Hofuitspraak ʼn oorwinning vir restaurantbedryf

(Foto: Danielle Rice/Unsplash)

ʼn Uitspraak in die Kaapse hooggeregshof, wat beveel dat ʼn versekeraar ʼn Kaapstadse restaurant vergoed vir sy verliese gely weens Covid-19, kan verreikende gevolge vir versekeringsmaatskappye én die restaurantbedryf inhou.

Café Chameleon in Plattekloof het Guardrisk Insurance, wat deel is van die versekeringsreus Momentum Metropolitan Holdings, hof toe gesleep om ʼn klousule na te kom in ʼn versekeringspolis wat die restaurant in 2007 uitgeneem en sedertdien jaarliks hernu het. Die klousule verwys na aanmeldbare siektes wat binne ʼn radius van 50 km van die onderneming af mag voorkom.

Die restaurant het sy finansiële nood as rede vir die dringendheid van sy aansoek voorgehou en gesê daar is ʼn dreigende gevaar dat die versekering sal verval as dit gelikwideer word. Guardrisk sal dus ‘n beduidende besparing vir homself kan bewerkstellig deur bloot ʼn paar maande te wag totdat die onderneming misluk.

Café Chameleon se eienaar het ook aangevoer dat sy maandelikse lone sowat R165 000 beloop wat hy in Maart uit sy eie sak betaal het en dat die Werkloosheidsversekeringsfonds slegs 25 van die 41 werknemers ingevolge die tydelike verligtingskema (TERS) vergoed het.

Guardrisk het aangevoer dat die restaurant tydens inperking gesluit is om Covid-19 se infeksiekurwe af te plat en nié as gevolg van die uitbreking van ʼn aanmeldbare siekte nie. In stukke voor die hof is ook gesê dat die sluiting van die restaurant nie deur ʼn plaaslike owerheid afgedwing is soos in die fynskrif van die polis gesê is nie.

Regter André le Grange het albei dié argumente as misleidend beskryf.

Met verwysing na ʼn verdere argument van Guardrisk, dat ʼn uitspraak in die guns van Café Chameleon die sluise vir soortgelyke eise sal oopmaak, het die regter bevind dat dit nie die verweer kan wees wanneer besluit word hoe die klousule oor aanmeldbare siektes geïnterpreteer moet word nie.

(Foto: pixabay)

Die hof het beslis dat Guardrisk aanspreeklik is vir verliese wat Café Chameleon kan bewys en gelas dat die nodige tussentydse betalings gedoen moet word. Guardrisk moet ook die koste van die aansoek betaal.

Insurance Claims Africa (ICA) het die uitspraak verwelkom. Die firma hanteer die aansoeke van sowat 500 ondernemings in die toerisme- en gasvryheidsektor wat ʼn stryd voer om groot versekeraars te kry om Covid-19 verwante eise te betaal.

Volgens ICA het versekeraars tot dusver sulke eise verwerp, selfs al het polisse ʼn klousule wat aansteeklike en aanmeldbare siektes beskryf.  Die versekeraars se verweer is glo dat die klousule nie bedoel is om pandemies te dek nie.

“Dit is ʼn belangrike oorwinning vir die toerisme- en gasvryheidsektor,” sê ICA se uitvoerende hoof, Ryan Woolley.

Die South African Property Owners Association (SAPOA) sê dis ʼn belangrike punt wat deur die hof gemaak is dat kontraktuele verpligtinge nagekom moet word, al is dié verpligtinge swaarder as wat verwag is.

SAPOA sê hoewel die uitspraak slegs in die Wes-Kaap bindend is sal dit waarskynlik deur ander howe nagevolg word. Die vereniging het polishouers met soortgelyke versekering aangeraai om dit te oorweeg om eise in te dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Tino ·

Vat so katvis! Welgedaan!

Lekker geld geskep elk jaar vir lang tye en al te heerlik geglimlag maar toe die rede hoekom mens teen dinge verseker ‘n werklikheid word wil versekeraars nie hulle deel van die ooreenkoms na kom nie.

Ook gou om te bel vir verhogings en ander produkte wat die verbruiker geld kos maar nie mag voordeel trek uit nie.

marius ·

Lek hul lippe af waneer die premies inkom , maar waneer daar eise ingestel word , is die klient melaats !

Jaco ·

Selfs voor inperking was ALLES in die alledaagse lewe reeds só duur, so hoe kan mense nog dit bekostig om restaurante te besoek? Dis iets wat ek lankal nie meer kan bekostig nie; selfs sonder inperking.

Jaco ·

Van een Jaco na n ander, ons besoek restaurante so twee keer n maand, dit is duur ja, maar dit is nou weer ons klein plesiertjie in die lewe en beferf ons, onself daarmee so nou en dan veral as ons na n groot besigheidsprojek wat suksesvol afgehandel is wil beloon, ons werk gemiddeld 12 na 16 ure per dag in ons besige maande wat meer as n drie driekwart van die jaar beslaan met net elke tweede naweek af. So dis nou weer een van daai klein dingetjies waarna ons kan uitsien saam met een lekker lang luukse vakansie n jaar. As dit nie daarvoor was nie het ons uitgebrand en maar gesettle vir n gewone 8 tot 5 werk ;)

Pieter Rubeus ·

Die hof uitspraak kom net op die regte tyd en kan baie ander klein maatskappye laat oorleef. Dit is goed dat die versekerings maatskappye vir ‘n slag in die bek geruk word. Hulle het te groot vir hul skoene geword.

Die Wolf ·

Maak seker dat jy die fynskrif baie goed verstaan voor ondertekening. Indien nodig kry n bevoegde persoon om jou leiding te gee. Die assuransie Mpy sal enigiets soek om nie te betaal nie.

Sarel ·

Die ouens gaan apeleer van een hof naxdie ander want die Versekeringsbedryf kan dit bekostig. Altyd vreeslik vinnig om Produkte te verkoop masr kom.by uitbetaling????

Adam Adriaan ·

Dit is die normale optrede van versekeraars. Soek altyd ‘n verskoning om nie te betaal nie. Bly die hof het reg besluit

Chris ·

In elke verhaal is daar mos ‘n vark. Die besighede/korporasies en ondernemings wat van jou geld vat op ‘n belofte, bejeën ek met die grootste agterdog. Mediese fondse, versekeraar en dies meer is baie tevrede met jou mits jy die premies betaal, maar o wee, behoede jou as jy wil eis. Toegegee, daar is baie jakkalse en muishonde wat valse eise ens indien, maar om sommer ‘n eis summier af te keur is net nie aanvaarbaar nie. Hoop al die ander kry ook pak.

Chantel ·

Ek is vol ekstase namens hierdie restaurant. Die versekeringsmaatskappy kom altyd weg met een of ander fynskrif. Wel gedaan.

johan ·

Ek hoop SANTAM is een wat goed gaan opdoek. SANTAM het my kwekery besigheid tot ‘n einde gebring. SANTAM het geweier om my sake onderberkings eis uittebetaal.

andre ·

Volgens mense in die toerismebedryf is Guardrisk een van 7 versekeringsmaatskappye wat opsy staan.Dis sluit van die grootste en oudste maatskappye in .Outsurance is glo die uitblinker.Soos ek made in China gaan vermy,gaan ek ook my huidige versekeraar groet na 30jaar +

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.