Hond gryp pa, kleuter wat stap

Metropolisiebeamptes Stallone Aravasundrayen, Jabulisile Mthembu en Thembesile Mwandla. (Foto: Verskaf)

“Die metropolisiebeampte moes noodgedwonge ʼn besluit neem om die hond te skiet nadat sy kake om die man se arm gesluit het.”

Só sê superintendent Parbhoo Sewpersad, woordvoerder van die Durbanse metropolisie, nadat ʼn beampte ʼn hond van kant gemaak het wat ʼn 40-jarige Malawiese man en sy driejarige dogter in Verulam, KwaZulu-Natal, aangeval het.

Volgens Parbhoo was beamptes Donderdagoggend in die omgewing van Toddstraat in Verulam op patrollie toe hulle gesien het hoe die hond, vermoedelik ’n boerboel (mastiff), ’n man aanval.

“Die hond het die man, wat probeer het om sy kind te beskerm, aan die arm gegryp. Drie metropolisiebeamptes het ingegryp en probeer om die hond van die man en kleuter af weg te kry,” sê Sewpersad.

“Een van die polisiebeamptes, Stallone Aravasundrayen, het selfs met die hond gestoei, maar kon nie die man se arm uit die hond se greep bevry nie. Gevolglik het hy die hond twee keer geskiet. Dit was ’n noodgedwonge besluit wat op die ingewing van die oomblik geneem moes word om die slagoffers te help.”

Volgens Sewpersad het die man sy kind eenkant gestamp in ʼn poging om te keer dat die hond haar beetkry.

Die man, wat beserings aan albei sy hande opgedoen het, is op die toneel behandel en daarna na ʼn plaaslike hospitaal geneem. Die dogtertjie het verskeie skrape opgedoen en is glo baie getraumatiseerd.

Sewpersad sê die hond se eienaars kon nog nie opgespoor word nie.

“Die hond het ’n halsband gedra en was goed versorg. Dit lyk nie soos ’n rondloperhond nie.”

Sewpersad sê hy sidder egter om te dink watter skade die hond nog sou aanrig, aangesien die dier in die middestad rondgedwaal het.

“Daar is duisende mense in die middestad. Hy kon ander mense ook gebyt het.”

Sewpersad doen ’n beroep op die gemeenskap om hulle honde veilig agter ’n toe hek in hulle erwe te hou en om altyd met ’n leiband te stap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rudolph

Dit behoort wet te wees dat:
1. Alle honde gesteriliseer moet wees
2. Alle honde moet geidentifiseer wees deur middel van mikro skyfie wat versorger identifiseer
3. Rondloper honde moet gevang word en in skuilings geplaas word totdat hulle versorgers opgespoor kan word
4. Ongeidentifiseerde hondeword vir aanneming opgegee
5. Alle handeldryf met honde moet verbied word

johann

Ek verstaan nie die bohaai nie. Enige hond wat ‘n persoon op straat aanval MOET geskiet word.

Danie

Jammer vir die hond maar was ‘n goeie besluit.