Hommeltuig bekamp nou misdaad in Fourways

Die hommeltuig sal deur ʼn gekwalifiseerde hommeltuigvlieënier beheer word. (Foto: Verskaf)

Die veiligheidsmaatskappy Fidelity gaan nou ʼn hommeltuig gebruik om misdaad in Johannesburg te bekamp. Dié splinternuwe misdaadbekampingstoestel gaan as deel van ʼn loodsprojek twee maande lank ʼn oog oor sekere woongebiede in die noorde van Johannesburg hou.

Die hommeltuig, wat in samewerking met die hommeltuigmaatskappy UDS ontwikkel is, gaan in die Fourways-omgewing getoets word, waarna dié diens na ander voorstede en winkelsentrums uitgebrei sal word.

“Oor die algemeen is kriminele aktiwiteite aan die toeneem en Fourways is veral een van die gebiede wat gebuk gaan onder misdaad. Die potensiaal om nog hommeltuie in die gebied te gebruik vir die beveiliging van woongebiede én sakepersele is astronomies,” sê Wahl Bartmann, uitvoerende hoof van Fidelity.

Dié tegnologie is egter nie goedkoop nie.

“As gevolg van die prys het ons ʼn hibriede patrollerings- en reaksiemodel ontwikkel wat meer bekostigbaar is. Daarom wissel die koste van dié hommeltuig van ongeveer R10 500 tot R25 000 per maand.”

Die hommeltuig sal vanuit ʼn mobiele beheerpunt deur ʼn gekwalifiseerde hommeltuigvlieënier beheer word.

“Die beheerpunt is gekoppel aan ʼn taktiese reaksie-eenheid vir proaktiewe en reaktiewe doeleindes. Inwoners van gebiede waar Fidelity reeds beskerming bied, kan inbel om die hommeltuig te aktiveer en dit sal in die reaksieprosedure ingewerk word,” sê hy.

Fidelity het ook hande gevat met Vumacam-bewakingstelsels om ʼn bykomende laag sekuriteit te verseker.

“Ons glo dat hommeltuie en die ontplooiing van só ʼn span ʼn effektiewe afskrikmiddel vir misdadigers sal wees. Dit sal bydra tot ʼn vinniger reaksietyd en om kriminele elemente wat vryelik rondbeweeg op te spoor en vas te trek. Hommeltuie kan ook ʼn belangrike rol speel in ander noodsituasies, soos wegholbrande en onwettige grondbesetting.”

Fidelity het reeds vantevore hommeltuie vir kommersiële doeleindes gebruik om infrastruktuur soos pypleidings en kabels te beveilig. Die nuwe hommeltuig voldoen ook reeds aan alle privaatheid- en lugvaartbeperkings en wette.

Die taktiese hommeltuig-eenheid se toetslopie sal na verwagting op 1 Junie afskop en einde Julie tot ʼn einde kom. Fidelity beoog egter om met dié diens aan te gaan lank ná die toetsperiode.

“Die sukses hiervan is reeds in afgeleë gebiede bewys en ons is seker dat ons soortgelyke resultate in hierdie spesifieke woongebied sal kry. Die doel is egter nie om die hommeltuig-eenheid te beperk tot landgoedere of gebiede waar Fidelity reeds beskerming bied nie. Ons hoop om in die toekoms alle woongebiede met só ʼn eenheid toe te rus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Willem ·

En nou sal daar diegene wees wat moan dat hul privaatheid geskend word

Anon ·

Inderdaad, want hoe lank dink jy gaan dit boewe neem om hommeltuigies in die nag wanneer mense slaap te stuur? Ons leer net nie, doen ons?

SjN ·

As daar n vreemde tuig sonder toestemming of rede oor my eiendom sirkel gaan ek optree.

Persheks Adri ·

Ek wil nie negatief wees nie, maar gaan die kriminele nie juis hierdie hommeltuie kan stukkend skiet of iets nie? Kriminele se brein werk anders as ons eerlike burgers en is altyd voor ons magtag.

Indien dit wel gaan werk sal dit verskriklik baie help en dan ondersteun ek dit ten volle!

Danie ·

Gaan nie werk op die cape flats nie.
Daai manne skiet hom af binne sekondes.

Dirk Mostert ·

As die skieters op video was kan daarna teen hulle opgetree word.

E ·

Wel, dit klink positief. Of dit werklik gaan werk in die kriminele Suid-Afrika… En nou is dit nie die beste advertensie vir Fourways nie… jou eindom se waarde kan negatief beinvloed word. En dit gaan nie veel help om dwelms en so te bekamp nie. Die kriminele bly tussen ons. Leef lekker en ry duur motors, maar word blykbaar nooit gevang nie. Ongelukkig is eerlike burgers seker net 10%.

Niklaas ·

Pragtige idee. Maar as misdaad pleeg raakgesien word, wat dan? Gaan taakspan aangejaag kom? Wonder maar net.

Dirk Mostert ·

Ek het dit jare gelede by ons aanklagkantoor voorgestel. Toe daar gevra is wat die koste sal wees, was my antwoord, “minder as een van julle se salaris”. Dit kan ook teen bendes en gedurende betogings gebruik word, om vandaliste en ander kwaaddoeners op heterdaad af te neem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.