Holomisa veroordeel aanval op UDM-lede

UDM-leier Bantu Holomisa (Foto: Zanele Zulu AfricanNewsAgency/ANA)

Die United Democratic Movement (UDM) sal ʼn klag indien by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ná drie van sy lede na bewering vandeesweek aangeval is terwyl hulle in die Oos-Kaap aan ʼn verkiesingsveldtog deelgeneem het.

Bantu Holomisa, leier van die UDM, het aan die African News Agency gesê hy hoop die “barbaarse voorval” is geïsoleer en sal nie herhaal word nie. “Ons het nie ʼn kultuur van intimidasie nie; veral in die voormalige Transkei kon ons nog altyd vrylik aan verkiesingsveldtogte deelneem.”

Twee verdagtes is in hegtenis geneem en op waarskuwing vrygelaat ná die beweerde aanval op die drie UDM-lede in Mbizana in die Oos-Kaap. Kapt. Khaya Tonjeni, woordvoerder van die polisie, het gesê hulle is Maandag vermoedelik deur ANC-lede aangeval wat hulle wou verhoed om hul party te bevorder. Die twee mans staan tereg op aanklag van aanranding en moet op 28 Maart weer in die Mbizana-landdroshof verskyn.

Verteenwoordigers van politieke partye het Woensdag die gedragskode van die OVK onderteken wat ten doel het om “ʼn vry en regverdige verkiesing te bevorder” wat ʼn “klimaat sal skep van verdraagsaamheid, vrye politieke veldtogte en openhartige publieke debat”.

Die algemene verkiesing vind op 8 Mei plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Solo ·

Politici breinspoel sommige mense. Politiek maak party mense mal. Politiek veroorsaak armoede as politici korrup is. Die wegblystem wys die gevoel van mense, hulle stem nie meer nie want dit gaan nie beter nie. Politici is daar net met een doel , dit is vir die geld en ander voordele wat hulle vir hulself en hul families kan bekom. Moord, soos in Kwazulu Natal, is deel van die geveg om mag te bekom as politieke leiers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.