Holomisa eis verskoning van Maimane, Trollip

Bantu Holomisa, leier van die United Democratic Movement (UDM). Argieffoto: Werner Beukes/SAPA

Bantu Holomisa, leier van die United Democratic Movement (UDM), eis antwoorde van Athol Trollip, uitvoerende burgemeester van Nelson Mandelabaai, en Mmusi Maimane, leier van die DA, oor ʼn forensiese verslag.

Holomisa wil by Trollip weet hoekom hy ʼn PricewaterhouseCoopers (PwC)-verslag “gebruik het” om die naam van die UDM en sy raadslid en voormalige adjunkburgemeester, Mongameli Bobani, swart te smeer.

Bobani is in Mei verlede jaar uit sy amp as burgemeesterskomiteelid vir gesondheid afgedank.

Trollip het destyds gesê die direktoraat was teen daardie tyd al vir ʼn hele aantal maande bekommerd oor bewerings van wanadministrasie en onbehoorlikheid. Geen spesifieke redes is gegee oor hoe Bobani na bewering oortree het nie.

Vandeesweek het The Herald berig ʼn forensiese verslag oor ʼn kontrak met Milongani Eco-Consulting kon nie Bobani met enige oortredings verbind nie. Die PwC-verslag het nou getoon hoe Milongani gebruik is as ʼn plek om R25,6 miljoen van belastingbetalers se geld heen te herlei, maar Bobani se naam is nie in dié bevindinge genoem nie.

Holomisa het Dinsdag in ʼn verklaring gesê die UDM en Bobani is reg bewys. “Die PwC-verslag het gewys dat Milongani Eco-Consulting dermiljoene rande van belastingbetalers se geld betaal is. Bobani se naam word nie eens in die verslag genoem nie. Om die feite te gee,, Milongani is tydens die ANC-era aangestel en Johann Mettler, die stadsbestuurder, het betalings aan hierdie maatskappy goedgekeur lank voordat Bobani aangestel is,” lui Holomisa se verklaring.

“Ons beskuldigers, teenstanders en swartsmeerders wat gesê het die UDM keur korrupsie goed moet hul koppe in skaamte laat sak. Hoofsaaklik moet die DA en hy [Trollip] verduidelik hoekom die sogenaamde konsepverslag gebruik is om die UDM se goeie naam sleg te maak, hoewel dié verslag ook nie Bobani se naam genoem het nie.”

Holomisa het gesê die DA moet ook verduidelik hoekom Maimane die konsepverslag gesien het nog voordat enigiemand anders, insluitend die raad, dit gesien het. “Maimane moet nou antwoorde gee oor sy bewerings dat daar prima facie-bewyse bestaan dat Bobani geheel en al deel was van hierdie verkwistende besteding. Waar is hierdie bewyse?” het Holomisa gevra.

Hy het ʼn beroep op Trollip en Maimane gedoen om in die openbaar aan die UDM en Bobani verskoning te vra. “Maimane moet om verskoning vra dat hy my goeie naam deur die modder gesleep het. Ons hoop dat die skille nou van die DA-kiesers in Nelson Mandelabaai se oë geval het en dat hulle nou die DA sien vir wat dit regtig is: ʼn Party wat gewillig is om só ver te gaan as om vuilspel te gebruik om hul koalisie-vennoot te diskrediteer.

“Die UDM was nie die DA se enigste teiken nie, soos Patricia de Lille kan getuig. As jy verskil van die manneklub, is jy in vir ʼn rowwe tydjie,” het Holomisa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

zoom zoom ·

Die DA is regtig besig om te sonk en met die leiers bo is daarvoor te danke. 2019 ggan hulle ver val en dan is dit te laat om te herstel. Sorry ek is klaar met DA.

Willem ·

Nou wie was dan vir die ongerymdheid van die R25,6 mil verantwoordelik? Waarom doen die mense nie die ondersoeke deeglik nie? Kry die antwoorde DA! Holomisa, jy is voortydig, omdat niemand geimpliseer is nie, beteken nie dat jou man nie daarby betrek is nie, dit het hom nie verontskuld nie. Dit moes mos iemand gewees het, hoe moeilik kan dit dan wees as julle weet watter geld en hoeveel betrokke is!

Willem ·

Mrs H, dit is hoekom ek vra hoe is dit dan mootlik dat die verslag dan geen skuldige se naam noem nie? Is die stadsbestuurder dan ook onskuldig? Wat ek op neerkom, omdat geen skuldige gevind is nie, maar tog is daar ‘n oortreding begaan, hoe nou DA?

Sam ·

Die DA gaan verseker daai stem en so ook die duisende ander wat dieselfde keuse gemaak het insluitend myself mis.

Amelia ·

alida……..ja die tyd toe dit nie meer vir die DA saakgemaak het nie is verby. Baie baie baie se totsiens Da. Ek is self een van hul.

Johann ·

Die grootste bedryging vir die DA is die DA self! En dan het Maimane die vermeteldheid om vandag te se interne “politiek” is nie besig om die DA te breek nie, hulle fokus is die mense van SA? Ja SHURE.

Danie ·

DA julle gaan al die ander partye se steun ook verloor. Totsiens da!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.