Hond gered wat so hittete deur see meegesleur word

(Argieffoto: NSRI)

ʼn Paartjie se geliefde Franse dashond (Basset hound) het ternouernood ontkom toe hy ʼn trop voëls op die Eersterivierstrand by Tsitsikamma uitbundig agterna gesit en so hittete in groot moeilikheid beland het.

Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het die jong paartjie Donderdagoggend met hul twee honde, die Franse dashond en ʼn Duitse herdershond, op die strand gaan stap. Die opgewonde hond het eers ʼn trop voëls agterna gesit en toe ʼn skool dolfyne wat daar naby geswem het. Hy het die water ingehardloop waar hy deur ʼn sterk seestroom meegesleur is.

Die jong man het by sy hond probeer uitkom, maar moes weens die sterk strome die poging laat vaar, sê Jaen Smit van die NSRI-Oesterbaai.

“ʼn Plaaslike vrou met swemvinne aan wat daar naby geswem het, het ook by die hond probeer uitkom.”

Simon Bekker, ʼn voormalige vloot-duiker (en barmhartige samaritaan), het net onlangs ʼn toekenning van die NSRI ontvang vir die suksesvolle redding wat hy in Desember op die Eersterivierstrand gedoen het. Hy het die beroering gesien en na die strand gehardloop waar hy ʼn kano gegryp en begin roei het in ʼn poging om die hond te red.

In daardie stadium het die hond op rotse geklouter, maar steeds in groot gevaar verkeer.

“Simon het die hond bereik en hom vasgehou en moed ingepraat en gekalmeer. Hy het die hond in sy skoot gehou en teen hom vasgedruk tot die eienaar, wat strandlangs tot daar geloop het, daar uitgekom het.

“Hy kon sy hond oor die rotse dra en na veiligheid neem,” sê Smit.

Die swemmer wat die hond aanvanklik probeer bereik het, was in daardie stadium nog in die water en Bekker het ook na haar geroei en haar veilig tot op die strand gehelp.

Die hond is met die res van haar gesin herenig nadat sy eers ʼn ondersoek deur lede van die NSRI-Oesterbaai, wat hul ook na die toneel gehaas het, se reddingspan ondergaan het.

“Die hond het in goeie luim gelyk en het nie enige verdere mediese sorg benodig nie.

“Die jong man het ʼn paar snye en kneusplekke op die rotse opgedoen, maar hy was ook oukei.

“Die twee was verheug dat hul hond veilig is en het Simon en almal anders wat gehelp het, bedank.”

Die NSRI het Bekker ook vir sy hulp geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Oosieoos ·

Ai tog so lekker om a slag a goeie positiewe storie te lees. Knap gedaan sal my lewe vir my diere gee

MJLS ·

Baie bly en dankbaar dat julle viervoetige kind gered is en dat niemand ‘n lewe ingeboet het nie.????

MJLS ·

Baie bly en dankbaar dat julle viervoetige kind gered is en dat niemand ‘n lewe ingeboet het nie????

MJLS ·

Baie bly en dankbaar dat julle viervoetige kind gered is en dat niemand ‘n lewe ingeboet het nie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.