Hokaai met beplande ontbinding van dié munisipaliteite – DA

Die Kgetlengrivier-munisipaliteit. (Argieffoto: Molaole Montsho/ANA)

Die DA is nie te vinde vir die voorgestelde ontbinding van sewe sukkelende munisipaliteite in Noordwes nie en sal dit teenstaan sodra dit voor die Nasionale Raad van Provinsies gebring word.

Die LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, Mmoloki Cwaile, het verlede maand bekend gemaak dat die munisipaliteite van Kgetlengrivier, Tswaing, Ditsobotla, Naledi, Ratlou, Matlosana en die distriksmunisipaliteit van Dr Ruth Segomotsi Mompati geoormerk is vir ontbinding.

Carin Visser, ʼn DA-LP van die Nasionale Raad van Provinsies, sê die party sal die poging teenstaan en beskuldig die provinsiale regering daarvan dat hy deur middel van die ontbinding op soek is na “innoverende maniere” om staatsgeld te buit.

“Hierdie voorstel is niks anders nie as ʼn poging om te verdoesel dat die ANC versuim het om die kernoorsake van swak regering doeltreffend aan te pak wat ten eerste gelei het tot die bankrotskap en ineenstorting [van munisipaliteite].

“Deur die politieke toesig en aanspreeklikheid van dienende raadslede te verwyder en ANC-administrateurs aan te stel, sal die inwerkingstelling van hierdie slinkse plan vergemaklik word,” sê Visser.

Die DA voer voorts aan dat die ontbinding van die betrokke munisipaliteite kort voor die munisipale verkiesing ʼn “doelbewuste politieke komplot” is om toegang te verkry tot die bietjie munisipale hulpbronne wat nog oor is.

“Sou LUR Cwaile voortgaan met die beplande ontbinding, sal dit tot meer chaos lei omdat inwoners, wat reeds weens ʼn gebrek aan dienste ly, tot die verkiesing sonder die lewering van enige basiese dienste sal wees.”

Volgens Visser moet die ontbinding van munisipaliteite eers ingestel word nadat alle ander ingrypingsopsies uitgeput is. Sy sê voorts artikel 154 van die Grondwet vereis dat die provinsiale én nasionale regering die vermoë van munisipaliteite om hul eie sake te bestuur, moet ondersteun en versterk, “maar dit is verwring en misbruik om faksiegevegte aan te wakker wat dienslewering verder in duie laat stort het”.

“Om rade te ontbind terwyl die verrotting van wanbestuur deur onbevoegde amptenare heers, sal geen verbeterde dienslewering tot gevolg hê nie.

“Die versuim van die ANC om sy raadslede te dissiplineer, bekwame finansiële personeel in diens te neem en partykonflik doeltreffend te beëindig, hou inwoners al te lank gyselaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mrs H ·

Geleentheid vir pvt munisipaliteite wat ons eintlik meer sal waardeer en ondersteun.

Louisepretorius ·

Die anc Val uitmekaar soos ou vrot truie wat uitrafel van ouderdom.hulle tyd is verstreke kaboem om.die duidelike bewyse is oral sigbaar

JohanR ·

Die ANC is soos ‘n weghol bus. Probeer 100 dinge op een slag doen en geen suksesvol….Aorto, onteining, e-toll, Covid-19, geweer lisensies, SAL, hospitaal en apteker planne. En dan het jy nou EEN minister wat minister van toerisme is EN gesondheids minister. Miskien moet Cyril Ramaphosa nou president, onder president en eerste minister word!

Nie Verbaas ·

Net nog n alledaagse storie in die ANC hoed van die onbevoegdes.

johann ·

Ek sien wat julle bedoel. Die RADE word ontbind maar die AMTENARE wat verantwoordelik was vir die onreëlmatige spandering bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.