Hokaai met nog ʼn verbod op drankverkope, vra bedryf

Die drankbedryf waarsku teen ‘n hernieude verbod op drankverkope. (Foto: pixabay)

Daar is toenemende bespiegeling dat die regering weereens inperkingsregulasies gaan verskerp terwyl infeksies na afloop van die Paasnaweek na verwagting weer skerp gaan styg. Geen amptelike aankondiging is egter nog hieroor gedoen nie.

Een van die bespiegelings is ʼn hernieude verbod op drankverkope, of verkorte handelsure soos wat in die verlede ingestel is.

Die Suid-Afrikaanse drankbedryf het egter weer gepleit dat ʼn balans tussen inkomste en die behoud van lewens gevind moet word wanneer die volgende vlaag Covid-19-infeksies hanteer word.

Die bedryf het deur Nedlac aanbevelings aan die regering gedoen oor alternatiewe maatreëls om die korttermyndruk op hospitale te verlig.

Die bedryf sê die vorige drie verbodsbepalings wat ingestel is in ʼn poging om die verspreiding van die koronavirus te stuit, het verwoesting gesaai.

“Die bedryf glo dat maatreëls om die uitwerking op die gesondheidsorgstelsel te verlig ingestel kan word op ʼn manier wat minder skade berokken en help om oordrag te stuit en mense se inkomste steeds te beskerm.”

Sommige van die maatreëls wat voorgestel word, sluit in ʼn strenger aandklokreël – van 23:00 tot 04:00 – vinnige en proaktiewe reaksie op brandpunte wat na die Paasnaweek geïdentifiseer word, asook beperkings op die getal mense wat byeen mag kom.

Die bedryf sê ʼn verbod op interprovinsiale reise moet vermy word om die ekonomiese herstel en groei in die toerisme- en gasvryheidsbedryf te beskerm. Hy vra ook dat alkoholverkope voortgesit word ingevolge huidige lisensievoorwaardes en dat beperkings net ingestel word as hospitale se kapasiteit werklik onder druk begin kom.

“Die pandemie en verbodsbepalings op drank het die bedryf en enige alkoholverwante probleme in die soeklig geplaas. Dit is beslis so dat sommige mense ʼn ongesonde verhouding met alkohol het wat tot skadelike gedrag kan lei, maar om drank uit te sonder as die oorsaak van alle trauma is verkeerd,” sê Sibani Mngadi, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Drankhandelsname (Salba).

“In die lig van die bewyse lyk ʼn algehele verbod op drank onregverdigbaar.”

Mngadi sê om die daling in trauma-opnames aan ʼn verbod op drank toe te skryf, moet daar ook voorsiening gemaak word vir alle ander inperkings – soos ʼn aandklokreël en beperkings op byeenkomste.

“Drankbeperkings is saam met die aandklokreël ingestel. Dit is daarom oneerlik om aan te neem die daling in traumagevalle was uitsluitlik weens die drankverbod.”

Die bedryf sê die Covid-19-pandemie het lewens en inkomste in Suid-Afrika verwoes en nie net die regstreekse bedryf nie, maar die hele drankwaardeketting onherstelbare skade berokken. Ondernemings is gesluit, mense het hul werk of hul inkomste verloor en daar was ʼn afname in beleggings.

Die laaste drie verbodsbepalings het reeds tot ʼn verlies aan inkomste van R36,3 miljard gelei en meer as 200 000 werksgeleenthede in die formele en informele sektor is in die gedrang.

Die bedryf sê nog ʼn verbod gaan onomkeerbare skade aanrig wat klein en mediumgrootte ondernemings nie gaan oorleef nie. Intussen word die onwettige bedryf net al hoe sterker en dit hou op langer termyn ʼn veel groter gevaar vir die samelewing in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Misky ·

Hulle gee nie om vir die ou op straat en hoe hy n bestaan moet maak nie. Hulle is magsbehep en wil hulle eie sakke volmaak

H ·

regering bly maar dom ! anyway , om drankwinkels oor n naweek toe te maak gaan mos maak dat mense meer gaan saam drom in die week om op te stock . so groter kans vir infeksies. daar is malema land , as die dop op is gaan hulle share . So dit wil se 5 mense drink aan 1 bottel bier. so die ban op dop die heel tyd is net plein DOM! tyd dat die mense begin opstaan en teen die regering draai want dit i s nou belaglik . o ja btw , hoekom raak covid gevalle altyd meer aan die einde van die maand net voor n speech .. baie opvallend….

Persheks Adri ·

Kyk ek drink glad nie, maar hulle sal ons wys dat hulle so magsbehep is en juis daarom net mooi NIKS vir die bedryf voel nie en nog minder oor die werkloosheid, maar ons moet die ekenomie laat groei! Kopdoek en haar kinders gaan WEER geld maak gggmmmfff pffft en WEER gaan hulle niks oor kom nie!

Jacques ·

Drank lei nie tot slegte besluite nie…………(Meanwhile in n kar in Boksburg Hey Tjomma, Hou my bier vas en check hierie move)

Anoniem ·

Wat ek wou sê het H klaar genoem. Ek wil graag byvoeg: Die anc is bang dat mense hulle aan drank gaan vergryp gedurende die paasnaweek. Die nagevolge is oorvol hospitale met messteek gevalle, skietgevalle, ens. Om die probleem op te los moet hospitaal personeel diesulkes summier by die deur wegwys. Die eerste klomp wat daar opdaag sal baie gou vir hulle dronk pêlle by die huis maan om so vinnig moontlik nugter te word en nugter te bly. Indien iemand dit nie maak nie, kan hulle soos JZ maak … blameer vir ou Niek.

gatgogga ·

Nee man, kom ons los nou weer die drank alleen vir ‘n slag.
Het ons dan alweer vergeet dat tabak die grootste lokaas vir Covid is? Maak nou weer die rokers kwaad, dis nou weer hulle beurt.
Of hoekom nie die ouens wat vars lug op die strande gaan soek nie?.

Misky ·

Ai gatgogga, ek weet nie wie die afduimpie is nie, maar ek die sarkasme en spot in jou boodskap raakgelees. Puik en dankie vir die lekker lag

Marianna ·

Daar is ‘n plan agter alles. Wag maar vir die dag dat jy ‘n covid inenting-lisensie sal nodig hê om in enige kroeg ‘n drankie te drink. Dis alreeds aan die gebeur in die buiteland.

Alet ·

Ongelukkig is dit so dat die persoon wat drank misbruik wel ‘n weg sal vind om drank in die hande te kry tydens ‘n verbod. Dit het ons ook gesien.

Debby ·

Die drank is oor as genoeg op die swartmark,hier by my kry jy om elke hoek en draai as hulle die drank toemaak

johan ·

As jy kyk na al die trauma gevalle waar drank nie ‘n rol gespeel het nie, dan wonder ‘n mens maar net. Het niks anders om te doen as om mense van hul inkomste te beroof. Dit is hoekom die voorgetelde onteinings wetsontwerp daar gestel moet word,want dit vat te lank om ons van inkomstes te beroof. Dan kan hulle alles vat wat hul wil hê sonder om te wag.

Pierre ·

Ek was gedurende die drank “ban” 3 x in hospitaal. Is 3 x weggewys want hulle was te besig. So hallooo?

Samuel ·

Waarom is mense só behep met drank? Wat van die skade wat drankmisbruik aan ons ekonomie aanrig???

gehasie ·

In Duitsland het Merkel soortgelyke beperkings aangekondig vir die komende paasnaweek maar die Duitsers het in opstand gekom (des nie teenstaande n vorige hof bevel) en sy moes verleë terugstaan. Daar is nie behoorlike wetenskap agter enige vd ANC Regime se sg. C-19 virus nie en die entstof is erg onder verdenking. Tyd dat ons strate toe!!! Die ANC kan nie eers SAL, ESKOM of die land regeer nie wat staan nog COVID!!

Thom ·

Verlies aan inkomste vir die bedryf is erg maar mense , dit is heerlik om net minder dronk mense te sien !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.