Homofobiese skeltaal kos oud-Bok R188 000

Potgieter het die foto op Instagram gedeel.

Potgieter het die foto op Instagram gedeel.

Die voormalige Springbokflank wat nou vir die Waratahs speel, Jacques Potgieter, is Maandag met A$20 000 (sowat R188 000) beboet vir die gebruik van homofobiese skeltaal tydens sy span se Superrugbywedstryd Sondag teen die Brumbies.

Die Brumbies se een flank en `n voormalige Wallaby-kaptein, David Pocock, het die skeidsregter Craig Joubert tydens die wedstryd daarop attent gemaak dat `n homofobiese aanmerking deur `n voorspeler van die Waratahs gemaak is.

Pocock is `n vegter vir gay-regte en was verlede jaar die ambassadeur tydens die internasionale gayrugbytoernooi om die Binghambeker in Sydney. Sanzar, die rugbybeheerliggaam van onder meer die Superrugbyreeks, het `n voorlopige ondersoek na Pocock se bewerings gedoen en dit na die Australiese Rugbyunie (ARU) verwys.

Die ARU, `n ondertekenaar van die Anti-Homophobia and Inclusion Framework wat ten doel het om `n kultuur te skep wat groter verdraagsaamheid en inklusiwiteit van gays in sport voorstaan, het toe die Potgieter-aangeleentheid na sy integriteitskomitee verwys. Die ARU het Maandag `n verklaring uitgereik dat Potgieter met A$20 000 beboet is waarvan die helfte opgeskort is. Daar sal ook van hom verwag word om `n bewusmakingsprogram te deurloop.

Potgieter het sy spyt oor die voorval op Instagram uitgespreek. “Ek wil opreg verskoning vra vir die kwetsende woorde wat ek in die wedstryd teen die Brumbies gebruik het. In die hitte van die oomblik het ek tot my spyt `n woord gebruik, sonder dat ek diskriminasie daarmee bedoel het. Ek respekteer almal op alle vlakke van die samelewing en sal nooit doelbewus iemand seermaak of beoordeel nie, dit is nie my aard nie. Ek vra om verskoning vir my optrede en besef die erns daarvan.”

Die skelwoord wat Potgieter gebruik het is nie bekend gemaak nie, maar is blykbaar ‘faggot’, het die Sydney Morning Herald berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Henk ·

Jacques Potgieter, laat weet ons wat jou bankrekening nommer is. Hier is BAIE wat sal help betaal aan daai boetetjie.

Nic ·

Jaques verdien ons steun. Maar kan daardie verskriklike omhelsings en kopvryf en nat soene na ‘n punt nie maar einde kry nie? In my rugby dae sou ons geskors of ten minste summier afgestuur gewees het vir sulke gedrag.

Delia ·

Stem saam met jou, Nic. Ek het niks teen ‘gay’s’ nie, inteendeel, het ‘n hele paar vriende onder hulle, maar die omhelsings, kop vrywery en soene kan maar gerus wag tot die kleedkamers…

Francois ·

Wat my baie ontstel en bekommer is dat ons ‘n wet in Suid Afrika het wat juis die sort ding moet beskerm. Hoekom vervolg Maroela nie ierder en elk hierbo wat sulke snert kwytraak nie. Of beteken dit dat almal nou weer die “K” word ook mag gebruik?

Francois ·

Nee Riaantjie ek kan nie, want ek is nie en is trots op wie en wt ek is…kan jy dieselfde sê? Sê my wanneer het jy uitgevind JY is straight? Is jy so gebore? Wel as jy is, ek is GAY gebore…so word groot en gaan speel op die snelweg!

Francois ·

Maroela en kan nie glo dat julle die goed plaas nie. Nou weet ons ook almal waar ons met julle staan! Julle is so slap soos ‘n nat snoek!

Francois ·

Maroela Media hoekom pas julle nie julle eie Bepalings en Voorwaardes toe nie? Ek haal aan ” Ons sal egter geen rassisme, seksisme, homofobie, vieslike persoonlike opmerkings, ander vorms van haatspraak of kru, kras en vuil taal duld nie. Maroela Media behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder. Moenie die oom of tannie in die familie wees van wie niemand hou nie.”

Francois ·

Maroela Media hoekom pas julle nie julle eie Bepalings en Voorwaardes toe nie? Ek haal aan ” Ons sal egter geen rassisme, seksisme, homofobie, vieslike persoonlike opmerkings, ander vorms van haatspraak of kru, kras en vuil taal duld nie. Maroela Media behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder. Moenie die oom of tannie in die familie wees van wie niemand hou nie.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.