Hokaai met aankoop van motors vir politici – DA  

Foto bloot ter llustrasie. (Foto: Unsplash)

Die DA versoek dat ’n moratorium op die aankoop van motors vir politieke ampsdraers in Oos-Kaapse munisipaliteite geplaas word ná onthullings dat buitensporige bedrae aan spoggerige voertuie bestee is.

Dít terwyl 24 van die 39 munisipaliteite in dié provinsie deur ernstige finansiële probleme in die gesig gestaar word.

Volgens Retief Odendaal, die DA se LUR vir finansies, het Xoli Nqatha, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), in antwoord op parlementêre vrae gesê dat voertuie ter waarde van R26,8 miljoen tussen 2016 en 2021 aangekoop is om politieke ampsdraers in Oos-Kaapse munisipaliteite te vervoer.

Die bedrag sluit glo uitspattige aankope in soos ʼn R1,4 miljoen-voertuig wat deur die King Sabata Dalinyebo- plaaslike munisipaliteit aangekoop is, asook die aanskaf van ʼn R1,1 miljoen-voertuig deur die Winnie Madikizela Mandela- plaaslike munisipaliteit.

“Die besteding van enige openbare befondsing aan buitensporige uitgawes soos amptelike voertuie vir politici is onaanvaarbaar,” het Odendaal in ʼn verklaring gesê.

Luidens ʼn verslag wat in 2020 deur die ouditeur-generaal (OG) gepubliseer is, het 83% van Oos-Kaapse munisipaliteite ernstige kontantvloeiprobleme. Die OG het ook in dié verslag onthul dat 38% van dié munisipaliteite se uitgawes hul inkomste oorskry.

Die aankoop van amptelike voertuie vir uitvoerende burgemeesters en speakers van rade word deur die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) en kostebeheerregulasies gereguleer. Dit is op 7 Junie 2019 in die Staatskoerant gepubliseer.

Ingevolge dié regulasies mag die aankoop van amptelike voertuie nie die limiet van R700 000 oorskry nie. Daar word ook bepaal dat enige sodanige voertuig wat vir amptelike gebruik deur politici aangekoop word, nie vervang mag word voordat die voertuig 120 000 kilometer afgelê het nie.

“Die DA vra dat ’n moratorium geplaas word op die vervanging van alle voertuie vir politieke ampsdraers in Oos-Kaapse munisipaliteite.

“Gegewe die treurige finansiële toestand van dié munisipaliteite is politici wat met spoggerige voertuie rondry in ’n provinsie met die hoogste werkloosheidsyfer in die land, immoreel en van die werklikheid verwyder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lillian ·

Politici verdien genoeg geld, laat hul daai sakke skud om hul eie voertuie te koop. Nonsens dié dat ons belastinggeld so gemors word op “fringe benefits” vir dié dikgatte in die parlement.

Swerwer ·

Die Hooggeplaastes dink mos in elk geval net aan hul “images” en gee nie ‘n duit om vir die werkersklas nie.

annie ·

Dis Afrika se styl… Waarom aanvaar ons nou nie maar dat ons Babel aan’t bou is nie. Die DA skreeu ten hemele en kla hul gô uit… Dis ‘n feit soos ‘n lekker vet koei; die geld vloei. Tannie Zille het hard daarvoor geswoeg. En daar is ons dit nou: Aan’t bou, Helen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.