Hofstukke ingedien oor ophef van ramptoestand

(Argieffoto: Facebook)

Daar is tans geen ramp nie.

Só voer AfriForum aan in hofstukke wat vandag by die Pretoriase hooggeregshof ingedien word, waarin die organisasie saam met Solidariteit vra dat die voortsetting van die huidige ramptoestand ongeldig verklaar word.

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, het verlede maand opnuut die ramptoestand in Suid-Afrika tot 15 Februarie verleng.

In sy argumente stel AfriForum dat daar tans geen ramp is nie en dus geen nut vir ’n ramptoestand is nie. Die organisasie sê wanneer daar gekyk word na die huidige hospitalisasie- en sterftesyfer vir Covid-19, is daar geen regverdiging vir die voortgesette onderdrukking van burgers se vryheid nie.

Luidens die jongste syfers is daar in hierdie stadium 5 194 mense met Covid-19 in hospitale, terwyl 23 sterftes in die 24 tot 48 uur voor die jongste verslag aangemeld is.

“Dit is duidelik dat dit nie meer nodig is vir ’n ramptoestand nie. Die feit dat die ramptoestand herhaaldelik verleng word, wys net dat die ANC-regering nie van plan is om sy greep te verslap nie op die ongebonde mag wat hy die afgelope twee jaar gegryp het met die instelling van drakoniese regulasies. Dit is waarom ons die hof in hierdie saak nader,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

AfriForum het vantevore reeds verskeie regsgedinge teen onredelike regulasies van stapel gestuur sedert die eerste inperking byna twee jaar gelede aangekondig is.

Dit het ingesluit die afskaffing van die regering se kwarantynkampe en maatreëls soos die aandklokreël, die strandverbod en die verbod op godsdienstige byeenkomste.

AfriForum het ook saam met Solidariteit die Covid-19-toerismefonds onwettig laat verklaar. Dié fonds sou finansiële hulp aan ondernemings en persone in die toerismesektor bied gebaseer op hul velkleur.

Verlenging van ramptoestand ‘absurd’

Solidariteit voer op sy beurt aan die deurlopende verlenging van die ramptoestand is irrasioneel en geweldig skadelik vir die ekonomie sowel as sosiale en politieke norme in Suid-Afrika.

“Deur sy eie verslapping van regulasies kondig die regering eintlik reeds aan dat die ramp verby is. Die Rampbestuurswet was nog altyd bedoel om ʼn drastiese, dog baie kort toestand daar te stel – juis om die regering toe te laat om vinnig te beweeg,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

“Dit is absurd dat die regerende party ons in ʼn bykans permanente semi-outokrasie hou bloot omdat hulle tot vandag toe geen noemenswaardige bykomende kapasiteit by hospitale geskep het nie.”

Solidariteit sê ʼn afskaffing van die ramptoestand impliseer nie dat die virus verdwyn het nie; dit beteken bloot dat die rampspoedige gevolge wat ʼn aanvanklike inperking geregverdig het, nie meer bestaan nie.

“Dit gaan nie daaroor of ons nou finaal klaar is met die virus of dat die virus verdwyn het nie. As dit die maatstaf is, dan sal ons vir ewig gebuk gaan onder ʼn bevelsraad met weinig wigte en teenwigte om dié raad te reguleer.

“Die punt is dat Covid-19 nou sonder hierdie drastiese maatreëls hanteerbaar is. Alle aanduidings is dat die siekte nou endemies is. Die virus sal nog lank met ons wees, maar die ramp is verby. Om egter nou hardnekkig aan die ramptoestand te klou sal egter op sigself rampspoedig wees,” sê Hermann.

Volgens Solidariteit maak die Rampbestuurswet nie voorsiening vir voorkomende optrede nie en kan dit slegs aangewend word om ʼn dreigende, aktiewe ramp te bestuur.

“Die voortsetting van die ramptoestand gegrond op die beginsel dat daar dalk weer ʼn vlaag in die toekoms mag wees, is ooglopend waansinnig. Hoe sal ʼn mens volgens daardie logika ooit weer na ʼn funksionerende demokrasie terugkeer?”

Hermann meen daar moet ʼn einde gebring word aan die bevelsraad, mense moet bemagtig word om hul eie besluite te neem en die ontwrigtende onsekerheid wat die land se ekonomie lamlê, moet gestuit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

asjassie1 ·

Tannie Kopdoek en haar comrades is die enigste ramp(toestand) in die land

boerie ·

Al wanneer n mens haar en mag saam kan gebruik is wanneer jy sê mag tig maar sy is lelik en dom

Marisa W ·

Tannie Kopdoek hou meer van “mag nie” – soos in, jy mag nie dit en jy mag nie dat doen nie :)

Vonkprop ·

Ek verskil van Afriforum. Daar IS tans ‘n ramp…die ANC. Solank die ANC regeer gaan ons heeltyd in ‘n ramptoestand wees in een of ander vorm.

Samuel ·

Hoop dat Solidariteit en Afriforum iewers gaan kom met die hofsaak. Tannie Kopdoek hou van die kollig.

Pieter ·

Ou kop doek steur haar aan niks en nie mand nie. Daar is klaar vir die regters gese wat om te doen. Die land se regstel is n grap nes die anc kommuniste.

Lourens CFG ·

Die land se regstelsel en anc is nie ‘n grap nie, dis ‘n ramp.

Hendrik ·

Die beste ding wat Afriforum kan doen om die noodtoestand op te hef, is om mense aan te moedig om hulle laat inent teen Corona. In teenstelling daarmee, probeer hulle (deur Solidariteit) anti-enters in die hof ondersteun. Kom nou mense, dis net in SA waar die entstoftokelossie so baie mense bang maak. In lande met ‘n hoë inentingskoers soos in Brittanje, kan die noodmaatreëls nou opgehef word!

Carolina ·

Dit moes al 18 maande terug gebeur het!! Die dictators hou van mag en ons moet nou Kanada se voorbeeld volg en eis dat die hele lot bedank en ons aangaan met ons levens. Ek het definitief nie ‘n politikus se raad nodig nie, ek is ‘n grootmens met ‘n gesonde brein dankie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.