Hond eersdaags geopereer ná sy rowers afweer

Kei sal rekonstruktiewe chirurgie aan haar kakebeen moet kry (Foto: Verskaf)

Kei, ’n tweejarige Malinois-kruising wat haar eienaars se lewe gered het toe gewapende rowers by hul huis in Benoni ingebreek het, sal rekonstruktiewe chirurgie aan haar kakebeen moet kry.

Sy sterk egter goed tuis aan, nadat sy verlede week uit die dierekliniek ontslaan is.

ʼn Koeël het Kei op haar snoet getref en haar kakebeen verbrokkel toe sy op 3 Oktober rowers in haar eienaars se huis bestorm het. Sarah en Warren Lamont en hul gesin was vas aan die slaap toe die rowers by hul huis in Lakefield ingebreek het.

Die rowers het op die vlug geslaan, maar nie voordat hulle ’n paar skote op Kei en die gesin se yorkshireterriër, Holly, afgevuur het nie. Holly het helaas nie die twee rowerkoeëls wat haar getref het, oorleef nie.

Kei is ná die voorval na ’n veearts in Kempton Park en toe na die Onderstepoort-dierekliniek in Pretoria geneem, waar spesialiste haar ondersoek het.

Volgens Sarah (39) voel Kei goed nadat sy ontslaan is en herstel daagliks. Sy kry die nodige medikasie en buisvoeding tuis.

Sarah sê Kei gaan Donderdag weer vir ’n ondersoek by Onderstepoort sodat die spesialiste kan bepaal wanneer sy die rekonstruktiewe chirurgie aan haar kakebeen moet ondergaan.

“Die veearts sê sodra die weefsel rondom haar kakebeen genees is, kan hy die operasie doen. Hy sal Donderdag kan bepaal of dit wel al genees het,” sê Lamont.

Intussen het die troeteldierversekeraar, dotsure.co.za, aangekondig dat hy Kei se mediese onkoste, haar rekonstruktiewe chirurgie en ook enige bykomende behandelingskoste ten volle sal betaal.

Warren en Sarah Lamont by hul dogters Jordan (13) en Kenzie (10), en hul hondjie Holly. (Foto: Verskaf)

Die versekeraar sê bykomende behandelingskoste – soos die aanbring van ’n plaatjie in haar kakebeen en ’n moontlike beenoorplanting – beloop na raming ongeveer R60 000.

“Toe ons hoor van die beproewing wat die Lamont-gesin moes verduur en Kei se dapper optrede om hulle te red, kon ons nie anders as om in te spring en te help nie,” sê David Roache, dotsure.co.za se bedryfshoof.

“Dotsure.co.za is ’n omgee-handelsmerk, en ons weet dat troeteldiere meer is as net diere – hulle is familie. Ons is diep geraak deur die heldhaftigheid van Kei en die Lamonts is sedert 2017 deel van ons troeteldierversekeringsfamilie.”

Lamont sê hul gesin is baie dankbaar vir dotsure.co.za se hulp.

“Dit is wonderlik om te sien hoe mense in moeilike tye omgee en ondersteunend is,” sê Lamont.

“Dit is ook ’n seëning om te ervaar hoe ’n traumatiese gebeurtenis nou ’n positiewe uitkoms het.”

Volgens Lamont vat die gesin dinge ook dag vir dag en word hulle elke dag emosioneel sterker.

“Die meisies was hierdie week weer die eerste keer hul ou self. Ons keer stadig maar seker weer terug na ons normale daaglikse roetine. Ons is dankbaar daarvoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Di ·

Dankie aan Dotsure.co.za vir julle onbaatsugtige gebaar on hierdie pragtige dier se mediese kostes te dek! Hoop Kei sal sommer gou herstel. Net dankbaar dat hierdie gesin nie beseer is nie, Hemelse Vader het julle verseker beskerm. Net jammer vir die ander onskuldige hondtjie wat moes sterf.

Margaret ·

Dotsure.co.za – julle is fantasies! Dankie vir wat julle hier doen, ons almal waardeer dit!
Arme Kei se oë lyk sommer hartseer na al die pyn.

Hennie ·

So dis asnvaarbasr om hierdie dier so te sien ly? Ek sou die dier eerder verlos het van die pyn en lyding! En ja, dis my groot liefde vir diere wat my sal kry om die dier al hierdoe drama en hel te spaar!

Lourens CFG ·

Ek stem saam as die hond oud is , of ‘n siekte wat nie genees kan word nie, dan moet hy/sy verlos word. Het juis ons 17jr oue JR verlos verlede week toe haar lewer ingegee het.
Maar hierdie is ‘n jong hond wat klaar sy liefde vir sy familie gewys het, nou kán mens nie net uitsit nie.
Ja, daar ís pyn, maar sy sal herstel én kry BAIE liefde nou terug ook. Gun haar nog jare se liefdevolle lewe.

Toy ·

Agmoeder kyk die gesiggie, ‘n dier is mens se beste vriend.

Sandra ·

Ag ek is so jammer oor Holly wat dit nie gemaak het nie. Dotsure, dis fantasties dat julle al Kei se veearts rekeninge gaan betaal. Deur dit te doen, kyk julle na die groter prentjie. Ek hoop julle kry meer besigheid as gevolg van die gebaar. Word gou gesond Kei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.