Hofuitspraak moet einde maak aan berugte ‘geheime eenheid’

Ivan Pillay en Johan van Loggerenberg. (Argieffoto: ANA)

Die hof het bevestig wat Ivan Pillay en Johann van Loggerenberg deurlopend volgehou het: Die ondersoekende eenheid by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is regmatig op die been gebring, was in die nasionale belang en was nooit ʼn geheime of sogenaamde “rogue”-eenheid nie.

Só het Pillay en Van Loggerenberg gereageer nadat die hooggeregshof die Openbare Beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, weer ʼn dwarsklap oor een van haar ondersoeke gegee het.

ʼn Volbank regters het Mkhwebane se verslag oor die sogenaamde “rogue”-eenheid ter syde gestel en haar boonop persoonlik met 15% van die totale regskoste gestraf.

Mkhwebane het bevind die eenheid is op onwettige wyse gestig en was strydig met die wet. Die regters het egter bevind die OB het ongeldige verslae en onbewese bewerings gebruik om bevooroordeelde beslissings te maak. Die standaard van die verslag is as gruwelik bestempel en het op elke punt misluk. Dit het ook nie ʼn rasionele denke berus nie.

Bernard Hotz, Pillay en Van Loggerenberg se regsverteenwoordiger, het gesê die “rogue”-eenheid-narratief is deur sekere groeperings in die media gebruik om hul kwaadwillige aanvalle op die twee voort te sit. Hotz het ook gesê openbare vertroue in die SAID is weens die berigte weggekalwe.

“Voldoening aan belasting- en aksynswetgewing het beduidend afgeneem. Belastinginkomste het drasties gedaal. Institusionele stelsels in die SAID is gebroke. ʼn Instelling wat dus eens die trots van Suid-Afrika was en selfs verder as die landsgrense gerespekteer is, moet nou van voor af begin. Dit is nie eens die volle omvang van die skade wat aan Suid-Afrika aangerig is nie,” het Hotz gesê.

“Boonop het die hof bevind dat die OB irrasioneel en onregmatig opgetree het en dat daar nie salf aan te smeer is nie. Haar gedrag, het die hof bevind, het ʼn klad gelaat op die instelling wat sy lei; ʼn instelling van groot grondwetlike belang en een van dié na wie Suid-Afrikaners kyk om die stryd teen korrupsie te lei en die regte van gewone burgers te beskerm.”

Die OB se gedrag, wat die hof as “laakbaar” en bevooroordeeld teenoor Pillay en Van Loggerenberg bestempel het, is ongelukkig en gaan net lei die verdere wegkalwing van openbare vertroue in belangrike instellings, het Hotz gesê.

Die SAID het ook die uitspraak verwelkom en sê dit gee afsluiting aan die narratief oor die stigting van die eenheid.

“Dit bevestig ook die SAID se magte om intelligensie te versamel wat met belastingoortredings verband hou,” het die inkomstediens gesê.

“Die SAID is besig om institusionele integriteit te herstel en kapasiteit te herbou en hierdie is ʼn geleentheid om weer te fokus op die belangrike werk om belasting- en aksynsinkomste in te vorder, belastingvoldoening te verbeter en openbare vertroue te herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

Weereens ‘n bewys dat sy onbevoeg is om haar werk te doen.Niemand het nodig om dit te bewys nie,sy down dit sommer self.Nog bewyse om haar verwydering deur te voer.

Sarel ·

Bedank voor jy verwyder word want die wereld raak warm vir haar.

Boerkind ·

Alles reg en waar, maar intussen styg ons belatings hemelhoog terwyl die heersende regering eintlik verantwoordelikheid moet aanvaar vir die finansiële gemors waarin Suid Afrika hom bevind… vat hulle ook hof toe en bevind ook hulle laakbare optredes “onbevoeg”.

SomeOne ·

waarom net 15%, sy maak sover droog waar sy gaan en verloor die een stryd na die ander, 50% of meer van haar salaris vir betaling van die hofkostes, dan sal sy self die pad vat

Sênet ·

Hoe lank gaan sy nog toe gelaat word om te maak, asof sy weet wat sy doen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.