoorlike spoorveiligheid te verseker, word pendelaars steeds nie beskerm nie weens ʼn hofgeding met veiligheidsmaatskappye en ʼn tenderproses wat sloer.

Waarnemende regter Michael Bishop het nou ʼn toesighoudende bevel toegestaan ​​wat Prasa tot einde vandeesmaand kans gee om ʼn nuwe tenderproses vir sy veiligheidskontrakte te voltooi. Prasa moet deurlopend aan Bishop terugvoer oor die stand van sake gee.

Sedert die geskorste regter-president John Hlophe ʼn bevel in 2019 toegestaan ​​het, het die dispuut tussen Prasa en bestaande diensverskaffers voor vyf ander regters gedien. Bishop het gesê dit het die oplossing vir die dispuut verleng. Die saak sal nou by Bishop bly in die hoop dat dit “so gou moontlik sy eindbestemming bereik”.

“Ek hoop hierdie saak sal teen die einde van hierdie jaar afgehandel wees,” het hy gesê.

Die saak spruit uit ʼn beslissing deur die Konstitusionele Hof wat daarop gewys het dat Metrorail en die voorgangers van Prasa ʼn grondwetlike verpligting het om die veiligheid van pendelaars te verseker. Die beslissing is destyds gemaak toe daar ernstige geweldsmisdade op Kaapstadse treine en by stasies was.

In 2011 het Prasa vir Sechaba-beskermingsdienste, Chuma-veiligheidsdienste, Supreme-veiligheidsdienste en die Vusa-Isizwe-veiligheidsgroep op eenjaarkontrakte aangestel om te help om die spoornetwerk en sy passasiers veilig te hou.

Hierdie kontrakte was vir die volgende sewe jaar van krag nadat dit maandeliks verleng is.

Prasa het in April 2019 ʼn nuwe tender uitgereik. Die veiligheidsmaatskappye het almal ʼn bod ingedien. Daar was egter vertragings in die toekenning van die tender en die veiligheidsmaatskappye se bestaande kontrakte is toe weer verleng.

Die veiligheidsmaatskappye het verneem dat hul kontrakte steeds hernu sal word totdat die tender afgehandel is.

Maar op 1 November 2019 het Prasa hulle slegs ʼn paar uur kennis gegee dat daar nie meer van hul dienste gebruik gemaak sal word nie.

Die gegriefde maatskappye het hulle tot die hof gewend en aangevoer dat dit nie in openbare belang is om die kontrakte te skrap nie, aangesien Prasa nie die veiligheid van sy pendelaars sal kan verseker nie.

Hlophe het toe gelas dat Prasa, hangende die finalisering van die tender, moet voortgaan om die betrokke veiligheidsmaatskappye te gebruik.

Hy het Prasa ook beveel om binne 30 dae aan die hof terugvoer te gee, met besonderhede oor die vordering van die tender en ʼn veiligheidsgebeurlikheidsplan wat deur die Spoorwegveiligheidsreguleerder goedgekeur is.

Prasa het egter nie die verslag betyds ingedien nie en boonop die tenderproses vir ʼn permanente veiligheidsmaatskappy gekanselleer.

Prasa het voortgegaan om die veiligheidsmaatskappye in diens te neem, maar het hulle soms nie betaal nie, wat tot verdere hofstappe gelei het.

In Julie 2020 het Prasa eindelik sy verslag ingedien. Die slotsom was soos volg: Hoewel Prasa aansienlike beplanning gedoen het om sy veiligheidsaanbod te verbeter, het hy toegegee dat hy nie in daardie stadium die veiligheidsmaatskappye kon vervang nie.

Bishop het verlede week gesê “dinge het stil geraak” totdat Prasa die aansoek in Junie vanjaar by hom ingedien het vir ʼn “kwytskelding” van Hlophe se toesighoudende bevel.

Dit wou die veiligheidskontrakte met ʼn 60-dae-kennistydperk beëindig.

Prasa het gesê hy het nou aan die toesighoudende bevel gehoor gegee en is op die punt om ʼn nuwe tender toe te staan. Dit het glo goedkeuring van die reguleerder ontvang.

Die veiligheidsmaatskappye het dit ten sterkste veroordeel en aangevoer dat die aansoek voortydig was en pendelaars se veiligheid weer in gevaar is.

Die regter het gesê Prasa het tydens betoë aanvaar dat hoftoesig nodig is totdat die 2023-tender afgehandel is, en dat die veiligheidsmaatskappye se dienste tot dan behou sal word.

“Dít was ʼn goeie toegewing,” het die regter gesê en opgemerk dat Prasa nie aan die voorwaardes van die toesighoudende bevel voldoen het nie.

Hy het dit ook as ʼn grondwetlike kwessie bestempel. Die regverdiging vir die toesighoudende bevel was nie primêr vir die diensverskaffers se kommersiële belange nie, maar vir pendelaars se grondwetlike regte.

Toesig was dikwels ʼn baie meer doeltreffende manier om nakoming in grondwetlike sake te verseker.

In hierdie aangeleentheid het dit egter misluk, grootliks omdat dit deur die jare deur te veel verskillende regters hanteer is en omdat voldoening daaraan in die hande was van veiligheidsmaatskappye wat geen rede gehad het om hul eie vervanging af te dwing nie.

Bishop het gesê hoewel Prasa se optrede “veel te wense oorgelaat het”, kon hy nie vind dat hy sy grondwetlike verpligtinge verbreek het nie.

Hy het gesê Prasa het die hof wel voortydig genader oor Hlophe se toesighoudende bevel.

Hy het Prasa beveel om verslae oor die status van die jongste tender teen einde November in te dien, saam met dokumente wat die goedkeuring van die Spoorwegveiligheidsreguleerder bevestig.

Die veiligheidsmaatskappye het tot middel Desember tyd om enige beëdigde verklarings in te dien in reaksie hierop. Bishop het gesê sodra al die beëdigde verklarings ingedien is, sal hy oorweeg of hy die toesighoudingsbevel moet opskort.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning hier gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.