Hond opgelei om bedreigde paddas uit te snuffel

Matthew saam met haar skaaphond Jessie. Foto: Facebook

Matthew saam met haar skaaphond Jessie. Foto: Facebook

ʼn Ses maande oue skaaphond word tans opgelei om Afrika-brulpaddas uit te snuffel, berig die Sunday Times.

Volgens die berig is Afrika-brulpaddas, ʼn beskermde spesie, tans besig om uitgewis te word weens grootskaalse konstruksie in Gauteng maar kan die skaaphond Jessie hiermee help. Jessie se eienaar, Este Matthew, het oorspronklik met die idee vorendag gekom om haar hond op te lei. Matthews doen tans haar meestersgraad in dierkunde aan die Noordwes-Universiteit. Prof. Che Weldon, Matthews se studieleier, sê Jessie sal beide ontwikkelaars en die omgewing bystaan.

In die verlede is konstruksieprojekte gestaak as daar Afrika-brulpaddas in die omgewing gekry is. Jessie gaan vir ʼn jaar deur ʼn Sweedse geoloog, Peter Bergman, opgelei word. Bergman het vroeër sy Duitse Herdershond, Rex, opgelei om met minerale eksplorasie te help. Volgens die berig sal Jessie nie dadelik aan lewendige paddas blootgestel word nie aangesien sy nog jonk is en hulle haar moontlik sal laat skrik. In plaas hiervan sal tee gebruik word om haar reuksintuig te verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.