Hofstukke vir regsaak teen UV-taalbeleid ingedien

universiteit van die vrystaat 3

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat Foto: UV Facebook

AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit het Woensdag stukke by die hooggeregshof in Bloemfontein ingedien vir regstappe om die taalbeleid tersyde te stel wat die Universiteit van die Vrystaat (UV) beoog om in 2017 toe te pas.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, en Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, is die hofaansoek ook op die UV se regsverteenwoordigers beteken en die saak word op ’n semidringende grondslag aangehoor.

“Die grondslag waarop die saak hanteer word, is sedert die universiteit se raadsbesluit op 11 Maart 2016 oorweeg. Nadat die bestuur van die UV ’n tydraamwerk voorgestel het wat beteken dat die meriete van die saak so spoedig moontlik aangehoor kan word – naamlik in Junie 2016 – is die hofstukke vandag deur die regsverteenwoordigers van AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit ingedien,” het Bailey en Van der Bijl in ʼn gesamentlike verklaring van dié drie instellings gesê.

Volgens die drie instellings is dit noodsaaklik dat die saak so gou moontlik afgehandel word. Die lede wat hulle verteenwoordig, sluit alumni, ouers van studente, studente en personeel van die UV in. “Dié groepe ervaar tans groot onsekerheid oor hulle toekoms.”

Die instellings het gesê prof. Jonathan Jansen, rektor van die universiteit, het voorheen bevestig dat Afrikaans as onderrig- en administratiewe taal aan die UV veilig sal wees solank hy as hoof daar werksaam is.

“Dit het reeds geblyk leë woorde te wees. Die UV-bestuur se verklaring gister is nóg ’n voorbeeld van die oëverblindery waarmee hulle hul optrede probeer ontlont en regverdig. Dit skep ’n vertrouensbreuk tussen die partye en die bestuur, en ongelukkig raak regstappe nodig om belanghebbendes se regte te beskerm.”

Die UV het tot 4 Mei 2016 geleentheid om op die stukke te reageer. Die saak behoort in Junie 2016 aangehoor te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

HEVW ·

Lofwaardig!!! Ons het verneem jul aksies, hofgedinge en so meer is die wigte en teenwigte waarvan fw gepraat het. So sterkte met die opruiming van sy flaters en oorgawe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.