Hoftolk vas vir bedrog

hof-hamer

Argieffoto.

ʼn Tolk van die departement van justisie wat by die Galeshewe-hof gewerk het, is in hegtenis geneem op aanklag van korrupsie en dwarsboming van die gereg.

Kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, het gesê McAnderson Doctor het Donderdag in die Kimberley-landdroshof verskyn.

“Hy is Woensdag in hegtenis geneem. Ons probeer nog sy ouderdom vasstel aangesien hy talle dokumente met verskillende datums op besit,” het Nkwalase gesê.

McAnderson het glo ’n omkooptransaksie tussen ʼn beampte van binnelandse sake en ʼn onwettige buitelander gefasiliteer. Die buitelander is in hegtenis geneem aangesien hy nie die nodige asieldokumente het nie.

Volgens Nkwalase dui voorlopige ondersoeke daarop dat die tolk glo die beampte genader het en hom probeer oortuig het om geld te aanvaar om nie dokumente rakende die buitelander aan die hof te oorhandig nie.

Die beampte het die beweerde voorval by die departement se bestuur aangemeld waarna die Valke van die voorval verwittig is en met ‘n ondersoek begin het.

Die saak is tot 30 Junie uitgestel wanneer die verdagte na verwagting om borgtog sal aansoek doen. Die verdagte bly in aanhouding tot dan.

Nkwalase meen meer inhegtenisnemings sal binnekort volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Amanda ·

Mmmmmmm…….kom ons begin dink wie ons kan vertrou…..enige voorstelle?

Koos ·

Goeie aarde Alida.Vertrou jy steeds blindelings? Jy weet mos blindes lei blindes in RSA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.