Hond dae later uit gat gered

ʼn Hond wat dae lank in ʼn groot, oop gat in Naturena in Johannesburg vasgekeer was, is deur die Johannesburg-dierebeskermingsvereniging (JDBV) gered. (Foto: Verskaf)

ʼn Hond wat glo dae lank in ʼn groot, oop gat in Naturena in Johannesburg vasgekeer was, is deur die Johannesburg-dierebeskermingsvereniging (JDBV) gered.

Die JDBV het Donderdag ʼn video van die voorval op hul Facebook-blad gedeel.

Volgens Liana Marx, woordvoerder van die JDBV, was die hond, ʼn Duitse herdershondkruising, vermoedelik vir ʼn paar dae in die gat vasgekeer. Inspekteurs van die JDBV het Woensdag boonop minstens ʼn uur lank gespook om die brak uit die gat te red.

Inwoners het die hond glo vir ʼn geruime tyd hoor tjank en blaf, maar nie geweet waar die geluid vandaan kom nie.

Die hond word tans by die JDBV versorg, wat nou na liefdevolle huis vir hom soek. Hy is glo baie vriendelik.(Foto: Verskaf)

By nadere ondersoek het hulle ʼn groot gat gevind – met die hond daarbinne en geen manier om te ontsnap nie.

“Hy is ongelooflik vriendelik en toon soveel dankbaarheid dat hy gered is. Ongelukkig het geen eienaar nog na hom kom soek nie,” het Marx aan Maroela Media gesê.

Marx sê waarvoor die gat gebruik word, weet gʼn mens nie. Dit is egter uiters gevaarlik vir mens én dier.

“Hy [die hond] kon sy been gebreek het. Net so kon ʼn kind daarin beland het.”

Die hond word tans by die JDBV versorg, wat nou na liefdevolle huis vir hom soek.

Vermiste rottweilers in stormwaterdrein vasgekeer

Dié redding kom kort nadat twee groot rottweilers dieselfde dag uit ʼn betonbedekte-stormwaterdrein in Elandspark in Johannesburg gered is.

Een van die twee groot rottweilers wat uit ʼn betonbedekte-stormwaterdrein in Elandspark in Johannesburg gered is. (Foto: Verskaf)

Volgens die JDBV het ʼn tuinier ʼn getjank gehoor en by nadere ondersoek gesien dat ʼn rottweiler in die drein vassit. Min het hy – en selfs die DBV – geweet dat twee honde in die drein beland het.

Dit is nie duidelik hoe die twee daar ingekom het nie.

ʼn Inspekteur is ontbied en het met behulp van ʼn plaaslike inwoner die betonblad gelig sodat die hond kon uitkom.

Toe die reun na die drein bly terughardloop het die inspekteur en vrywilliger gesien dat nóg ʼn rottweiler daar vassit. Sy is kort daarna ook uit die gat bevry.

“Albei honde was uitgeput en dors, maar was andersins in ʼn goeie toestand,” het die DBV op sy Facebook-blad geskryf.

Die twee groot rottweilers wat dieselfde dag uit ʼn betonbedekte-stormwaterdrein in Elandspark in Johannesburg gered is. (Foto: Verskaf)

Die honde, wat ʼn week tevore in Germiston vermis geraak het, is intussen met hul eienaar herenig.

Dié eienaar het onverpoos na die honde gesoek nadat hulle op ʼn manier uit die erf gekom het. Die gebied waar hulle uiteindelik gevind is, is sowat 8,5 km van Germiston geleë.

Marx sê hulle is dankbaar dat die honde veilig gevind is aangesien hulle verby ʼn groot nywerheidsgebied moes beweeg om eindelik in Elandspark op te eindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Di ·

So dankbaar dat die diere nou veilig is. Eienaars van honde moet toesien dat hulle honde nie by die erf kan uitgaan nie,

Henk ·

Honde wat weghardloop weens vuurwerke kan in snaakse plekke gaan skuiling soek. Net bly hulle is gered.

Janee ·

Dankie….dankie…dankie!!! Wat sal ons doen sonder die DBV..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.