Hommeltuig lewer longe by hospitaal af

Ingenieurs en dokters in Kanada het baanbrekerswerk verrig deur ʼn hommeltuig in te span om longe te vervoer (Foto: Jason van Bruggen , AFP)

Ingenieurs en dokters in Kanada het baanbrekerswerk verrig deur ʼn hommeltuig in te span om longe – wat vir oorplanting gebruik is – van een hospitaal na ʼn ander te vervoer.

ʼn Onbemande hommeltuig van sowat 15,5 kg is einde September in die lug opgestuur om longe van die Toronto Western-hospitaal na die Toronto- algemene hospitaal te neem. Dié twee hospitale is sowat 1,2 km van mekaar geleë. Die hele reis het minder as 10 minute geduur.

Die longe is in ʼn koelhouer geplaas – wat die organe se temperature reguleer.

Dr. Shaf Keshavjee, ʼn longoorplantingspesialis, beskryf die longe as die broosste van alle organe om te bewaar en vervoer te word.

Op die dak van die Toronto- algemene hospitaal het ’n chirurgiese span gereed gestaan om die longe te ontvang. Die longe is suksesvol ingeplant en die lewe van die 63-jarige man wat met longfibrose gediagnoseer is, gered.

Op die dak van die Toronto- algemene hospitaal het ’n chirurgiese span gereed gestaan om die longe te ontvang. (Foto: Jason van Bruggen , AFP)

Die pasiënt is self ’n ingenieur en was beïndruk met die feit dat die longe met ʼn hommeltuig afgelewer is.

Die pasiënt was twee dae later sterk genoeg om sy dogter se troue aanlyn by te woon.

Oorplantingsorgane word gewoonlik na lughawens gevlieg (indien dit tussen stede vervoer word) en dan per motor na hospitale vervoer. Die gebruik van ’n hommeltuig tussen hospitale verseker ʼn  meer direkte roete en bespaar tyd deur swaar motorverkeer te vermy.

“Ons het bewys dat dit veilig is om organe in die middestad van Toronto met ʼn hommeltuig te vervoer,” sê Keshavjee. Hy het twee jaar lank saam met ’n tegniese span aan die hommeltuig gewerk.

Die span moes vooraf goedkeuring van die gesondheid- en burgerlikelugnavigasie-owerhede kry. Daar was ook tientalle toetslopies om seker te maak die rit verloop seepglad.

Indien daar tydens die vlug probleme sou opduik, sou ’n ballistiese valskerm aktiveer word om die hommeltuig en die koelhouer saggies na die grond af te bring.

Volgens Keshavjee beoog hulle om in die toekoms hommeltuie reg oor die wêreld te gebruik om oorplantingsorgane na hospitale te vervoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Herman

Ek kan 1.2 km in 9 min hardloop. En ek is nie eers vinnig nie.

Aai

So 5 min met kar gevat het en niemand sou sy werk verloor het.

piet

‘n Mens wonder of ‘n ambulans of ander wetstoepassingsvervoer met loeiende sirenes veel langer sou gevat het. Klink maar redelik onnodig vir so ‘n kort afstand. Die blote feit dat die afstand van hierdie hommeltye maar beperk is tot 8km maksimum, maak dit redelik nutteloos vir hierdie tipe operasie.

Marianna

Fantasties. Geen verkeer in die lug nie. Ek hoop ons sien dit ook hier in SA.

Henri

Klink na ‘n April-gekkegrap in Oktober. En die “chirurgiese span” op die foto lyk angswekkend met ‘n hardehoed en harnas.