Hond oorleef kaping, sterk aan

Hazel is op ‘n drup vir die nag gehou (Foto: Verskaf)

Hazel, die 12 week oue schnautzer wat Dinsdagmiddag saam met die voertuig wat haar na haar nuwe eienaar sou neem gekaap is, is in minder as 24 uur weer gevind. Sy is tans veilig by die Craig View-veeartskliniek in Boksburg waar sy vir die aand op ’n drup gehou is.

Dié hondjie was Dinsdag omstreeks 11:30 met die troeteldier-vervoeragentskap Animal Travel Agency van Brits na haar nuwe eienaar in Johannesburg op pad, toe sy saam met die voertuig gekaap is.

Maroela Media het vroeër berig Hazel was ’n geskenk aan haar nuwe eienaar, Sue Bezuidenhout, vir haar 60ste verjaardag. Sy sou aanvanklik Dinsdagmiddag by Bezuidenhout aankom, maar is by ʼn kruising in Stormvoëlweg in Pretoria op pad na Johannesburg gekaap.

Chantelle Bronkhorst, die operasionele bestuurder van Animal Travel Agency, sê Hazel is Woensdagoggend in die Orange Farm-nedersetting suid van Johannesburg opgespoor. Dit is hier waar die gekaapte voertuig se opsporingstoestel ook Dinsdagmiddag opgespoor is voordat die toestel uit die voertuig verwyder is.

Animal Travel Agency in samewerking met die organisasie Friend of the Rottweiler Rescue & Re-home South Africa het Dinsdagaand onverpoos na Hazel gesoek.

Phumlani hou vir Hazel vas (Foto: Verskaf)

“’n Man het Woensdagoggend Hazel se nuwe eienares gekontak en gesê hy het Hazel in ’n boks langs die pad naby die Orange Farm-nedersetting gekry,” vertel Bronkhorst. Dié man het glo ’n foto van Hazel op ’n advertensie gesien wat geplaas is nadat sy verdwyn het. Hazel se nuwe eienaar se kontaknommer was ook op die advertensie aangedui.

Bronkhorst sê hulle het toe vir Hazel by die man gaan uitken. Sy is daarna dadelik na die veeartskliniek geneem.

“Sy het maar tam gelyk toe ons haar kry. Sy het allerhande goed deur die aand geëet. Die veearts het haar op ’n drup gesit om haar weer te hidreer. Na ’n halfuur op die drup het sy beter begin lyk. Sy het ook baie van die goed wat sy deur die aand geëet het, opgebring,” vertel Bronkhorst.

Bronkhorst sê Phumlani Mahesh, die bestuurder wat die voertuig bestuur het toe dit gekaap is, het deur die nag gebid dat Hazel gevind moet word. Hy gaan Hazel Donderdagmiddag self by Bezuidenhout aflaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Kobus ·

Ek kan nie regtig sien hoe hierdie storie nuuswaardig is nie

Sarah ·

dis beter as Covid, Corona, Inperking, Geen drank en sigarette en 40000 sterftes word verwag teen November vir SA.

Dis maar net ietsie anders om te lees buiten die gewone snert wat in ons kele permanent afgedwing word

capie ·

Kobus bedoel seker dit is alledaags in die land. tog ‘n bietjie afwisseling

Amatambo ·

Aag- asse-BLIEF, Kobus, vir ons wat lief is vir honde is dit nuuswaardig – en ek hoop dat Hazel ten volle van haar trauma sal herstel en ‘n baie gelukkige lewe by haar nuwe tuiste ondervind…

Marisa W ·

Ag ek is bly – ons het almal maar ‘n bietjie goeie nuus nodig

Charles ·

Ek wil net vir Kobus sê dat vir ons as diereliefhebbers is die opspoor van Hazel nuuswaardig!!!

Eerlik ·

Stem saam jou Charles! Dis nogal jammer dat daar sulke ongevoelige mense in ons samelewing is.

capie ·

Ek hoop die barmhartige Samaritaan is behoorlik vergoed. Ek neem aan dit is ‘n duur hond.

Carina ·

Dankie tog sy is veilig gevind. Ek was so bang sy kom iets oor, het heel nag aan haar gedink.

Genis ·

Ag ou Kobus, jy het seker nie n Budgie of n Varing nie? Baie goeie nuus, bly die woef is veilig

Pandora ·

Sjoe! Wat ‘n verligting. My hart was sommer vreeslik seer vir die arme Schnauzertjie wat saam met die motor gekaap is .
Dankie dat julle ons Maroelafonteiners laat weet het dat die woef veilig gevind is en dat die drywer Phumlani ook veilig is en sy gebede verhoor is. Ek is self ‘n Schnauzer eienaar en dis die beste medisyne vir enige mens wat alleen woon… hulle is so sag en lieflik en lojaal.
Mag Hazel haar nuwe huisie baie geniet – sy gaan sekerlik vreeslik bederf word!

4ntj13 ·

Ai, sommige mense is súlke wrede goed! Karakter word gemeet aan hoe mens die kleinstes van God se skepsels behandel. Baie dankie vir mense wat aangehou soek het en sterkte vir Hazel met ʼn hopelik goed ondersteunde program om die trauma te kan verwerk.

Sonneblomkind ·

dankie tog vir die goeie nuus, so bly woefie sterk aan en is veilig

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.