Twee vermiste sussies van KwaZulu-Natal is weer veilig tuis danksy ’n snuffelhond genaamd Dante.
Dante het Dinsdag polisiebeamptes na die kinders gelei waar die oudste sussie (15) bewusteloos in die veld aangetref is, met haar slapende vyfjarige sussie bo-op haar.
Die polisie sê in ’n verklaring beamptes van die polisie se honde-eenheid en die soek-en-reddingseenheid is Dinsdag na die omgewing van Kwadukuza ontbied. Hulle is meegedeel dat die twee sussies sedert Maandag ná ’n bakleiery by die huis vermis word.
Die kinders is laat Maandagaand laas in die Kenia-nedersetting in die omgewing van Glenhills gewaar.
’n Soektog is Dinsdagoggend van stapel gestuur in ’n digte veld wat gemeenskapslede in die Kenia-omgewing aan die polisie uitgewys het.
Dit was die snuffelende Dante wat ná ’n uitgebreide soektog eindelik die polisiebeamptes na die twee kinders gelei het.
Dringende mediese behandeling is op die toneel op die oudste sussie toegepas voordat sy na die Kwadukuza-hospitaal vervoer is vir verdere mediese behandeling.
Haar jonger sussie is sedertdien weer in die sorg van haar ma.
- (Foto: Verskaf)
- (Foto: Verskaf)
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
14 Kommentare
Skandelik dat kinders moet vlug as daar ‘n bakleiery uitbreek! Hoop die ouers word ook aangekla.
Hartseer, ontstellende gebeure. Dankie aan K9-span. Welgedaan. Hoop hierdie twee kinders kry die nodige hulp om hul omstandighede te verbeter.
GBV op die staat se agenda- viva ANC…
Ek is so bly hulle is ok. Toe ons klein was het my pa so humeur gehad dat my ma ons hande gevat het en uitgehardloop het in straat in totdat hy klaar was om wat ook al stukkend te slaan met sy vuiste. Dit is nie lekker nie. Ek is nou al 44 en ek sal dit nooit vergeert nie. Arme kindertjies. Dankie Dante, jou pragtige woef!
Dante jy is ‘n absolute ster. In die wereld van slegte nuus en kinders wat nie lewend gevind word nie, is jy die ster aan die einde van die wereld se donker tonnel. Mooi so