Hofstukke ingedien ná NSFAS beurse terugtrek

Argieffoto (Foto: Unsplash/Pixabay)

AfriForum Jeug se regspan het Dinsdag hofstukke teen die nasionale skema vir finansiële bystand vir studente (NSFAS) ingedien nadat beurse wat aanvanklik aan studente toegeken is, intussen glo teruggetrek is.

Chantelle du Preez, nasionale koördineerder van tersiêre instellings by AfriForum Jeug, sê die organisasie is deur talle studente gekontak wat sedert Maart vanjaar in kennis gestel is dat hulle nié meer kwalifiseer vir NSFAS se beurse nie. Dit nadat die studente eerlik in hulle aansoeke en aanvanklik goedgekeur was.

“Die hofaansoek is ingedien en die verligting wat ons van die hof vra, is tweedelig. Ons vra die hof om te beslis oor die meriete van die saak, met ander woorde dat die studente hul beursgeld moet ontvang soos NSFAS onderneem het, maar ook tweedens dat ’n sertifiseringsproses toegelaat word,” sê Du Preez.

Die hofaansoek bestaan uit drie applikante waaronder twee studente van die Universiteit Stellenbosch en een student van die Noordwes-Universiteit.

Sowat 5 000 studente word egter deur onsekerheid in die gesig gestaar omdat die universiteite waar hulle studeer, die uitstaande skuld van hulle terugeis. Die meeste van hierdie studente het geen ander finansieringsopsies nie en hul ouers is nie in staat om hierdie skuld terug te betaal nie. Hierdie studente vrees dat hulle nie hul studies sal kan voltooi nie en moontlik selfs hulle studies sal moet staak.

Du Preez sê AfriForum Jeug het die besonderhede van talle studente en versoek ook dat die hof die verligting wat aan die drie applikante toegestaan word, ook aan die ander studente wie se besonderhede sy regspan as korrek sertifiseer gee.

“AfriForum Jeug sal aanhou om namens hierdie studente op te tree en druk op NSFAS te plaas sodat die studente wat aan hulle toekoms bou nie slagoffers van bedrog en politieke inmengery word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.