Hond red man met PTSV van selfdood 

Johan Hatting en sy Kodak is deesdae onafskeidbaar. (Foto: Verskaf)

’n Baba wat tydens ʼn transitorooftog op haar ma se rug doodgeskiet is waarvan die klein lykie in ʼn sloot onder ʼn ruimtebaadjie gelê het, was een van talle traumatiese tonele wat Johan Hattingh (48) in sy 17 jaar as joernalis en fotograaf aanskou het. Hierdie tragedie en ʼn reeks ander gebeurtenisse het daartoe gelei dat hy met PTSV (posttraumatiese stresversteuring) gediagnoseer is en ses jaar lank nie kon werk nie. Dit was vir hom veel erger as toe daar op hom geskiet is. Was dit nie vir sy getroue hond Kodak wat hy gered het nie, het hy waarskynlik al selfdood gepleeg.

Toe Hattingh by Beeld gewerk het, is hy aangesê om iemand te gaan spreek nadat kollegas en lede van die publiek gekla het dat hy te aggressief begin raak.

Dis toe dat hy met PTSV gediagnoseer is. Hy het egter vir niemand daarvan vertel nie en het net aangehou met werk.

“Ek wil dit duidelik stel dat dit nie noodwendig net een spesifieke voorval is wat tot PTSV kan lei nie. Dit kan wel ook ʼn aantal gebeurtenisse wees – in my geval was dit oor ʼn tydperk van 17 jaar in die joernalistiek dat ek elke paar dae aan iets traumaties blootgestel is.”

Ek besig om dienslewerings protes af te neem vir Beeld in Khutsong, net buite Carletonville. (Foto: Kim Ludbrook/EPA)

Dit het hom omgekrap om foto’s te neem van mense wat trauma beleef het en hulle dan agter te laat.

“Dit was vir my moeilik om in die oggend na ʼn grusame storie uit te gaan, terug te kom by die kantoor, foto’s te redigeer en dan weer die middag foto’s van Mej. Suid-Afrika-deelnemers te neem wat aan ʼn bemarkingsveldtog by die dieretuin deelneem. Dit was vir my uiters moeilik om daardie twee wêrelde met mekaar te vereenselwig.

“Die nuussiklus is ook so vinnig dat jy nie tyd het om iets te verwerk nie. Jy gaan op gemiddeld drie stories per dag uit. Wat my nog sieker gemaak het, is die feit dat ek my trauma met ander sʼn vergelyk het; ʼn klassieke PTSV-simptoom – skuldgevoelens omdat hul trauma dalk erger as myne is. Ek het saam met soveel fotograwe gewerk wat myns insiens veel erger trauma as ek beleef het. Dis daardie vergelykings wat jou laat voel dat jy nie daardeur geraak mag word nie. Ek het gedink as ek vir hulle moet vertel dat ek met PTSV gediagnoseer is, hulle vir my sou lag.

“Die waarheid is egter dat twee mense langs mekaar kan staan, dieselfde ervaring deel, maar verskillend daarop sal reageer. Baie mense het traumatiese ervarings, maar hulle word nie met PTSV gediagnoseer nie. Party mense se trauma na byvoorbeeld ʼn kaping of huisrooftog sal vanself na ʼn paar maande oorwaai. Ek sal in elk geval traumaberading voorstel, maar as die simptome voortduur, moet jy beslis hulp kry.”

Johan en Stafsersant Kevin, ‘n Belgiese malinois-hond, tydens ‘n patrollie saam die 3rd Batallion/320 Field Artillery Regiment Red Knight Rakkasans buite Forward Operating Base St Michael. Al Mahmudiyah, Irak. Dié land se weermaghonde het almal range. (Foto: Verskaf)

Hy beskryf van die simptome van PTSV onder meer soos volg: selfisolasie, irritasie, woede, uiters negatiewe gedagtes, terugflitse en hiperwaaksaamheid. Die gevoelens wat jy ervaar, is ʼn natuurlike reaksie op ʼn onnatuurlike situasie. Mense met PTSV word ook permanent in die veg, vlug of vries stresreaksie van die simpatiese senuweestelsel vasgevang, wat weer daartoe lei dat adrenalien en kortisol voortdurend in jou liggaam afgeskei word. Op ʼn fisiologiese vlak word jou brein (spesifiek die amigdala en hippokampus), geheue en slaappatrone aangetas.

Daar is ook ʼn verband tussen PTSV en outoimmuunsiektes. So is hy ʼn jaar nadat hy in 2008 met PTSV gediagnoseer is met Lupus ook gediagnoseer, wat gelukkig nou met die regte dieet onder beheer is.

Hy het in dieselfde jaar by die VV aangesluit en in Soedan gaan woon.

“Nadat ek in 2011 van Soedan af teruggekom het, het my wiele begin afkom. My verhouding het skipbreuk gely en in 2012 het die bedryf my uitgespoeg. Skielik het ek al hierdie tyd gehad en my brein kon nie ophou dink nie. Ek kon vir ses jaar lank nie werk nie, het bitter min sosiaal verkeer en het al dieper in ʼn donker plek weggesak. Ek het my van die wêreld, wat ek met ʼn passie gehaat het en wat my gevangenis was, afgesny.”

Hattingh sê een probleem is dat baie mense wat vir jou omgee wil help, maar nie weet hoe nie en dit laat jou nóg eensamer voel. Hy het agtergekom dat helikopters en telefone sy snellers is. Sy selfoon is gevolglik byna permanent op sag gestel. Hy het besef dat 90 persent van die trauma wat hy beleef het met ʼn telefoonoproep begin het.

“PTSV word dikwels gestigmatiseer, maar dit is moontlik om dit te oorwin en daarmee saam te leef.”

Hy benadruk dat hy dit nie opgedoen het as gevolg van iets wat hy in Irak gesien het nie. Wat hom wel onstel het, was toe hy tydens ʼn genadevlug huis toe ʼn dogtertjie aanskou het wat die slagoffer van ʼn bomontploffing was. Die helfte van haar gesig was weggebrand. Hy voel tot vandag toe skuldig omdat hy weggekyk en geen empatie aan haar kon betuig toe hy verby haar gestap het nie.

Daar was selfs tye dat Johan selfdood oorweeg het, maar dan was hy bekommerd oor wat van Kodak sou word. (Foto: Verskaf)

Daar was selfs tye dat hy selfdood oorweeg het, maar dan was hy bekommerd oor wat van Kodak sou word.

Hattingh sê dis belangrik om so gou moontlik ʼn kliniese diagnose te kry om die regte behandeling en terapie te ontvang.

Dit is belangrik om by die kern van die probleem uit te kom. Hattingh is later met Ibogaine by ʼn kliniek in die Magaliesberge behandel. Dit is afkomstig van ʼn hallusinogeniese plant van Gaboen in Wes-Afrika en het ʼn fisiologiese uitwerking op jou brein aangesien dit letterlik nuwe neurale paaie in die brein skep.

“Dis ʼn volwaardige kliniek wat deur ʼn kliniese sielkundige gestig is met ʼn mediese dokter, sielkundige en terapeute aan diens.”

Johan en Stafsersant Marco, ‘n Belgiese malinois-hond, net voor patrollie buite Forward Operating Base Kalsu naby Bagdag, Irak. (Foto: Verskaf)

Vandag is Hattingh ʼn fasiliteerder by die einste kliniek waar hy diegene bystaan wat ook erge trauma beleef het. Sy kamerasakke is vir ewig weggepak. Hy kan met empatie na hulle luister. Hy was self daar.

Hy volg tans ʼn kursus in traumaberading by Unisa.

“My lewe is nou gelukkig en vervuld.”

Ondanks sy erge trauma is hy nie spyt oor wat met hom gebeur het nie.

“Ek moes daardeur gaan om die mens te wees wie ek vandag is. Ek beskik nou oor die regte vlakke van deernis en empatie met sterk grense om ander mense te probeer help.”

Hy beskryf Kodak as sy “emosionele ondersteuningshond en bemarkingsvriend” ten opsigte van die steungroep wat hy gestig het. Kodak se jakkie met die inligting op, dra tot bewusmaking by.

Hy vryf oor haar kop en vertel: “Sy het die oggend van my verjaardag op 5 September 2009 opgedaag toe ek van Soedan af teruggekeer het, al strompelend uit die bosse uit; ʼn weggooihond.”

Nou is Kodak altyd aan sy sy en selfs welkom by vriende se troues. Hulle is onafskeidbaar.

Johan en soldate van die 3rd Batallion/320 Field Artillery Regiment Red Knight Rakkasans en Iraqi Army tydens operasie in Yusufia, Irak. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

annie ·

…en Johan het min naastes se ondersteuning…? Familie… Vriende… So gaan dit met baie jongmense uit die vorige bedeling wat moes aanpas en inpas by die nuwe lewe in SA; self hul paadjie uittrap. Baie is alleenlopers of voel half uit pas met die ouer garde wat net altyd beter weet maar nie verstaan nie. Voorspoed!

Konrad1226 ·

Laat my dink aan Kevin Carter. Pulitzer prys gewen met ‘n foto van ‘n verhongerde kind met ‘n aasvoël in die agtergrond. Sy eie lewe geneem.

Lynette ·

Ek bid vir jou en Kodak vir ekstra beskerming sodat julle lank bymekaar sal bly. Dankie vir die werk wat jul twee vir ouens soos ons doen. Godsseën.

Helene ·

Dankie dat jy jou verhaal met ons gedeel het. Kodak is pragtig!

Sandra ·

Wat ‘n pragtige storie. Wys jou net, diere kom o ons pad wanneer ons dit die nodigste het.

Ny ·

Diere is net amazing!!! So sy liefde vir sy hond was sterker en meer as die poging tot selfdood :-)

Charl ·

Van een Hattingh tot ‘n ander, ek’s bly dinge het vir jou reggekom en dat jou lewe weer terug is na normaal. Sterkte Johan.

Heinrich ·

Ek dink meeste van SA se mense lei aan PTSV soos ons geboelie word deur kriminele, taxis op die pad, ANC rasstellende aksie in die werkplek, lokvalle met klippe op die paaie en algehele verval van die land. Geen normale mens kan sonder skade hier uit kom nie!

Nellie ·

Ek was self ‘n slagoffer van ‘n traumatiese ervaring, ek en my ma is aangeval in ons huis in 2004, die dag voor my verjaardag. Ek is vasgebind, verskriklik geslaan en geskop, my ma is verkrag. Ek sou volgende gewees het as ek nie losgekom het nie. Die PTSD het eers ‘n paar jaar later by my ingeskop, en dit het gelei dat ek aan alkohol en voorskrif medikasie (slaap pille en kalmeermiddels) verslaaf geraak het. Ek is al 2½ jaar skoon en sober, het by ‘n support groep aangesluit en alhoewel ek my moeilike dae beleef, gaan dit goed oor die algemeen. My ma toon geen tekens van PTSD nie, sy het die gebeurtenis heeltemal uit haar brein geblok. Ek, was nie so gelukkig nie. Maar – elkeen ervaar trauma anders. Ons sien onsself nie meer as victims nie, maar survivors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.