‘Hond’ is toe vrou se man wat vermoor moet word

Argieffoto (Foto: Daniel Bone/Pixabay)

Phumlisa Deyi (35) en haar vriend, Khanyisa Ncumani (33) is lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Deyi se man, Albert Fundisela Swapi (62), in Mei 2020. Hulle is in die Oos-Kaapse hooggeregshof gevonnis.

Ncumani is ook ʼn verdere 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede.

Saam met hulle is Siyabulela Nzelani (26) tot sewe jaar tronkstraf gevonnis vir roof. Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê Nzelani is ʼn ligter vonnis opgelê omdat die rooftog nie met voorbedagte rade gedoen is nie. Dit was op die ingewing van die oomblik.

Die hof het egter bevind Deyi en Ncumani het met voorbedagte rade opgetree en Swapi se moord in die fynste besonderhede vooraf bespreek.

Swapi en Deyi het saam met hul twee minderjarige kinders in Mgababa, Peddie, gewoon.

Deyi en haar vriend Ncumani het saam grootgeword in Mpekweni, ook in Peddie. Ncumani en Nzelani het steeds in Mpekweni gewoon.

“Deyi en haar vriend het gereeld op sosiale media met mekaar gesels. Sy het Ncumani oorreed om haar man te beroof en hom te vermoor. Dit is steeds nie duidelik wat haar motief vir die moord was nie, omdat sy dit nie in die hof wou onthul nie.”

Ncumani en Nzelani het op 25 Mei mandrax en dagga gebruik. Ncumani het sy vriend oorreed om saam met hom na Deyi en Swapi se huis te gaan. Hulle het die aand omstreeks 18:00 opgedaag waar die egpaar en hul twee jong seuns sit en televisie kyk het.

Nzelani het Deyi gegryp en haar na ʼn slaapkamer geneem. “Ncumani het Swapi skielik oorval en hom verskeie kere oor die kop geslaan met ʼn stomp voorwerp. Die twee mans het daarna van die toneel gevlug met Deyi se selfoon en kontant.”

Deyi het na buite gehardloop en om hulp geroep. Die bure het dadelik reageer. Swapi is met ʼn ambulans na ʼn hospitaal geneem, maar hy het later aan sy beserings beswyk.

ʼn Ondersoek is van stapel gestuur en beamptes het die 33-jarige Ncumani op 3 Junie in hegtenis geneem. Hy het tydens ondervraging skuld beken en dit laat blyk dat Deyi ook betrokke was. Nzelani is ook in hegtenis geneem en die polisie het hier beslag gelê op Deyi se selfoon.

Deyi is die volgende dag in hegtenis geneem in verband met haar man se moord.

“Die ondersoek het onthul dat Deyi ʼn paar dae voor die misdaad boodskappe aan Ncumani gestuur het en hom gevra het om haar man se gevaarlike hond uit hul huis te verwyder. Sy het Ncumani gevra om ʼn koper vir die hond te kry. Deyi en Ncumani het ooreengekom dat hy op 25 Mei 2020 die hond sal oplaai – dit is dieselfde dag wat die rooftog en moord plaasgevind het.”

In die hof is daar bepaal dat die “hond” in die gesprekke na Swapi self verwys het.

“Getuienis in die hof het onthul dat Deyi en Ncumani noukeurig en sorgvuldig die fyn detail van die moord beplan het.”

Regter Igna Stretch het tydens vonnisoplegging gesê dit was ʼn gewelddadige moord en die twee jong seuns is aan trauma onderwerp.

Barry Madolo, direkteur van openbare vervolging, het die staatsaanklaerspan en ondersoekspan geloof vir hul goeie werk in dié saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Shakespeare ·

Gebruik Zuma taktiek. Hy en ons wonderlike regstelsel het die president geskep en is nou oop vir al die kriminele se gebruik.

Mariana ·

Wat is dit deesdae met vrouens wat hul mans laat vermoor? Dit gebeur al hoe meer en gewoonlik is die verskoning dat die mans geweldadig teenoor hulle was. Maar hoe dit ookal sy hulle word ook darem gereeld uitgevang met hul medepligtiges.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.