Hogan getuig binnekort oor staatskaping

Barbara Hogan. Foto: ANA.

Barbara Hogan, voormalige minister van openbare ondernemings, sal Woensdag voor die kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.

Hogan se naam is twee weke gelede deur Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP, genoem tydens haar getuienis voor die kommissie wat deur adjunkhoofregter Raymond Zondo gelei word.

Mentor het gesê dat Ajay Gupta in 2010 vir haar die pos as minister van openbare ondernemings aangebied het om Hogan te vervang. Mentor was in dié stadium die voormalige voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee vir openbare werke.

Sy het beweer die pos sou hare wees as sy net sou instem om die Suid-Afrikaanse Lugredery (SAL) se vlugte na Mumbai, Indië, te staak.

Volgens haar is dié aanbod by die Guptas se Saxonworld-woning gemaak terwyl voormalige pres. Jacob Zuma in die aangrensende vertrek was. Mentor het glo die aanbod van die hand gewys en Malusi Gigaba is toe in die pos aangestel. Gigaba het die Guptas se opdrag om SAL se Mumbai-roete te staak en dit met Jet Airways te vervang, uitgevoer.

Die kommissie het Maandag gehoor hoe ANN7 en The New Age, in die Guptas se besit, R260 miljoen uit die regeringsdepartemente verdien het.

Volgens Jan Gilliland, beampte van die nasionale tesourie, het minstens 95% van dié geld, R248 miljoen, na die koerant gegaan. Hy het die miljoene wat deur die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsel (GCIS), ander staatsdepartemente en provinsiale premiers aan die Guptas betaal is nagespoor.

Volgens Gilliland het die besteding aan die Gupta-mediahuis dramaties verhoog toe Mzwanele (Jimmy) Manyi, van 2011 tot 2012 in beheer was van GCIS nadat hy Themba Maseko vervang het.

Gilliland het getuig dat die Guptas se entiteite R7 miljoen in 2011 en R29 miljoen in 2012 ontvang het.

The New Age is in 2010 op die been gebring terwyl ANN7 drie jaar later in 2013 begin uitsaai het. Manyi het in 2017 beheer van dié entiteite oorgeneem toe die Guptas Suid-Afrika vir Dubai verlaat het. Manyi het dié mediamaatskappy suksesvol gelikwideer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pop ·

Ja ja ja, ek wag om te sien of selfs net 1 i n die tronk gaan land. Intussen vervang Mnr Ramaphosa die guptas met die Chinese. Volgende episode van ons korupte land.

John ·

Met soveel Z’e se vingers in die paai, gaan daar dadels van kom… vol brommers. Wie het die geagte regter aangewys? Dis die bedroeflikste land met tv-uitsendings met ure se begrafnisse en ure van hofsake en sittings oor staatsmisdrywe en ure waarin die minister van polisie ens verslag doen oor misdaad en moorde ensovoorts wat net erger word en sittings oor wette wat gewysig behoort te word vir nog van dieselfde. O ja, en ons ekonomie wat rekord laag duik en skynbaar hoop rommelstatus word ‘n statussimbool. Ons nuwe vlag behoort eintlik permanent halfstok te hang

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.