Die planne van twee vermeende dwelmsmokkelaars om heroïen van meer as ’n miljoen rand na Griekeland te smokkel, is in die wiele gery toe die polisiehond Buddy snuf in die neus gekry het.
Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, sê inligting is Dinsdag ontvang oor twee verdagtes wat vroeër die dag by ’n logistieke maatskappy in Johannesburg ’n kwotasie aangevra het om ’n pakkie na Griekeland te stuur.
Polisiebeamptes het die vrou en ’n man aangekeer en Buddy het die dwelms uitgesnuffel. Die pakkie het tien kledingstukke bevat met dwelms wat in bykomstighede versteek is.
Die heroïen wat gevind is, het ’n geskatte straatwaarde van nagenoeg R1,4 miljoen.
Die twee verdagtes is in hegtenis geneem en sal na verwagting eersdaags in die hof verskyn op aanklagte van die besit van dwelms.
In ’n afsonderlike voorval het die polisie toegeslaan op ’n huis in Alexandra wat vermoedelik dwelmhandelaars gehuisves het. Die polisie het ʼn verdagte in hegtenis geneem nadat hy in besit van meer as 69 rolle dagga en meer as 48 pakkies heroïen gevind is.
Die polisie is intussen ook op soek na verdagtes nadat in Yeoville op kokaïen afgekom is. Die verdagtes het die dwelms neergegooi en laat spaander toe hulle die polisiebeamptes gewaar het.
Die Gautengse polisiekommissaris het die onvermoeide pogings van polisielede, wat nou saamwerk met ander wetstoepassingsagentskappe en die gemeenskap, geloof in die stryd om die verspreiding van dwelms te bekamp.
“Lede van die publiek word versoek om aan te hou om waardevolle inligting aan die polisie te verskaf rakende verdagte aktiwiteite en persone.”
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
11 Kommentare
Welgedaan Buddy!
Dwelmsmouse verdien om op ń eiland toegesluit te word. Dwelms krap huishoudings lelik deurmekaar…
Vat so Buddy – ek love dit as honde die dwelms uitsnuffel by die lughawens ook.
Stem saam met Blomme – gooi hulle op ‘n eiland met haaie wat om hulle swem.
Wees nie bekommerd nie. Staat sal nie borgtog teenstaan en die saak so 10jr duur
Give that dog a Bone…!