Hokkie-ma’s spring in om siek doelwagter te help

Elske de Villiers (17). (Foto: Verskaf)

“Kanker het met die verkeerde meisie kom sukkel.”

Dít is die slagspreuk wat ouers van Hoërskool Dr. Malan in Meyerton se eerste hokkiespan by hul geldinsamelingsinisiatiewe gebruik waarmee hulle dié span se doelwagter met haar mediese uitgawes wil bystaan.

Elske de Villiers (17) is tans in matriek en het kankergewasse op haar eierstokke. Sy moet dringend ʼn histerektomie ondergaan en sal daarna sterk chemoterapie moet kry. Die hokkie-ouers sal voortaan kolwyntjies en ander items by elke tuiswedstryd en op bestelling verkoop om geld vir Elske in te samel.

Elske is einde verlede maand dokter toe nadat haar buik begin swel en sy van pyn en ongemak gekla het. Geld is bymekaargemaak om haar na ʼn internis te neem wat haar ná ʼn CT-skadering na ʼn ginekoloog verwys het. Die ginekoloog het die gesin se grootste vrees bevestig: Dit is kanker en het reeds na haar eierstokke versprei.

Hokkie-ma’s van Hoërskool Dr. Malan verkoop nou onder meer kolwyntjies en soetkoekies om geld vir Elske de Villiers in te samel. (Foto: Verskaf)

Elske se ouers het egter nie ʼn mediese fonds nie en sy moes sedertdien na staatshospitale gaan waar sy al meer as een slegte ondervinding gehad het.

“Na haar eerste doktersbesoek [einde verlede maand] is sy verwys na ʼn staatshospitaal waar ons glad nie diens gekry het nie. Sy moes op die vloer by ongevalle sit en wag en haar ouers mag nie by haar gewees het nie. Daar is vog uit haar long dreineer en X-strale is geneem. Om 22:00 daardie aand het die dokter haar huis toe gestuur omdat daar nie ʼn bed beskikbaar was nie,” het Elske se tannie, Alicia Coetzer, aan Maroela Media gesê.

“Sy moes die volgende oggend teruggaan en by hul aankoms moes alles van vooraf gedoen word. Ná 12:00 die middag toe sit hulle nog steeds en wag sonder enige diens. Ons het toe besluit om haar na ’n private dokter te vat.”

Die familie kon egter nie ʼn private operasie bekostig nie, en sy is vandeesweek in die Sebokeng-hospitaal opgeneem. Sy het lank gewag vir ʼn bed in die intensiewe sorgeenheid en toe daar wel een beskikbaar is, het die hospitaal se krag afgegaan.

Volgens Coetzer was dokters nie gemaklik om die operasie met behulp van ʼn kragopwekker te doen nie, en moet sy Donderdag weer teruggaan.

Hokkie-ma’s van Hoërskool Dr. Malan verkoop nou onder meer kolwyntjies en soetkoekies om geld vir Elske de Villiers in te samel. (Foto: Verskaf)

Die familie hoop dat sy daarna private behandeling sal kan ontvang.

Hokkie-ma’s wil Elske help

Ouers van Elske se hokkiespanmaats, onder andere Cynthia Bekker en Zonicka van Heerden, het intussen verskeie inisiatiewe van stapel gestuur om geld vir Elske se mediese uitgawes bymekaar te maak. Hulle verkoop onder meer kolwyntjies en soetkoekies, terwyl nog ʼn ouer begin het om oorbelle en lintstrikkies te maak.

Die volgende tuishokkiewedstryd is volgende Saterdag, waar baie van dié items te koop sal wees. Dit kan egter ook op bestelling gekoop word.

Van Heerden het intussen ook ʼn projek, Klub100, begin waarmee sy poog om 100 mense te kry wat elkeen ʼn R1 000 kan skenk.

“Ons almal probeer maar op ʼn manier help,” het Van Heerden gesê.

Alle geld en skenkings word in een sentrale bankrekening inbetaal en deur Bekker bestuur.

Van Heerden sê hulle hoop Elske se gesin sal die geld kan gebruik om rekeninge, medikasie en ander mediese uitgawes te betaal.

Elske de Villiers. (Foto: Verskaf)

‘Emosionele’ stryd

Coetzer sê Elske is tans baie emosioneel. Sy is ook geswel en ervaar baie ongemak.

Vandat sy siek geword het, kon sy ook nie weer skool toe gaan of hokkie speel nie.

“Sy is deur die internis afgeboek. Haar skoolvriendinne en onderwyers stuur vir haar skoolwerk, maar sy is in dié stadium so geswel en ongemaklik dat sy nie enige werk kan doen nie.”

Dit is vir die hele familie ʼn emosionele stryd, maar Coetzer glo dat God ʼn wonderwerk vir hul Elske sal bewerkstellig.

Coetzer sê Elske het alles in haar hokkiespel en skoolwerk ingesit, en nog altyd haar beste gegee. “Sy is geliefd by haar familie, maats en spanmaats.”

Coetzer beskryf Van Heerden en Bekker as “engele” wat namens die familie intree om te help.

Enigeen wat betrokke wil raak kan hulle by 082 909 0929 of 079 883 6475 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Dit is hoe dit deesdae gaan by staatshospitale, daar is in verpleeg personeel wat weet hoe om te verpleeg die verpleeg personeel is net daar om geld te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.