Hond geskiet toe hy rowers takel

Boris na hy deur die rowers geskiet is (Foto: Verskaf)

ʼn Sekuriteitshond is drie keer geskiet toe hy Vrydagoggend by ʼn hotel digby Muldersdrift, Gauteng, ʼn rooftog probeer kelder het. Hy het die aanval oorleef.

Pieter Koekemoer, eienaar van Mondrea-sekuriteitsmaatskappy, vertel een van sy sekuriteitswagte, Aubry Mogami, was omstreeks 03:45 besig om die hotel op ʼn wildsreservaat in Kromdraai saam met Boris, ʼn volgroeide rottweiler, te patrolleer. Hy het voetstappe in die gang na die hotel se ontvangs gehoor en gaan ondersoek instel, waar hy deur drie gewapende rowers gekonfronteer is.

Boris het op bevel van Mogami dadelik op die drie rowers afgestorm en een van die rowers aan die keel gegryp.

Die rower wat in Boris se greep was, het hom in die gesig met sy vuurwapen geskiet. Die patroon is regdeur Boris se keel tot by die sagte weefsel langs sy ruggraat. Hy het sy greep om die rower se nek gelos, waarna die ander rowers op hom begin losbrand het.

Volgens Koekemoer is Boris drie keer met twee verskillende vuurwapens geskiet. Hy is deur die poot en in die blad, langs die ribbekas, geskiet. Die rowers het tydens die voorval Mogami ook probeer skiet. Hulle het hom en die persoon wat in die hotel se ontvangs gewerk het, met ʼn vuurwapen as gyselaars aangehou om te verhoed dat hulle alarm maak.

Die rowers is toe met skootrekenaars en twee televisiestelle wat hulle in die hotel se ontvangs gesteel het, vort. Hulle het glo ook inwoners in een van die hotelkamers beroof.

Boris is Sondag uit die Rant en Dal-dierehospitaal ontslaan (Foto: Verskaf)

Boris is ná die voorval na die Rant en Dal-dierehospitaal in Johannesburg geneem. Dié brawe vierpotige dier is Sondag reeds ontslaan. Sy toestand word noukeurig gemonitor. Mogami en die ander slagoffer is ongedeerd.

Koekemoer sê die polisie is dadelik ná die voorval ontbied en het die reservaat is met snuffelhonde gefynkam. Die polisie het die twee gesteelde televisiestelle in die reservaat gekry. “Die rowers moes die televisiestelle laat val het, want hulle het te veel gesteelde goedere gehad om te dra,” sê Koekemoer.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Koekemoer is vol lof vir Mogami en Boris vir hul heldhaftigheid tydens die voorval. “Ek het al met baie wagte en honde in my 28 jaar in die sekuriteitsbedryf gewerk en nog net ’n paar keer ’n hond soos Boris teëgekom. Ek dink sy optrede het beslis gekeer dat die kriminele nie meer skade berokken het en meer mense getraumatiseer het nie,” sê Koekemoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Wel gedaan Boris, jammer jy het nie sy strot uitgeruk nie

Jims

Mooi so Mogami en Boris, net baie jammer Boris het so seergekry. Hoop hy herstel ten volle.
Boris, volgende keer ruk jy daai vent se strot uit voor hy kan skiet!

Mel

Boris verdien ‘n bells

Lizzy8

Knap gedaan Boris!

Toy

Ag my hart, Boris jou yster. So bly hy leef.