Homofobiese pastoor SA verbied

Pastoor Steven Anderson van Faithful Word Baptist Church

Pastoor Steven Anderson van Faithful Word Baptist Church

Die minister van binnelandse sake het Dinsdag aangekondig die omstrede Amerikaanse pastoor, Steven Anderson, word verbied om Suid-Afrika te besoek.

“Mnr. Steven Anderson en lede en/of vennote van sy kerk word verbied om die Republiek van Suid-Afrika te betree,” het minister Malusi Gigaba tydens ʼn perskonferensie in Kaapstad aangekondig. Die verbod word ingestel kragtens artikel 29 van die Wet op Immigrasie.

“Ek het die direkteur-generaal in kennis gestel dat ek Steven Anderson en lede en/of vennote van sy kerk as ongewenste persone identifiseer het. Ongewenste persone word verbied om na Suid-Afrika te reis vir ʼn tydperk soos bepaal deur die departement.”

Gigaba het gesê Anderson se visum-vrywaringstatus, wat vir alle Amerikaners geld, word ook ingevolge die Immigrasiewet teruggetrek. “Dit is op grond daarvan dat ek seker is dat hulle haatspraak bevorder en maatskaplike geweld aanhits. Anderson sal gevolglik in kennis gestel word dat hy verbied word om Suid-Afrika te besoek.”

Verteenwoordigers van die lesbiese, gay, biseksuele, transgender en interseks (LGBTI)-organisasies het twee petisies met meer as 60 000 handtekeninge aan Gigaba oorhandig ná ʼn vergadering om Anderson se besoek aan Suid-Afrika te bespreek. Die petisies is deur Gay Radio SA aan die departement van binnelandse sake en die Menseregtekommissie oorhandig en bepleit die beskerming van die regte van die LGBTI-gemeenskap.

Gigaba het hetsê die departement het die besluit, om Anderson en 17 lede van sy groep wat die land saam met hom sou besoek te verbied, sorgvuldig oorweeg.

Hy het bygevoeg dit is belangrik om te noem dat Anderson nie net haatspraak lewer teen die LGBTI-gemeenskap nie, maar dat hy ook neerhalende uitlatings gemaak het teen Afrikane en vroue in die algemeen.

Anderson het ook emeritus aartsbiskop Desmond Tutu beskryf as een van die godsdiensleiers wat “pervers” is en dat hy “in ʼn pienk rok” rondloop.

Hy het ook gesê Barack Obama, president van die VSA, is ʼn “massamoordenaar” vanweë belastinggeld wat gebruik word om aborsies te befonds.

Anderson het onder skoot gekom toe hy ná die slagting op 12 Junie vanjaar by Pulse-nagklub in Orlando, Florida, waartydens 49 persone omgekom het, na bewering aan sy lidmate gesê het “daar is nou 50 minder pedofiele in die wêreld”. Die nagklub is veral deur gay persone ondersteun.

Anderson se vrou, Zsuzsanna, is ook gekap oor inskrywings op haar webjoernaal. Sy tref onder andere ʼn vergelyking tussen die hoë egskeidingsyfer en vroue wat geboortebeperking gebruik. Sy is ook duidelik oor haar “haat” vir in vitro-bevrugting (IVB) vir vroue wat nie kinders kan hê nie. Sy het verwys na ʼn vrou in Suid-Afrika en haar ʼn “monster” genoem omdat sy “al 76 babas doodgemaak het en nog twee voortydig laat sterf het” toe die IVB-behandeling onsuksesvol was.

Anderson en sy vrou het nege kinders.

Maroela Media het vroeër berig die Baptiste Unie van Suider-Afrika het homself Vrydag gedistansieer van Anderson en sy Faithful Word Baptist Church en dit ʼn “onafhanklike, fundamentalistiese kerk” genoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.