Hogan getuig oor Zuma se ‘politieke inmenging’

Barbara Hogan, voormalige minister van openbare ondernemings en ANC-veteraan, maak gereed om haar getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping te lewer (12 November 2018). Foto: Simphiwe Mbokazi/ANA

Barbara Hogan, voormalige minister van openbare ondernemings, het Maandag voor die kommissie van ondersoek na staatskaping vertel hoe sy kort ná haar aanstelling in die pos na Luthuli‑huis ontbied is om te kom verduidelik oor ʼn uitlating wat sy teenoor ʼn verslaggewer gemaak het.

Dit was net een van die voorvalle waaroor Hogan getuig het oor inmenging uit die ANC om haar gesag te ondermyn oor die aanstellings by instansies in staatsbesit.

Volgens Hogan het ʼn faksie in die regerende party wat lojaal teenoor destydse pres. Jacob Zuma was gereeld probeer om haar gesag as minister van openbare ondernemings te oorskadu. “Ek is in 2009 aangestel, kort na die Polokwane-konferensie [waar Zuma tot ANC-president verkies is] wat bekend was vir sy sterk faksionele invloed. Ongelukkig het die gevegte tussen faksies net die nepotisme en begunstiging in die ANC verder aangemoedig en ingewortel,” het Hogan gesê.

“Daar was ook maniere waarop pres. Zuma en sommige kabinetskollegas my pogings om raadsaanstellings goedgekeur te kry in die wiele gery het. Zuma se onverskoonbare inmenging by my verantwoordelikheid as minister het my uitvoerende gesag geërodeer, veral ten opsigte van Eskom,” het sy getuig.

Sy vertel selfs die ANC se nasionale werkkomitee het dit “op hulself geneem” om ʼn minister voor te sê wie om in sekere posisies aan te stel. Sy meen dit het twyfel laat ontstaan oor die doeltreffendheid van die ANC se ontplooiingskomitee.

“Ek wonder regtig of die ontplooiingskomitee nou ʼn nuttige rol speel. As daardie ontplooiingskomitee gekaap is deur enige magte … dit kan ʼn fundamentele impak op die regering hê.”

Hogan het vroeër uitgebrei oor die rol van die minister van openbare ondernemings en die regulasies wat in plek is waarvolgens staatsinstansies bedryf word. Hogan is in Mei 2009 deur Zuma as minister van openbare ondernemings aangestel en Enoch Godongwana was haar adjunk. Zuma het Hogan in 2010 afgedank en vir Malusi Gigaba aangestel om haar te vervang.

Barbara Hogan, voormalige minister van openbare ondernemings en ANC-veteraan, arriveer in Parktown, Johannesburg om te getuig voor die kommissie van ondersoek na staatskaping (12 November 2018). Foto: Simphiwe Mbokazi/ANA

Hogan het vandag getuig haar eerste “negatiewe ervaring” van die verhouding tussen haar en die party en staat het kort na haar aanstelling aan die lig gekom. Sy is na Luthuli‑huis ontbied om haarself te kom verduidelik na aanleiding van ʼn mediaverslag oor SAL se finansiële probleme.

“Soos julle weet het die regerende party enige privatisering van die SAL van die tafel afgehaal, ʼn besluit deur die drieparty-alliansie. Ná my aanstelling het ek besef onder watter finansiële stres die SAL is. Later het ek in ʼn onderhoud met ʼn verslaggewer gesê daar moet ʼn gelyke vennoot wees aangesien die regering nie die nodige hulpbronne het om die tekort te finansier nie.

“Die destydse ANC-ringkoppe, die sekretaris-generaal en die adjunk-sekretaris-generaal, het ʼn helse bohaai in die media opgeskop en my in die openbaar na Luthuli‑huis ontbied – vir my en my adjunk. By daardie vergadering het ek verduidelik die SAL het ernstige probleme en ons gaan finansiering nodig hê. Daar is geen mediaverklaring oor daardie vergadering uitgereik nie,” het Hogan getuig.

“Na my mening, as daar gevoel is dat ek buite beleid opgetree het, was dit ten opsigte van die regering en moes die president my ontbied het, nie die party nie. Daar was ʼn sterk pro-Zuma‑faksie in die ANC wat hulself as so magtig gesien het dat hulle aan die regering kon voorskryf, tot selfs wie ʼn uitvoerende hoof moet wees of nie.”

Sy het aan die kommissie meer vertel oor haar aktivisme-agtergrond wat terugdateer van die 1970’s af. Sy is in 1981 in hegtenis geneem en skuldig bevind aan sameswering om die regering omver te werp. Sy is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. “Ek is net drie dae voor Mandela vrygelaat nadat die verbod op vryheidsbewegings, insluitend die ANC, gelig is.”

Sy het daarna in die vroeë 1990’s ʼn ANC-sekretaris in Gauteng geword en in 1994 ʼn lid van die parlement.

Adv. Phillip Mokoena, die getuienisleier, het gesê ʼn kennisgewing is in Augustus aan Zuma gestuur om hom in te lig van Hogan se verklaring waarin hy geïmpliseer word, en dat die voormalige president nie enige aansoek of sy weergawe by die kommissie ingedien het nie.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, die kommissievoorsitter, het Maandag se verrigtinge begin deur ʼn beroep op die media te doen om hulle daarvan te weerhou om getuies se verklarings en bewyse te publiseer voor die getuies voor die kommissie verskyn het.

Popo Molefe, Transnet se raadsvoorsitter, en Cheryl Carolus, voormalige SAL-raadsvoorsitter, was ook by die kommissie teenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hoe nou....... ·

Good luck vrou – jy gaan dit nodig he. Hulle gooi jou eerste onder die bus.

Johan ·

Ah shame,maar jys baie verontwaardig.Wat het jy gedink?Sal seker more verder die blaam plaas…. hoekom het jy niks gese en gedoen toe jy n verskil kon maak nie…toe jy minister was?!Nou het jy baie te se,dis lafhartig om die minste te se.

zoom zoom ·

Die groot probleem met aantuigings teen Zuma is dat daat geen bewysse op skrif met sy handtekening daarop . Zuma het alles per foon gedoen so hy was slimmer as van sy kamerade

Johan H. ·

Dankie vir jou eerlikheid. Maar by assposiasie is jy niks beter as die anc nie. Ek hoop julle almal kry wat na julle kant toekom. As jy my kragrekening sien sal jy verstaan hoekom ek so sinies en negatief is.. julle het sa verpolariseer in wat andersins dalk n beter plek vir ons almal moes wees. N renosterstroper het nou lewenslank gekry… wat dink julle moet julle diewe kry?????

jaco ·

hoekom het sy so lank stilgebly? Natuurlik eers lekker inge-cash uit die lekker salaris, luukse motor, luukse huis, verniet vlieg en en en…
Al hiedie ANC-politici is skuldig aan korrupsie en selfverryking. Eintlik maar ander politieke partye se verkose ampsdraers ook, want hulle cash ook lekker in uit reusagtige salarisse. Almal bou maar aan mini-Nkandla’s…

Het die ANC dan heeltemal NIKS geleer terwyl hulle in ballingskap was nie? In kommunistiese lande het dié Nkandla-styl verryking nie eintlik voorgekom nie. Wel in Roemenië en die Sowjet-Unie, maar in Bulgarye, Pole, Oos-Duitsland en andere het dit nie eintlik voorgekom nie. Daardie kommunistiese lande was ook SONDER:
plakkerskampe
misdaad (in elk geval BAIE minder as in SA want hulle polisie was behoorlik paraat)
werkloosheid
swak vuil staatshospitale
swak lae standaard onderwys
geen dissipline in skole
beurtkrag
ens ens ens

Ek verstaan ook nie waarom die ANC en die SA Kommunistiese Party nog steeds met hulle National Democratic Revolution voortploeter nie. Dit loop nou al amper 25 jaar. In die kommunistiese lande wat hulle mentors was, was die rewolusies vining verby – hoogstens 10 jaar.

HENK DU TOIT ·

Wel gespreek Jaco. Inderdaad was daar geen geen plakkerskampe en vuil hospitale in OOS Duitsland en genoemde lande nie. Waarom voortploeter op ‘n ideologie wat geskoei is is op die kommunistiese stelsel wat oral misluk het? in die woorde van Stef Bos ” Het kommunisme zijn kapot in hierdie jaar van onse verraad.” Die voortploetering en gepaardgaande leë retoriek het maar net ten doel om die nuwe elite te beskerm. Sowat van ‘n gelieg en gebieg het mens nog nooit tevore aanskou nie. Ek dink dat die skuiwery van blaam, indien omgesit in kilogrammme, die beste oefening is om ons tante Barbara se voller figuur aan te spreek.

Jack Klok ·

Jaco, ek stem nie saam dat daar nie plakkerskampe en vuil hospitale in kommunistiese lande was nie. Wat my betref was Oos-Duitsland een groot plakkerskamp. Die armsaligste land in Europa. In die 1980s was daar nog baie geboue wat in WO2 beskadig was maar nie herstel was nie. Tog het mense daarin gewoon. Die poppe in die winkelvensters was toe onder die stof. Die starte was verlate en die enigste plek waar jy nuwe motors gesien het was voor ambassades. Dis nie waar dat daar geen misdaad in kommunistiese state was nie. Korrupsie het hoogty gevier (waar dink jy het ons plaaslike comrades die fynere kunsies geleer?) Die enigste ding waaroor die Oos-duitse polisie baie paraat was was oor andersdenkendes wat kommunisme teengestaan het. Waarom was die Berlynse muur gebou? nie om ‘n toestroming van vlugtelinge uit die bose weste na die kommunistiese utopia uit te hou nie. Daar is absoluut niks bewonderingswaardig aan sosialisme/kommunisme nie.

Hoc est bellum ·

Die ANC het julle sogenaamde “Blanke vryheidsvegters” vir eie gewin misbruik en julle het oop oë daarin geloop.

Johanna Botha ·

Jy was deel van alles …sy het stil geble sy het dit toegelaat dan SA nou in die gemors is …deel van die probleem !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.